Speletjies met voorskoolse kinders verbeter ouer mense se geestelike welstand

Gerine Hoff
Om speletjies saam met voorskoolse kinders te speel en interaksie met hulle te hê, kan help om die geestelike welstand en gemoedstoestand van ouer mense in tehuise en aftreeoorde te verbeter.
Dít is die bevinding van ’n nuwe navorsingstudie by die Universiteit Stellenbosch (US).
Die studie, wat deur dr Elizabeth Earl en dr Debbie Marais van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe gedoen is, het onlangs in die ewekniebeoordeelde vaktydskrif, PLoS ONE, verskyn. Earl is tans besig met haar gemeenskapsdiensjaar by die Shongwe-hospitaal in Mpumalanga.
Die navorsers sê ouer mense wat in semi-onafhanklike en verswakteversorging-wooneenhede in tehuise woon, kan die ondersteunende rol wat hulle gemeenskap gespeel het, verloor en kan ook aan angs en depressie ly. Dit is dus belangrik om te kyk na hoe interaksie met kinders hulle situasie kan verbeter.
Hulle het inwoners by ’n tehuis in die Kaapse Skiereiland se Organisasie vir Bejaardes se kompleks wat aan ’n kleuterskool verbind is, gevra om ’n vraelys wat met geestesgesondheid verband hou, in te vul en het ook onderhoude met hulle gevoer oor hulle interaksie met die voorskoolse kinders.
Hierdie interaksies vind twee keer per week plaas wanneer die kinders by die ouer persone aansluit vir ’n sessie van 60 minute onder toesig waar hulle speletjies speel soos om vir mekaar ’n bal te gooi of ’n legkaart te bou. Inwoners het ook die keuse om bykomende vrywillige werk (soos leessessies) met die kinders te doen. Die kinders besoek ook die tehuis vir bykomende aktiwiteite op spesiale dae, soos om liedjies saam met hulle te sing op openbare vakansiedae.
Positiewe ervaring
Volgens die navorsers dui hulle ontleding van die reaksies daarop dat die ouer persone die tussengenerasie-interaksie positief ervaar het.
“Deur verhoudings met die kinders te bou, het die ouer mense by ’n gemeenskap aangesluit en ’n gevoel ontwikkel dat hulle in die samelewing tuishoort, wat weer hulle welstand by die tehuis beïnvloed het. Hulle het hergeïdentifiseer met rolle wat hulle nuttig laat voel het en hulle het waarde geheg aan hulle bydrae tot die kinders se lewe.
“Die interaksie tussen die generasies het die ouer mense die geleentheid gegee om weer die tradisionele rol van grootouers in te neem. Die individuele verhouding met die kinders was vir hulle waardevol, aangesien hulle belangrik gevoel het omdat die kinders hulle individueel onthou het.
“Hulle het ook gesê hulle het ’n gevoel van familiale verbintenis met die kinders ontwikkel. Hulle interaksie met die kinders het hulle aan die groter gemeenskap herinner waaraan hulle behoort.”
Die navorsers sê een deelnemer het die volgende gesê: “Ek voel ’n bietjie geliefd wanneer ek saam met hulle is.” ’n Ander een het opgemerk: “Jy bou ’n soort verhouding ... jy leer hulle naam ken en hulle leer jou ken.”
Die inwoners het ook uitgesien na die weeklikse inspirasie en een het die volgende opgemerk: “Met die kinders hier voel ek vervuld, want dit is iets om na uit te sien.” ’n Ander een het gesê: “Ons is gevra of ons iets saam met die kinders wil doen en ek het ‘ja’ gesê, ek wil vir hulle lees.”
Mooi herinneringe
Volgens die navorsers het die tussengenerasie-interaksie ook goeie herinneringe teruggebring en ’n speelse gevoel geskep wat gehelp het om die ouer mense se gemoedstoestand te verbeter.
Die navorsers sê hulle bevindings toon dat tussengenerasie-interaksie as ’n bykomende nie-middelverwante intervensie dien om algemene geestesgesondheidstoestande by ouer mense te behandel wat in tehuise woon.
Vir die pad vorentoe beveel hulle aan dat personeel wat by die interaksie tussen die kinders en die ouer persone betrokke is, toepaslike opleiding ontvang om te verseker dat albei groepe op die interaksie voorberei is.
“Interaksie moet op ’n gereelde grondslag plaasvind om die vorming van verhoudings en bande tussen die deelnemers te bevorder.”
Die navorsers sê ter afsluiting dat aktiwiteite wat vir die interaksies gereël word, wedersydse skakeling moet insluit en ’n opvoedkundige of vaardigheidsgebaseerde ontwikkeling moet gefasiliteer word sodat hierdie interaksie ’n doelgerigte gevoel by die ouer persone aanwakker.