Koop nou kaartjies vir Liefde by die Nam

Liefde by die Dam – een van die buurland se gewildste opelug musiekfeeste - word nou ook vir die eerste keer in Namibië aangebied.
Dié gewilde fees is bekend vir groot skares voor groot verhoë met ’n reeks kunstenaars wat die top Afrikaanse pop en alternatiewe klanke musiek-landskap verteenwoordig.
Liefde by die Nam vind op Saterdag 9 September by WHS se Vegkop Stadium plaas, met feesgangers wat kan uitsien na musiek wat deur die verloop van die dag aangebied word deur van SA se voorste kunstenaars soos Die Heuwels Fantasies, Francois van Coke, Appel, Bobby van Jaarsveld, Tasché, Early B, Snotkop, Robbie Wessels, Riana Nel, Barto, Justin Vega, en vier van Namibië se top kunstenaar Sagarias Tsam, Lin-Mari, Riaan Smit en DJ Pierre Pienaar.
Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties en ook een van die hooforganiseerders van die Liefde-konsertreeks sê dat Die Heuwels vanaf 2009 gereeld in Namibië optree. “Ons het deur die jare baie vriende hier gemaak en vind dat daar ’n lekker samesyn en groot waardering vir musiek is.
‘Baie trots’
“Ons het daaroor begin gesels om Liefde by die Dam moontlik in Windhoek te kan aanbied en ons is baie trots daarop dat dit nou sy eie gestalte as Liefde by die Nam kry. Vegkop is een van die mees ikoniese stadiums in die land en WHS een van die mees gesogte skole. Almal in Namibië ken iemand wat moontlik daar op skool was.”
Early B is een van die kunstenaars wat gereeld op die Liefde by die Dam verhoog is, en vanjaar is hy by al drie die konserte te sien. “Dis altyd ’n eer om selfs by een op te tree, maar om hierdie keer dit te ervaar in al die verskillende stede en veral ook in Namibië, is nogal groot vir my hoor!” sê hy.
Francois van Coke sê dat hy ook baie daarna uitsien om by Liefde-konsert in Windhoek op te tree: “Liefde by die Dam kry altyd die line-up reg. Daar is altyd iets nuuts; altyd iets oud. Altyd iets aan die pop kant en altyd iets aan die alternatiewe kant, so ek dink dis ’n goeie mengsel van wat op die oomblik aan die gang is in Afrikaans. Ek dink die Liefde-span vat dit altyd reg vas vir die spesifieke jare. En die fees gaan oor die liefde en dis ’n lekker tema.”
Een van Namibiese sterre Sagarias Tsam sê dat hy baie opgewonde is om deel te wees van die heel eerste Liefde by die Nam. “Ek sien baie uit om my liedjies in my moedertaal met die gehoor te deel en ek dink ek gaan sommer ook spesiaal ’n nuwe liedjie skryf om vir die eerste keer hier te speel.”
Vir meer inligting en kaartjies, besoek http://www.liefdebydiedam.co.za
Gewone kaartjies kos N$295 vir volwassenes en N$150 vir kinders tussen 4 en 12, terwyl VIP-kaartjies N$2 500 vir volwassenes en N$495 vir kinders tussen 4 en 12 kos. Hierdie kaartjies gee jou vinnige ingang, toegang tot die VIP area en sitplekke met ’n eie kroeg en toilette.