Reho gereed vir hope pret

Iréne-Mari van der Walt
Die Rehoboth-gemeenskap sal vanaf vandag tot Saterdag saamtrek vir die sesde jaarlikse Rehoboth Ekspo.
Volgens die organiseerder Dinah Strauss, skop die fees vandag met ’n kleinveeskou af, met hope pret wat vir die naweek beplan word soos ’n fietswedren, vlugbaltoernooi, perderesies en die soektog na Rehoboth se Goliat-pampoen.
“Die aanvanklike gedagte is vir Rehoboth se mense om bymekaar te kom. Ons samel ook geld in vir beurse wat ons uitdeel en vir hulp aan bejaardes,” sê sy.
Die Rehoboth Community Trust ontvang die geld wat ingesamel word en die trust word daardeur bemagtig om terug in die plaaslike gemeenskap te ploeg.
Oor die jare is bykans N$500 000 in die gemeenskap belê met onder meer skenkings aan kwesbare mense en die Rehoboth-dorpsraad.
Vanjaar se ekspo spog vir die eerste keer met ’n fietswedren en naaldwerkkursus. Strauss sê ongeveer 100 individue het hul belangstelling in die naaldwerkkursus te kenne gegee. Lekkernye soos gemmerbier en afval is ook op die ekspo se spyskaart.
“Die gemeenskap kom altyd saam om lekker onder die kameeldoringbome langs die oewer van die rivier te kuier,” het sy afgesluit. – [email protected]