Windhoek Woordfees ­woeker weer met woorde

Henriette Lamprecht
Van Frank Opperman, Elzabé Zietsman en Lizz Meiring tot kore en ’n jeugorkes is op die spyskaart van Windhoek Woordfees 2024 wat gister amptelik in die hoofstad bekend gestel is.
FNB Namibia en Republikein wat reeds sedert die ontstaan van die fees hande vat om Afrikaans te vier, skop vanjaar se program af met ’n koorfees op 21 Julie by Windhoek Hoërskool (WHS). Van die kore wat gaan deelneem, sluit in die Collective Choir, Windhoek Children’s Voices, asook kore van Windhoek Afrikaanse Privaatskool, Windhoek Gymnasium, St. George’s, die Universiteit van Namibië (Unam), sowel as die Youth Orchestras of Namibia (YONA).
Volgende aan die beurt is die bekroonde akteur Frank Opperman met Reünie in Windhoek (Droombos) en Swakopmund (MTC Dome). Reünie kom uit die skrywerspen van Dana Snyman en gaan basies oor “’n klomp mense vir wie jy darem een keer in jou lewe iets moet sê wat jou gepla het”.
“Wat gaan jy sê as jy die geleentheid kry, as jy met jou matriekmaats kan praat? Dis verfrissend maar ook hartseer om ná 44 jaar uiteindelik jou spreekbeurt te kry – en dit op ’n skoolreünie,” sê Frank.
Kaartjies vir die Koorfees en Reünie open vandag.
Elizma Theron, die voorsitter van die Windhoek Woordfees, het hulde aan medestigter Ronelle Rademeyer gebring wat saam met dr. Chrisna Beuke-Muir die fees in 2013 op die been gebring het wat sinoniem geword het met vermaak en kultuurvieringe uit die boonste rakke.
Volgens Elizma word kleiner, plaaslike produksies ook beplan, asook verskeie ander idees wat ondersoek word.
Revonia Job, FirstRand Namibia se bestuurder vir korporatiewe maatskaplike belegging, het op haar beurt gesê een van die doelwitte en pilare van die FirstRand Namibia Foundation is spesifiek gefokus op kuns en kultuur in Namibië.
“Kuns en kultuur gee nie net ’n gevoel van identiteit nie, maar inspireer ons om oor ’n beter toekoms te droom. Om die kunste te ondersteun, beteken om die siel van ons gemeenskap te koester.
“Danksy die FNB Windhoek Woordfees het ons die unieke geleentheid om getuies te wees van die ongelooflike talente van ons plaaslike kunstenaars saam met die uiteenlopende perspektiewe van internasionale kunstenaars.”
Getroue vennote van die fees sluit ook Auas Motors, Droombos, The Windhoek Luxury Suites, Atlantic Villa Boutique Guesthouse, MTC Dome, Jaylo Productions en Netwerk Namibië in. – [email protected]