Mediese studente span tegnologie in om tekort aan oorgaanskenkers te oorbrug

Media vrystelling
’n Groep tegnologies-vaardige mediese studente van die Universiteit Stellenbosch (US) het die mag van algoritmes en kunsmatige intelligensie (KI) ingespan om broodnodige bewustheid van orgaanskenking in Suid-Afrika te kweek.
Die Save7-inisiatief is ’n organisasie sonder winsbejag wat deur studente gestig is om die boodskap uit te dra dat elke persoon die potensiaal het om sewe lewens te red deur hul niere, hart en longe te skenk wanneer hulle sterf.
Jonty Wright (20), ’n derdejaarstudent, het Save7 gestig nadat hy pasiënte in die hospitaal ontmoet het wat desperaat op organe gewag het. “Daar was niks meer wat dokters vir hulle kon doen nie en hulle het letterlik gewag om te sterf. Iets daaromtrent het vreeslik verkeerd gevoel en ek het geweet ons moet iets doen,” het Wright gesê.
Hy het hom tot tegnologie gewend. Eers het hy ’n webwerf geskep om bewusmaking te verhoog en toe het hy homself geleer om ’n KI-kletsbot te programmeer om vrae oor orgaanskenking te beantwoord. "Dink daaraan as ChatGPT, behalwe dat dit ’n kenner op die gebied van orgaanskenking is," het hy oor sy uitvinding gesê.
Wright se ouers is grafiese ontwerpers en het gehelp om die Save7-handelsmerk aanloklik te maak met waagmoedige ontwerpe en ’n gesprekstyl wat by ’n jong, digital-vaardige gehoor aanklank sal vind. “Veral die jonger geslag weet nie genoeg van orgaanskenking nie,” het Wright verduidelik. “Ons moes hierdie moeilike onderwerp eenvoudiger maak om die publiek te betrek, daarom fokus ons narratief meer op ‘vermenigvuldiging van lewe’ in die hede, as om oor die dood in die toekoms te dink.”
Benewens die verskaffing van inligting en die beantwoording van vrae, het Save7 ook ’n vennootskap met die Orgaanskenkerstigting van Suid-Afrika aangegaan om gebruikers in staat te stel om binne minder as ’n minuut as skenkers te registreer. “Jy kan Save7.org gebruik om aan te sluit en ’n persoonlike boodskap vir jou naasbestaandes te los, wat saam met jou handtekening ’n wetlik erkende testament skep wat betref jou onderneming om jou organe te skenk. Die hele proses duur minder as ’n minuut en is absoluut gratis. Dis ’n eerste in Suid-Afrika!”
Die Save7-span het dit ook vir gebruikers maklik gemaak om hul vriende en gesinslede aan te moedig om as skenkers te registreer en dieselfde gesprekke met hul gesin te voer deur ʼn WhatsApp API (toepasingsprogramkoppelvlak) te gebruik. Soos Wright dit gestel het: “Deur aan te sluit kan jy sewe lewens red, maar deur jou netwerk aan te moedig om jou voorbeeld te volg kan jy eksponensieel meer lewens red.”
’n Miljoen lewens
Hulle is tans besig met ’n veldtog wat ten doel het om meer as ’n miljoen Suid-Afrikaners teen einde Augustus, wat internasionaal as Orgaanskenkermaand erken word, te bereik.
Maar hul pogings is nie tot groter bewusmaking beperk nie. Sedert sy ontstaan het Save7 naverwerkingsdatastelsels ontwikkel wat die komplekse administratiewe prosesse vereenvoudig wat by oorplantingverwysings en pasiëntondersteuningsgroepe betrokke is.
“Soos wat jy dieper in die orgaanskenkingsekosisteem in Suid-Afrika delf, ontdek jy baie krake waardeur potensiële skenkers kan val, soos ondoeltreffende verwysingstelsels, ’n tekort aan gesentraliseerde databasisse en swak pasiëntondersteuning, om net ’n paar te noem.”
Save7 het met VulaMobile saamgespan om ’n gebruikersvriendelike verwysingsportaal te skep vir dokters om potensiële skenkers na oorplantingseenhede te verwys. “Die punt is om hierdie verwysing so maklik as moontlik vir gesondheidswerkers te maak. Dit is werklik ʼn tragedie wanneer gewillige skenkers met gesonde organe verlore gaan omdat die huidige verwysingsproses ongerieflik vir dokters is.”
Die Save7-span het ook die eerste nierpasiënt-ondersteuningsgroep by die Tygerberg-hospitaal gevesstig, wat tans met 50 lede spog. “Dit is maklik om in die oplossing van die groot probleme vasgevang te raak en van die mense voor ons te vergeet. Ons doelwit met die ondersteuningsgroepe is nie net om ʼn broodnodige gemeenskap vir ons pasiënte te verskaf nie, maar om ʼn raamwerk te skep wat ander openbare hospitale kan gebruik om na te volg,” sê Naazim Nagdee, Save7 se Vise-president.
Hul doel is om ʼn stelsel te skep wat maklik deur ander studente, dokters en oorplantingskoördineerders wêreldwyd nagevolg en geïmplementeer kan word. “Ons streef ’n oplossing na wat onmiddellik en maklik toepasbaar is,” het Sachen Naidu, Save7 se tesourier, gesê. Hierdie doelwit verg dat hulle hul vordering noukeurig dokumenteer, asook doeltreffende strategieë en tekortkominge ontleed. Hulle beoog om strukturele en organisatoriese prototipes te verskaf wat toekomstige orgaanskenkingsinisiatiewe reg oor die vasteland kan help.