Dis Liefde by die Nam!

Goeie musiek. Goeie mense. Goeie gees!
Vier van Namibië se top kunstenaars sluit aan by groot name vir die eerste Liefde by die Nam-fees wat op 9 September in Windhoek plaasvind.
Suid-Afrika se nommer 1 musiekfees – Liefde by die Dam – is vanjaar terug in Johannesburg en Kaapstad en kaartjies vir beide konserte het vanjaar weer blitsvinnig uitverkoop. Nou word hierdie gewilde musiekreeks ook vir die eerste keer in Namibië by WHS se Vegkop Stadion as Liefde by die Nam aangebied.
Die Liefde-konserte is bekend daarvoor dat dit ’n groot verhoog met fantastiese klank en beelde bied. Feesgangers kan uitsien na optredes deur van die mees bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Die Heuwels Fantasies, Francois van Coke, Appel, Bobby van Jaarsveld, Tasché, Early B, Snotkop, Robbie Wessels, Riana Nel, Barto en Justin Vega.
Daarmee saam gaan vier van Namibië se top kunstenaars – Pierre Pienaar, Sagarias Tsam, Riaan Smit en Lin-Mari – deel wees van die Liefde by die Nam program.
Top kunstenaars
Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties en ook een van die hooforganiseerders sê dat dit net reg voel om ook van die plaaslike kunstenaars te kon insluit. “Die ouens van Spoegwolf het vir my Sagarias Tsam se liedjies gespeel en ek is nou ’n groot fan. Riaan Smit is ’n uitstekende kunstenaar en ons kennisse en vriende in Windhoek het gevra dat ons vir Lin-Mari moet oorweeg. Sy is ongelooflik gewild. Ons is ook baie opgewonde dat die befaamde DJ Pierre Pienaar tussen vertonings op die verhoog gaan wees om seker te maak die partytjie hou nooit op nie.”
Lin-Mari is bekend vir haar oorwinning as Voice of Namibia in 2021 en musiek wat sy sedertdien vrygestel het. Sy sê: “Ek is baie opgewonde om deel te wees van ’n fees van sy skaal en eerste in sy soort vir Namibië. Baie van my gunsteling kunstenaars kom, so ek kan nie wag om stories te deel en van hulle musiek te hoor nie. Dit gaan iets wonderliks wees en iets wat ek sterk voel niemand moet mis nie. Ek voel geëerd on deel te kan wees van die en sien baie uit na 'n dag van musiek en pret.”
Riaan Smit het in Suid-Afrika bekendheid verwerf met die dinamiese groep Crimson House en hy volg tans ’n solo loopbaan in sy geboorteland Namibië.
“Liefde by die Dam is groot in SA. Dit is ongelooflike goeie nuus dat hierdie enorme konsert nou ook hier by ons aangebied gaan word. Namibiërs gaan die kans kry om van die beste Afrikaanse sangers op die verhoog te sien. Daar gaan lekker verrassings wees, en baie pret,” sê Riaan.
Sagarias Tsam sê dat hy eens ’n droom gehad van hoe hy eendag ’n groot groep wonderlike sangers ontmoet. “En nou, onverwags gebeur dit! Ek voel so bly dat ek die kans kry om die verhoog met hierdie kunstenaars te deel. Ek sien veral baie uit om spesifiek vir Pierre Greeff, Francois van Coke en Early B te ontmoet.”
Pierre Pienaar is een van die mees gewildste DJ’s uit Afrika. Sy stelle is al deur miljoene mense gehoor en van sy musiek is gelisensieër vir internasionale musiekkompilasies deur onder andere Ministry of Sound, Sony, Universal, Armada en ander.
Opgewonde
Greeff sê: “Ons is baie opgewonde om vanjaar die eerste Liefde by die Nam na fans in Namibië te bring. Ons maak gereed om vir ons feesgangers ’n ervaring uit te boonste rakke te bied. Spring gou om seker te maak dat jy kaartjies kry. Soos ook hier in SA in Johannesburg en Kaapstad, gaan ons super groot!”
Meer inligting en kaartjies is by http://www.liefdebydiedam.co.za beskikbaar Lof besoek facebook.com/LiefdeByDieDam
Kaartjies kos N$295 (algemeen), N$2500 vir VIP (vinnige ingang, toegang tot VIP area en sitplekke met area se eie kroeg en toilette; N$495 VIP kinders; N$150 vir kinders 4 tot 12 jaar; en gratis vir kinders onder 4 jaar.