‘Ons knap op’ belowe Shangula oor vervalle hospitaal

Jemima Beukes
Die ministerie van gesondheid het gister geskarrel om te wys dat dit opeenhoping en die vervalle toestand van die Katutura-hospitaal aanspreek. Die realiteit bewys egter die teendeel, met van die moderne Covid-19-sale wat leeg staan, terwyl pasiënte gedwing word om in vervalle sale te slaap waar muise en rotte amok saai.
Die minister van gesondheid, dr Kalumbi Shangula, het in 2020 belowe dat opknappings “binnekort” sou begin, maar bouwerk aan die hospitaal se ongevalle-afdeling het eers twee maande gelede begin en sal na verwagting in Oktober voltooi wees.
Dié werk is deel van “Projek 9682 – You are more than a number”, ’n samewerking tussen Standard Bank Namibië en die Motorvoertuigongelukfonds om die hospitaal se noodeenheid op te gradeer.
Die minister kon gister nie besonderhede deel oor of die regering befondsing vir hierdie projek bewillig het nie, maar het bygevoeg dat dit “’n ou projek” is wat reeds ’n geruime tyd in die pyplyn is.
Met die uitsondering van opknappingswerk in die ongevalle-afdeling, was geen ander konstruksie gister op die hospitaal se perseel aan die gang nie – dit ondanks beide die minister en die hospitaalbestuur wat aangedring het dat “opknappingswerk aan die gang is”.
Minister verduidelik
Die minister het ook geen verduideliking gegee vir die feit dat pasiënte gedwing word om langs verbrokkelende mure te slaap nie en het eerder die vertraging aan opknappingswerk op die uitbreking van Covid-19 geblameer. Hy het bygevoeg dat dit moeilik is om ’n hospitaal onder sulke omstandighede op te knap omdat daar nêrens is waarheen pasiënte geskuif kan terwyl opknappings aan die gang is nie.
“Die ministerie van gesondheid bestaan nie net uit die Katutura-hospitaal nie. Daar word baie werk gedoen by Windhoek Sentraal, Katima Mulilo, Gobabis, Rundu en Keetmanshoop. Ek steur my nie aan wat mense sê nie. Politici probeer dit vir gewildheid gebruik, maar ek fokus op die werk. Dit is ’n vrye land, jy kan enigiets sê wat jy wil sê, maar feite spreek vanself,” het Shangula gesê.
Hy het ook die skuld vir die hospitaal se rotbesmetting op pasiënte gepak wat oorskietkos by hulle hou, en bygevoeg dat uitroking ’n gesondheidsgevaar inhou.
‘Ons doen wat ons kan’
Intussen het die superintendent van die Katutura-hospitaal, dr Nelago Amugulu, gesê vir die laaste paar jaar is opknappings wel by die hospitaal gedoen, maar op ’n stuk-stuk basis, wat nie volhoubaar is nie en ook uiters duur is.
“Jy kan nie die hele gebou op een slag opknap nie; dit kan net stuk-stuk of saal vir saal gedoen word. Die hospitaal kan nie gesluit word vir opknappings nie.
“Ons doen wat ons kan met die befondsing wat toegeken is. Maar werk is aan die gang. As jy kyk na die blote grootte van hierdie hospitaal, die blote [aantal] mense wat opgeneem is; ons het nou ongevalle-pasiënte na die Groot Kamer gebring, wat as ’n opnamekamer dien, maar selfs hier is dit oorvol en ons moet iets aan die ventilasie doen,” het sy aan die minister gesê.
Sy het bygevoeg dat hulle voortdurend berook om die knaagdierbesmetting aan te spreek, maar pype- en riooluitdagings maak dit moeilik om in stand te hou.
Dekongestie
Die Katutura-hospitaal huisves elke dag ’n gemiddeld van 1 000 pasiënte, en om dekongestie in die hoofgebou te bewerkstellig, het die bestuur die ou laboratoriumadministrasiegebou in ’n eenheid met 96 beddens omskep.
“Ons het die boonste verdieping in ’n pediatriese eenheid omskep en het sedertdien die helfte van babas wat op die agtste verdieping van die hospitaal opgeneem is, verwyder. Ons het ook die ander Covid-eenheid naby die kraamsaal herbeskik om ’n uitbreiding van die kraamsaal te word.
“Die situasie in die hospitaal is sleg. In sommige kamers is die kapasiteit net vir vier mense, maar ons word gedwing om tot tien mense in ’n kamer in te druk,” het sy gesê.
Toe hierdie publikasie by die hospitaal kom, was net ’n handjievol mense in die eenheid gesien rondloop, met verskeie beddens wat leeg gestaan het.
Nog ’n moderne Covid-19-eenheid agter die hospitaal is gesluit en onbewoon gevind, terwyl pasiënte vir beddens in die hoofhospitaal geskarrel het.