Demensiesentrum op Hentiesbaai ingewy

Adam Hartman
Die Hentiesbaai Lionsklub het in Maart amptelik sy moderne demensiesentrum ingewy.
Die sentrum is Huis O’Linn gedoop en is vernoem na Miemie O’Linn, die eggenote van wyle hooggeregshofregter Brian O’ Linn, nadat sy ’n ruim skenking van N$1,2 miljoen vir die voltooiing van die sentrum gemaak het.
Hentiesbaai Lionsklub se Gert Grobler het gesê bouwerk aan die sentrum het in Desember 2019 begin, maar die geld het “opgedroog” en die klub moes verskeie projekte loods om sowat N$1 miljoen in te samel om die projek teen ’n koste van N3 miljoen te kon voltooi.
O’Linn se skenking is onlangs ontvang en dit het die Lions in ’n posisie geplaas om die sentrum te voltooi.
“Hierdie sentrum is die droom van die Hentiesbaai Lionsklub. Daar is ’n ernstige behoefte om na mense om te sien wat met demensie in sy verskillende vorme leef, en nou sal ons dit kan verskaf,” het Grobler gesê.
Afrondingswerk moet egter nog voltooi word voordat pasiënte ontvang kan word. Na verwagtinge sal dit in Mei geskied. Grobler het gesê die sentrum sal aan die Lions se verswaktesorgafdeling oorhandig word om spesiale sorg te bied aan mense wat met demensie leef.
Benewens die nuwe demensiesentrum het die klub ook die Nurses on Wheels-ondersteuning vir bejaardes begin; ’n moderne verswaktesorgsentrum en verskeie voedselskenkingsprojekte van stapel gestuur.
Sowat 14 mense sal na verwagting in diens geneem word, wat tien demensieversorgers sal insluit sowel as ondersteuningspersoneel soos ’n bestuurder en ook kombuis-, wassery- en skoonmaakpersoneel. Die ruim binnekant is in ’n eet- en leefarea verdeel, omring deur ’n dosyn kamers vir die 12 demensiepasiënte wat daar geakkommodeer sal word. Die kamers het ’n duidelike uitsig oor die binnekant en elkeen het sy eie badkamer. Kamers is ook toegerus met glasskuifdeure en CCTV om te verseker die pasiënte altyd waargeneem kan word vir onmiddellike ondersteuning en reaksie.