Vroue in Afrika 400 keer meer geneig om tydens bevalling te sterf
Een elke twee minute
Die gehalte, beskikbaarheid, bekostigbaarheid en toeganklikheid van gesondheidsorgdienste het 'n direkte invloed op die gesondheid van swanger vroue.
Voorkombare sterftes onder swanger vroue is diep gewortel in armoede en ongelykheid en kom die meeste in lae- en middelinkomstelande en gemeenskappe voor – dieselfde lande en gemeenskappe, ingesluit Namibië – wat die hardste deur die afname in globale gesondheidsfinansiering getref word. Volgens die verslag “Tendense in die beraming van sterftekoerse vir swanger vroue (2000 tot 2023)” is ’n vrou in Afrika suid van die Sahara 400 keer meer geneig om tydens ’n bevalling te sterf, as byvoorbeeld ’n vrou in Australië of Nieu-Seeland.
En selfs al word daar gewerk om toegang tot dienste vir swanger vroue uit te brei, is dit net so belangrik indien nie meer nie, om op die gehalte van dienste en die vaardighede van gesondheidswerkers te fokus.
In die talle gevalle waar skadevergoeding teen die Namibiese ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste geëis word ná die dood van die ma en/of baba tydens die bevalling, word die blaam telkens op die beweerde gebrek aan of minimale sorg deur mediese personeel geplaas.
Die verslag beklemtoon die gesondheidstelsel speel ’n sentrale rol om vroue se ervarings en uitkomste tydens hul swangerskappe te vorm.
“Toegang tot veilige, kwaliteit, respekvolle en bekostigbare seksuele en reproduktiewe sorg (SRH) is ’n integrale deel om regte te beskerm en vertroue in instellings en dienste te verbeter,” lui die verslag.
Tekorte
Swak gesondheidstelsels met ’n onvoldoende aantal goed opgeleide en vaardige gesondheidswerkers, tekorte aan noodsaaklike mediese voorrade en ’n gebrek aan verantwoordbaardheid wat die Namibiese openbare gesondheidsbedryf al jare lank teister, lei tot swak gesondheidsorg.
Om so ’n gesondheidstelsel te versterk deur die aantal opgeleide personeel te vermeerder, voldoende toesig oor gesondheidswerkers te verseker en tekorte aan mediese voorrade daadwerklik te takel, beklemtoon die verslag, kan dit universele dekking van gesondheidsdienste van hoë gehalte vir alle swanger vroue verseker.
Die verslag, ’n gesamentlike produk van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO), Unicef, die VN se Bevolkingsfonds (UNFPA), die Wêreldbankgroep en die bevolkingsafdeling van Undesa, beklemtoon wanneer die regte van meisies en vroue beskerm word en hulle toegang het tot die dienste en inligting wat nodig is om hul lewens en liggame te beheer, ongewenste swangerskappe, onveilige aborsies en sterftes onder swanger vroue daal. Terselftertyd neem geleenthede toe om aan onderrig en die werksmag deel te neem.
Die verslag, wat op die vooraand van Wêreldgesondheidsdag uitgereik is, fokus vanjaar vir ’n tydperk van 12 maande op die sorg van swanger vroue en pasgebore babas. Die verslag maan sterftes onder swanger vroue is nie in geheimhouding gehul nie.
“Ons weet hoekom dit gebeur en ons het die toerusting om dit te voorkom. Die vraag is dus nie of ons voorkombare sterftes onder swanger vroue kan keer nie, maar eerder of ons wil,” aldus die verslag.
Beperkte vooruitgang is gemaak om die sterftekoers in die eerste helfte van die era vir Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) te verminder. In 2023 het ’n beraamde 260 000 vroue wêreldwyd aan ’n swangerskapverwante oorsaak gesterf. Dit is gelykstaande aan meer as 700 sterftes elke dag en ’n beraamde een elke twee minute.
