Alle gesondheidsorg deur 8% betaal
Universele gesondheidsdekking 'bestaan reeds'
Die beheerbare probleem in die private gesondheidsorgsektor is nie die koste van gesondheidsorgdienste nie, maar die gebrek aan werksgeleenthede en ekonomiese groei .
Universele gesondheidsdekking (UHC) waartoe Namibië verbind is, is nie ’n wonderkuur nie en eerder ’n gevaarlike politieke speletjie wat Namibië se pogings om gesondheidsorg en menslike ontwikkeling in die algemeen te verbeter, ernstige skade berokken. By blote definisie van UHC het elke Namibiër reeds universele gesondheidsorg deur middel van die huidige openbare gesondheidstelsel. Die feit dat staatsgeriewe in ’n swak toestand is, swak bestuur en beman word en standaarde in die algemeen swak is, neem nie weg van die feit dat die UHC-stelsel reeds bestaan nie, maan die Nambiese Private Praktisynsforum (NPPF).Die werklikheid is dat 8% van die Namibiese bevolking bydra tot private mediese fondse (oop en geslote). Dieselfde mense wat vir hulle eie private mediese fonds betaal, betaal ook die belasting wat gebruik word om beide die staat se mediese fonds (Psemas) en openbare gesondheidsorg te finansier. Daarom kan geen nuwe stelsel die feit verander dat net 8% van Namibiërs bydra tot die gesondheidsorg van alle Namibiërs nie.
“Alle gesondheidsorg in Namibië word dus deur 8% van ons bevolking betaal,” het Eben de Klerk van die NPPF gesê in reaksie op bevindinge van ’n ondersoek deur die Namibiese Mededingingskommissie (NaCC) oor private gesondheidsorg in die land. “A study into the Namibian Private Healthcare Sector” deur dr. Petrus Mhata volg ná verskeie klagtes oor niemededingende praktyke asook die stygende koste van gesondheidsorgdienste in die sektor. Met verwysing na UHC sê De Klerk die beste scenario - wat steeds uiters ongewens is - is dat standaarde en finansiering vir die private gesondheidsorgbedryf verlaag word in ’n poging om die finansiering en standaarde te lig wat in die staat beskikbaar is. Dit sal volgens hom die wêreldklasgeriewe, beroepslui en standaarde verminder wat die private sektore oor verskeie dekades kon vestig en in die algemeen Namibië se kapasiteit vir gesondheidsorg verminder.
“Onder staatsbeheer sal daar geen gelyke verrekening tussen openbare en private gesondheidsorg wees nie. Private gesondheidsorg sal beduidend meer daal as die voordeel wat in staatsorg behaal is.”
Volgens De Klerk is die beheerbare probleem in die sektor nie die koste van gesondheidsorgdienste (bv. professionele fooie) nie, maar die gebrek aan werksgeleenthede en ekonomiese groei as gevolg van die regering se ekonomiese beleidsrigtings. As laasgenoemde nie verander nie, gaan die probleem met finansiering vir gesondheidsorg in die algemeen nie verander nie. ’n Debat oor die een moenie die ander een uitsluit nie, het hy gemaan.
Stygende koste word volgens hom grootliks aangevuur deur eksterne magte wat onder meer die koste van die aankoop van medisyne, materiaal en toerusting uit die buiteland insluit, sowel as staatsbeheerde gebruikskoste wat aanhoudend vinniger styg as die gemiddelde inflasie.
Hy verwys ook na verskeie verkeerde somme en data in Mhata se voorlegging.
’n Voorbeeld is die gemiddelde bedrag wat in 2005 per persoon op mediese voorbeelde bestee is (N$5 395) en wat met 298% tot N$21 449 in 2021 gestyg het. Met lede van mediese fondse wat tydens die dieselfde tydperk relatief dieselfde asook tot die toename in die gemiddelde wat bestee is, gebly het, sou dit beteken die gemiddelde jaarlikse verhoging is sowat 9% vanaf 2005 tot 2021. Sonder om enige ander faktore in berekening te bring, sê De Klerk dit sou beteken die Vereniging van Namibiese Mediese Fondse (Namaf) en mediese fondse het tariewe gebruik wat jaarliks met 9% gestyg het.
“Dit is objektief nie waar nie, omdat Namaf nooit so ’n hoë jaar-op-jaar-tariefverhoging in die tydperk toegepas het nie. Daarom is daar duidelik ander faktore betrokke, soos ’n wyer reeks en kwaliteit van dienste en geriewe wat beduidend sedert 2005 gestyg het.”
Dit is ’n goeie ding vir Namibië, beklemtoon hy, want dit beteken gesondheidsorg word op die boonste vlak verbeter. De Klerk verwys ook na ’n stelling dat administrasiefooie nie ’n probleem is nie, maar eerder doktersfooie, oorgebruik, medikasie ens. - wat volgens die NaCC ’n “groot probleem” is. Dit is egter “feitelik verkeerd” en hou ’n gevaarlike risiko in - sou dit gebruik word in besluitneming oor beleidsrigtings in die toekoms.
Die NPPF doen ’n beroep op die NaCC om “baie deeglike evaluerings” te doen voordat enige besluite oor beleidsrigtings geneem word.
“Ons kan nie bekostig om ’n kans te waag met die gesondheidsorgbedryf in ons land nie. Baie lande het probeer en misluk. Suid-Afrika is die jongste en alle onafhanklike professionele raadgewers voorspel ’n grootskaalse ramp sou die land se nuwe staatsbeheerde globale finansieringsmodel in werking gestel word.” – [email protected]