Bravo se Marciel Hopkins kuier in Namibië
“Vroue en jong meisies vergelyk hulself met wat op sosiale media as die perfekte vrou uitgebeeld word. Dit kweek ’n swak selfbeeld wat ons onwetend aan ons dogters oordra. Ek het self ’n tienerdogter en hulle is broos en beïnvloedbaar. Wanneer hulle ’n swak selfbeeld het, kan eetsteurnisse en ander probleme begin,” sê Elzaan van Wyk.Elzaan volg vir Marciel Hopkins, die Suid-Afrikaanse aanbieder van Boer soek ’n vrou- en Bravo-faam, ’n motiveringspreker en aktrise, op Instagram. “Ek het een oggend gesien sy bied motiveringspraatjies vir vroue en jong meisies oor selfliefde en liggaamsaanvaarding aan.
“Dit het my dadelik geraak omdat meeste vroue met dié twee kwessies sukkel. Ek het haar gekontak en sy het ingestem om op 16 September ’n praatjie by Droombos in Windhoek aan te bied.”
Marciel het jare gelede Namibië besoek. “In hoërskool het ek al die pad met ’n bus tot in Windhoek gery om vir ’n vriendin in Gobabis te gaan kuier. Ons het op die ou einde 24 uur uit die Kaap gery, maar ons het heerlik gekuier. Ek het ook al vir ’n dag tydens ’n MSC-bootvaart in Walvisbaai afgeklim.”
Sy sien daarna uit om weer na Namibië te kom. “My praatjie is 100% daarop gemik om vroue en jong meisies te bemagtig. As ons selfs nog ’n groter verskil in babas se lewens kan maak met hierdie geleentheid, is dit ’n absolute bonus.”
Nadat die datum vasgemaak is, het Elzaan se gedagtes begin draai.
Sy wou ’n oggend vir ma’s, dogters en vriendinne aanbied. ’n Oggend in ’n tuin met mimosas, ontbyt en goeie geselskap. “’n Oggend vir ’n klomp vroue wat saam kan lag en huil as hulle wil, maar wat mooi kan aantrek en geïnspireer word.”
Elzaan het besef nadat al die kostes gedek is, sal daar dalk geld van die oggend oorbly en sy wil nie die geld hê nie. Sy wil iets goeds daarmee doen en het besluit om dit aan die Ruach Elohim-stigting in Swakopmund te skenk.
“Ruach Elohim is ’n organisasie wat my hart diep raak. Twee mense wat hulle hele lewe opoffer met die grootste liefde vir ‘ongewenste weggooibabas’. Hulle neem daardie kosbare babas in hul huis in en maak hulle groot in ’n huis waar hulle omring is met liefde. Hulle gee vir die klein mensies ’n kans op die lewe. Elke lewe is ’n geskenk en só kosbaar vir God. Ronel en Dick [Peters] bied ’n veilige hawe waar bang en onsekere swanger vrouens nie hul babas hoef weg te gooi nie. Só met die fondse wat deur kaartjieverkope gegenereer word, kan ons ’n verskil maak in die lewens van die babas.
“Die idee van die oggend is dat vroue heerlik saamkuier waar hulle mekaar maar ook hulself kan bewonder en met ander oë kan sien en kan ervaar. Waar hul mekaar en hulself kan ophef en loof,” het Elzaan gesê.
“Selfliefde en liggaamsaanvaarding is ’n doelbewuste besluit wat ’n mens elke dag moet maak. Jy ís goed genoeg – gee net vir jouself die toestemming om dit te glo en leef,” sê Marciel gesê.
Kaartjies is via Quicket teen N$500 beskikbaar, wat 'n mimosa, ontbyt, koffie en tee, 'n geskenkpakkie en fotogeleentheid saam met Marciel insluit.
– [email protected]