Opknappings begin by Katutura kraamsaal

Ellanie Smit
Die Rob Youth Foundation (RYF) en die Namibiese Instituut vir Mynbou en Tegnologie (NIMT) het onlangs begin met opknappings aan die Katutura-staatshospitaal se kraamsaal.
Volgens die RYF, terwyl die projek aanvanklik in Julie sou begin, is dit met twee maande vertraag om afdelings van die hospitaal te identifiseer wat dringende aandag benodig. Verdere konsultasies met die instandhoudingsdepartement in die werke-ministerie was ook nodig, het RYF gesê.
Ismael Groenewald van NIMT het gesê daar is reeds merkbare vordering met die opknappings. Hy het egter bygevoeg dat die materiaalafleweringsproses en die opeenhoping van verpleegsters ietwat van ’n hindernis is.
Nietemin het Groenewald ’n teiken van twee weke gestel om die projek te voltooi, wat gedoen sal word deur vakleerlinge wat vaardig is in veiligheidsprotokolle.
“Ons vakleerlinge weet wat veiligheid is en hou by die veiligheidsreëls. Ons probeer ook verseker dat die stof wat ons maak beperk is sodat pasiënte, verpleegsters en personeel veilig is.”
Chantel Kamezhou, streekbestuurder van RYF Khomas, het gesê ondanks die vertraging, lyk dit of die projek betyds voltooi sal wees.
“Die personeel is doeltreffend, goed toegerus en opgewasse vir die taak en hulle het ons verseker dat hulle oor twee tot drie weke klaar sal wees. Hierdie projek lê my baie na aan die hart. Ten spyte van talle uitdagings, het Katutura-staatshospitaal die geboortes en redding van baie lewens gefasiliteer.
“Ons het in die regte rigting begin trek; probeer om reg te stel wat reggemaak moet word om hospitaaldoeltreffendheid te verbeter, en uiteindelik te verseker dat die nasie sal baat by die regering halfpad te ontmoet.”
Kamezhou het bygevoeg dat hulle as stigting in gesprek is met potensiële skenkers om die hospitaal in ’n goeie toestand te kry. “Ek wil graag mense aanmoedig om aan boord te kom. ’n Vertraging om na iemand se gesondheid om te sien kan tot lewensverlies lei. Die bietjie wat ons doen help dus die hospitaal om sy pligte doeltreffend uit te voer.”
Die projek sluit die bou van 'n stoorkamer vir toerusting, medikasie en liasseerrakke sowel as die installering van 15 handseep- en ontsmettingsmiddelhouers en die opknapping van personeel se werkstasies en ’n kombuisarea in.