Dit is beduidend laer as die beraamde 443 000 sterftes onder swanger vroue in 2000. Afrika suid van die Sahara was verantwoordelik vir sowat 70% van sterftes onder swanger vroue en was die enigste SDG-streek met ’n hoë sterftekoers van ’n beraamde 454 sterftes uit 100 000 lewende geboortes.
Vier lande, insluitend Nigerië en die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), was volgens die verslag verantwoordelik vir byna die helfte van alle sterftes onder swanger vroue in 2023.
Die verslag beklemtoon ook dat byna die meeste van hierdie sterftes voorkombaar is, hetsy as gevolg van direkte oorsake soos erge bloeding ná die
geboorte, hoë bloeddruk-afwykings en onveilige aborsies. Indirekte oorsake sluit in diabetes, bestaande hoë bloeddruk-afwykings of infeksies tydens die swangerskap.
Vordering
Volgens die WHO se direkteur-generaal, dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, het die wêreld sedert die draai van die eeu groot vordering in die stryd teen sterftes onder swanger gemaak, met ’n afname van 40% tussen 2000 en 2023.
Vir die eerste keer het geen lande in die kategorie van uiters hoë-sterftekoerse van meer as 1 000 sterftes per 100 000 lewende geboortes geval nie. Bykomend het meer as ’n derde van die lande wat aan die opname vir die verslag deelgeneem het, ’n baie lae sterftekoers onder swanger vroue aangeteken.
Volgens Ghebreyesus is daadwerklike vordering in dié verband gemaak, selfs in van die armste lande in die wêreld. Hy het verwys na lande soos Rwanda en Sri-Lanka waar sterftes dramaties verminder het deur die dienste van vroedvroue uit te brei en toegang tot landelike gesondheidsorg te verbeter. Strategieë wat deur ander lande in hul onderskeie kontekste aangepas en aanvaar kan word.
Ghebreyesus het lande geprys wat vooruitgang gemaak het om die sterftekoers onder swanger vroue te verminder en sê hul leierskap is ’n bewys dat verandering moontlik is.
Dié vooruitgang is volgens hom gemaak danksy vordering in navorsing en dienslewering. Hy het verwys na die gebruik van ’n eenvoudige, laekoste-toestel wat, gekombineer met behandelings wat deur die WHO aanbeveel word, bewys het dit verminder erge bloeding ná geboorte met 60% en het sodoende duisende lewens van swanger vroue gered.
“Deur sorg aan swanger vroue tydens humanitêre noodgevalle met die hulp van mobiele klinieke en gesondheidsposte te verskaf, red die lewens van miljoene vroue en babas wat andersins lewensreddende skanderings, immuniserings en behandelings sou misloop,” het Ghebreyesus gesê.
'Nie normaal'
Maar, ten spyte van die vordering wat wel gemaak is, het dit sedert 2016 begin afneem en is die vermindering van sterftes onder swanger vroue steeds te stadig om die SDG’s teen 2030 te bereik, het hy gemaan.
“Vandag, iewers in die wêreld, sterf ’n vrou steeds elke twee minute weens komplikasies tydens swangerskap of bevalling – ’n beraamde 260 000 in 2023.”
Ghebreyesus het gemaan “getalle kan ons verdoof”, maar dit is noodsaaklik dat dié voorvalle nie as normaal beskou word nie.
“Dit is wanneer ons weet al die vroue in hierdie verslag kon hul swangerskap en bevalling oorleef het, sou hulle voldoende toegang tot lewensreddende sorg voor, tydens en ná geboorte gehad het.”
In plaas daarvan het baie gebrekkige of geen toegang tot voorbehoeding, is hulle beheer oor hul swangerskappe weens geweld weerhou of is geensins ná die bevalling gemonitor nie.
Ander het te laat bygesondheidsorggeriewe uitgekom net om te vind dat dit swak toegerus is, nie die nodige ingrypings, medikasie of die vermoë het om lewensbedreigende komplikasies soos erge bloeding en infeksie te voorkom, op te spoor of te behandel nie.