Dorslandtrek-afstammelinge trek weer saam

Elke vyf jaar maak hulle so. Dan is dit Dorslandtrek Gedenkfees tyd. Vanjaar vind dit van 25 tot 27 Augustus te Xain Quaz Kampeerterrein naby Gobabis plaas.
“Daarmee gee dit persone, wat nie kans sien vir die lang pad na die Kunene toe nie, geleentheid om die Gedenkfees by te woon,” sê die sameroeper Dr Callie Opperman.
Hy sê voorts die samestelling van so ’n fees het telkens dieselfde resep. “Dit is ’n geleentheid om terug te dink aan die gemeenskaplike geskiedenis van ontwrigting deur die Dorsland toe verskeie trekke van Afrikaners uit die ou Transvaal deur die huidige Botswana en die Noorde van Namibië na ’n ander heenkome gesoek het (1874-1905).”
Talle mense het gesterf vanweë dors en die “koors”.
Uiteindelik het ’n groep hulle in Angola gevestig (1881). Na vyftig jaar was dit weer tyd vir trek weens verskeie redes. In 1928-29 het ongeveer 2 500 persone uit Angola na die destydse Suidwes-Afrika verhuis en kon plase koop in die Outjo, Gobabis en Aranos omgewing.
“Dan is daar tydens die Gedenkfees tyd vir kuier – byna ’n reünie van vriende en familie. Lang stories word gesels. Ook boeresport, braai en kampvuurkonsert gee gees aan die fees,” sê Opperman.
“Maar terugkyk gee ook geleentheid vir vorentoe kyk. In die lig van wat ons voorsate die afgelope 95 jaar in Namibië opgebou het, word besin oor wat ons roeping in hierdie kosbare land is. Ons taal en kultuur, gebou op die fondamente van ʼn gemeenskaplike Christelike geloof, gee genoeg energie om die toekoms met hoop tegemoet te gaan.”
Belangstellendes in die Gedenkfees kan met Maryn Swart ([email protected]) kontak maak om te registreer.
Vanjaar sal daar weer ’n 4x4 toer op die spore van die Dorslandtrekkers wees onder leiding van die kenner Faan van der Merwe. Dit begin naby Rietfontein (Gobabis distrik) en duur vanaf 27 Augustus tot 10 September. Belangstellendes kan hom saans by 081 201 3199 kontak.