‘Dowe kinders verdien hul eie helde’
#PeaceGirl #JustIn #PasIn
’n Spesiale strokiesboek getiteld 'Peace Girl' word eerskomende Donderdag (1 Junie) by die National Institute of Special Education, ofte wel die Nise-skool, bekend gestel.Peace Girl is ’n dowe tienermeisie wat baie vernuftig op ’n skaatsplank is, uitstekende analitiese vaardighede het en ’n vegter vir maatskaplike geregtigheid is.
Die strokiesboek is ontwikkel deur kinders van die skool vir gehoorgestremdes in Windhoek, en die tekenprente is ontwerp deur Tafy Tang Arts.
Die Ombetja Yehinga Organisation (OYO) het die Nise-skool se hand gevat in dié inisiatief.
“Dowe kinders verdien om hul eie helde te hê, iemand na wie hulle kan opkyk, iemand wat hulle kan inspireer,” sê die organisasie. Die boek is net 8 bladsye lank, maar “ons hoop ons sal dit in die toekoms kan uitbrei”.
Hierdie projek is moontlik gemaak danksy die ondersteuning van die ambassade van Bulgarye in Suid-Afrika.