Ikoon eersdaags op die planke

Henriette Lamprecht
Elzabè Zietsman is ’n ikoon in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf en daar is geen genre waarin sy nie haar majestueuse en luisterryke debuut gemaak het nie.
Sy is op toer in Namibië saam met Routrip vanaf 11 tot 19 September voor sy op 20 September in Femme is Fatale in Windhoek verskyn as deel van die FNB Windhoek Woordfees.
Routrip
Ná ’n mislukte selfdoodpoging en drie weke in ’n psigiatriese kliniek, pak Helena haar karretjie met een tas klere en bokse vol familie-items wat sy haar lewe lank versamel – van ’n lappieskombers tot –’n alsiende glasoog. Met niks om te verloor nie, begin haar tragikomiese reis deur die land om haar ver-sameling uit te deel en finaal van mense afskeid te neem.
Gewapen met humor, ignoreer sy die wanhoop en leef sy vreesloos, vry en, op die oog af, sorgeloos. Routrip is gebaseer op ’n ware verhaal en is genomineer vir ’n Woordtrofee vir Beste Optrede in ’n Solovertoning by die Toyota US Woordfees 2023.
Femme is Fatale
Marna voel soos ’n pruimedant nadat haar man van 30 jaar haar gelos het vir ’n bloeisel, en beplan om vir haar dogters in Australië te gaan kuier.
Lian weet van kleins af sy is in die verkeerde lyf en spaar elke sent vir hormoonterapie. Khanyi maak huise skoon en droom daarvan om skoonheids- terapie te studeer. Kan hulle drome verwesenlik word?
Ons hoor van geslagsgebaseerde geweld, maar niemand luister nie. In hierdie kragtige stuk ondersoek Elzabé met sang en stories hierdie ander epidemie wat dreig om die kern van die Suid-Afikaanse en ook Namibiese gemeenskap te vernietig.
Femme is Fatale is benoem vir ’n 2023 Fiësta-prys vir Beste musiekgedrewe produksie. Hierdie produksie word net in Windhoek op die planke gebring. – [email protected]