Prosopis: Wetenskaplikes takel vernietigende indringerbome
Klassieke voorbeeld van ’n goedbedoelde plan wat skeefgeloop het
’n Belangrike nuwe boek oor die ekologie en bestuur van een van die mees vernietigende indringerplante in Afrika – ook in Namibië – is nou aanlyn beskikbaar.Die boek The Ecology and Management of Invasive Prosopis Trees in Eastern Africa, is die uitvloeisel van ’n groot dekade lange navorsingsprojek tussen ses universiteite en ag instellings van Etiopië, Kenia, Tanzanië, Suid-Afrika, Switserland, en die VSA.
Tussen die 1970s en die 1990s het internasionale hulplenigingsorganisasies verskillende Prosopis-spesies, oorspronklik van die Amerikas, op groot skaal aan lande in oostelike Afrika bekendgestel as teenvoeter vir woestynvorming en hul voordele soos hout, veevoer en skadu.
Een van daardie spesies, Prosopis juliflora, het vervolgens in ’n probleemindringer ontaard en word nou beskou as ’n klassieke voorbeeld van ’n goedbedoelde plan wat skeefgeloop het. In 2006 het die skadelike effek van Prosopis-indringing internasionaal opslae gemaak toe gemeenskapslede van Baringo County in Kenia ’n tandlose bok na ’n Nairobiese hof gebring het as bewys van een van die vele negatiewe uitwerkings van Prosopis-peule op hul vee.
Prof. Brian van Wilgen, een van die redakteurs van die boek en emeritus professor in indringerbiologie aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Plant- en Dierkunde, sê tot op hede het hierdie boom nagenoeg tien miljoen hektaar grond (rofweg die grootte van die Noordwes Provinsie) in oostelike Afrika oorgeneem.
“Hoewel hierdie bome aanvanklik aangeplant is om die voordele wat dit toe ingehou het, is hierdie voordele daaropvolgend uitgekanselleer en word dit nou aansienlik oortref deur die negatiewe uitwerkings,” sê hy.
Negatiewe impak
Die negatiewe impak van hierdie “konflik”-spesies is so omvattend dat mense gedwing word om hulle grond te verlaat en ’n nuwe lewe elders te probeer bou. Die bome het die struktuur en funksionering van gemeenskaplike weivelde, landerye, vleilande en beskermende gebiede fundamenteel verander.
Oop savannalandskappe het digbegroeid geword – ondeurdringbare bome met min of geen gras onder hulle nie. In gebiede met digte indringing kan Prosopis-bome ongeveer 50% van die jaarlikse streeksreënval gebruik en sodoende die grondwaterbronne volkome uitput, wat die gevolge van klimaatsverandering vererger.
’n Betekenisvolle bevinding is dat die indringing in oostelike Afrika nog in ’n baie vroeë stadium is. Indien dit egter onbeheerd gelaat word, sal dit waarskynlik uitbrei en uiteindelik driekwart van Kenia se oppervlak, en bykans die helfte van beide Etiopië en Tanzanië se grondgebied bedek.
Die beraamde ekonomiese koste wat so ’n scenario sal teweegbring, kan tot U$375 miljoen per jaar beloop. Kenia is die land wat areagewys die grootste gevaar loop vir toekomstige indringing: byna al die droë en semidroë lande loop die gevaar om ingeneem te word indien die verspreiding nie beheer word nie.
Lastige onkruid
Van Wilgen sê die boek vul ’n groot leemte op die gebied van indringerbiologie, aangesien Afrika-gebaseerde navorsing in ewekniebeoordeelde literatuur feitlik nie bestaan nie.
“’n Oorsig wat in 2008 gedoen is oor indringerbiologie as vakgebied, het vasgestel dat 2 670 navorsingsartikels in ewekniebeoordeelde vaktydskrifte sedert 1980 gepubliseer is, maar dat slegs 3,4 % hiervan uit Afrika was — met driekwart hiervan uit ’n enkele land, Suid-Afrika. Hierdie gebrek aan relevante begrip het erge gevolge vir die bestuur van ’n groot omgewingsprobleem op die Afrika-kontinent,” waarsku hy.
Die outeurs hoop dat die boek hierdie kennisleemte sal vul en die eenstopbron van inligting vir Afrika se beleidmakers en besluitnemers sal word.
Prof. Philip Hulme, uitgelese professor in plantbiosekuriteit in die Department van Plaagbestuur en Bewaring aan die Lincoln Universiteit in Nieu-Seeland, skryf in die voorwoord dat die boek “’n uitstekende oorsig bied van die probleme wat spruit uit verkeerde beleide wat voorkeur aan korttermyn resultate verleen het, bó langer termyn omgewings- en sosiale gevolge.
“Hierdie robuuste bewysbasis wat die negatiewe uitwerkings kwantifiseer, stuur ’n duidelike waarskuwing aan daardie individue, instellings en organisasies wat voortgaan om Prosopis-spesies as waardevolle veeldoelige bome te beskou. Danksy die produktiewe groeikoers en hoë verspreidingsdoeltreffendheid van Prosopis-bome was wydverspreide indringing en die gevolglike agteruitgang van die omgewing en die algehele lewenskwaliteit van mense die uitkoms — beste bedoelings ten spyt.”