Plankton manifes beklemtoon kritieke rol van onsigbare organismes


Plankton, mikroskopiese organismes wat al meer as 3,5 miljard jaar bestaan, vorm die basis van lewe op aarde en speel ’n sleutelrol in die stryd teen klimaatsverandering en besoedeling.
Hierdie boodskap is kern tot die Plankton Manifes, wat tydens die Verenigde Nasies se 79ste Algemene Vergadering in New York bekendgestel is.
Wetenskaplikes doen ’n beroep om kundigheid in Afrika op te bou vir die bestudering van plankton-ekosisteme, wat mariene voedselwebbe ondersteun en indirek die lewensbestaan van meer as 12% van die wêreldbevolking verseker. Hierdie ekosisteme word bedreig deur menslike aktiwiteite en klimaatsverandering, met potensieel dramatiese gevolge vir seewese.
Prof. Thulani Makhalanyane van die Universiteit Stellenbosch (US) en dr. Emma Rocke van die Universiteit Kaapstad (UK) is twee van die 30 internasionale kundiges wat die manifes geïnisieer het. Hulle beklemtoon die noodsaaklikheid van meer navorsing oor plankton in die Suid-Atlantiese Oseaan en langs Afrika se kuslyn. Dr. Rocke wys daarop dat plankton, as basis van die mariene voedselketting, noodsaaklik is vir ’n gesonde oseaan-ekosisteem en visserye.
Die Plankton Manifes beveel aan dat meer kennis oor planktonbiodiversiteit ingesamel word deur 'n wêreldwye planktonatlas te skep en om plankton as deel van internasionale gesprekke oor klimaatsverandering en biodiversiteit te integreer.