’n Blik op die wêreld

Wat is die geostrategiese realiteite wat tans die wêreld in die gesig staar en waar pas Namibië in hierdie prentjie?
Professor Abel Esterhuyse kom gesels in Augustus op uitnodiging van Netwerk in Windhoek oor die tema “Kontemporêre geostragiese realiteite: ʼn Perspektief op die wêreld in sy geheel”.
Die aanbieding steun op prof. Colin S. Gray se idee van die sewe dimensies van strategie. Aan die een kant is die fokus op kontemporêre konflik, met spesifieke verwysing na wat in Sentraal-Europa, die Midde-Ooste en Afrika ontvou. Aan die ander kant poog die bespreking om die rol van die groot moondhede in die huidige geostrategiese omgewing onder die soeklig te plaas; en hoe dit ons aan die suidelike deel van Afrika gaan raak. Die gesprek sluit af deur kortliks Namibië vanuit ’n geostrategiese perspektief te belig.
Esterhuyse is verbonde aan die departement strategiese studies in die fakulteit krygskunde van die Universiteit Stellenbosch (US) by die Suid-Afrikaanse Militêre Akademie.
Met ’n PhD wat hy aan die US verwerf het, is hy ook ’n gegradueerde van die Senior Leierskapsprogram van die Afrika-sentrum vir Strategiese Studies in Washington D.C., die program in Krygsgeskiedenis by die Amerikaanse Militêre Akademie, West Point, asook die Program in die Ontleding van Militêre Operasies en Strategie (Swamos) van die Columbia Universiteit se Saltzman Institute of War and Peace Studies in New York.
Voor hy die akademiese wêreld betree het, het Esterhuyse as offisier in die Suid-Afrikaanse Weermag gedien. Hy is ’n gegradeerde wetenskaplike van die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting met Suid-Afrikaanse veiligheid en verdediging, militêre en strategiese teorie, en kontemporêre konflik as spesialisvelde.
Sy mees onlangse publikasie is ’n hoofstuk met die titel “African Armed Forces and the Need for Security: Making Sense of Realities” wat as deel van ’n boek verskyn het.
Die bespreking vind op 21 Augustus by Arebbusch Travel Lodge plaas en besprekings kan gedoen word deur ’n epos na [email protected] te stuur.
Die koste is N$280 per persoon (ontbyt ingesluit) of N$2 800 vir ʼn tafel van 10 persone.