Agt duisend hepatitisgevalle in Namibië aangemeld

Ellanie Smit
Tydens die vier jaar lange uitbreking van hepatis E in Namibië, wat in Februarie tot ’n einde gekom het, is meer as 8 000 gevalle aangemeld en 66 mense het hul lewens verloor.
Adjunkminister van gesondheid, Esther Muinjangue, het hierdie stelling gemaak by ’n gemeenskapsopruimingsgeleentheid en die herdenking van Wêreldhepatitisdag wat gehou is om die hoofoorsaak van hepatis E aan te spreek.
Hepatitis is die ontsteking van die lewer. “Daar is vyf hooftipes van die hepatitisvirus – A, B, C, D en E. Hepatitis B en C lei tot chroniese siekte by honderde miljoene mense wêreldwyd, en saam is dit die mees algemene oorsaak van lewersirrose, lewerkanker en virale hepatitis-verwante sterftes.”
Sy het bygevoeg dat die hepatis E-uitbreking in Namibië 13 van die 14 streke geraak het, hoofsaaklik in informele nedersettings en gebiede met swak higiëne en sanitasie.
“Altesame 8 092 hepatitis E-gevalle is op 30 Januarie nasionaal aangemeld, waarvan 2 124 (26,2%) laboratoriumbevestig is, 4 738 (58,6%) gevalle epidemiologies gekoppel is en 1 230 (15,2%) vermoedelike gevalle was.”
Volgens haar is altesaam 66 sterftes nasionaal aangemeld, met ’n gevallesterftesyfer van 0,8%.
Onder die 66 sterftes, was 27 moedersterftes, wat 41% van die totaal verteenwoordig en 6.2% van al die gerapporteerde moederlike hepatitis E-virusgevalle.
“Dit is opmerklik dat die hoeveelheid hepatitis E-gevalle steeds afneem ná die verklaring van die einde van die uitbreking. Ten spyte van hierdie prestasie, kan ons nie ons openbare gesondheidsmaatreëls in die steek laat nie, aangesien die risiko om hepatitis E te kry steeds onder ons is,” het Muinjangue gesê.