N$10 miljard vir waterprojekte geoormerk
Die waarde van waterinfrastruktuurprojekte in Namibië is meer as N$10 miljard. Die projekte sluit in dié waarvoor befondsing reeds bekom is en sommige wat reeds voltooi is, of in die proses is om ontwikkel te word.Landbou minister Calle Schlettwein het in die parlement gesê sekerheid van watervoorsiening in ’n droë land soos Namibië bly ’n uitdaging en dit is moeilik om in die daaglikse aanvraag daarvan te voorsien.
Hy het gesê die uitbreiding van bestaande watertoevoer na die sentrale gebiede van Namibië en omliggende gebiede, waar huidige hulpbronne na verwagting onvoldoende sal word, bly ’n prioriteit.
Schlettwein het gesê ’n lewensvatbaarheidstudie om water uit die Kavangorivier deur die oostelike nasionale waterdraer na Windhoek te pomp, is nog nie gefinaliseer nie maar bly op koers en die studie sal binnekort afgehandel wees.
“Ons het steeds ’n watertekort en ’n watersekerheidsvoorsieningsuitdaging vir Windhoek en die sentrale gebied. Ons moet dus nuwe bronne ontgin. Die bestaande bronne is nie genoeg nie.
“In Windhoek het ons ’n diep waterdraer gevind. Dit is sowat 300 tot 400 meter diep en dit kan in sowat 10 tot 12% bykomend tot die vraag na Windhoek voorsien.”
Hy het bygevoeg dat planne om die watervoorsiening-infrastruktuur in Rundu en Oshakati en die omliggende gebiede te vervang, te verbeter en te vergroot, reeds aan die gang is.
Schlettwein het gesê gesprekke met die Angolese regering oor die bedreigde toevoer van die Kunenerivier is ’n voortdurende proses wat die aandag geniet van ’n permanente gesamentlike tegniese kommissie, waaraan beide Angola en Namibië gelyke verteenwoordiging het.
Die kommissie is gestig deur en funksioneer binne die bepalings van verskeie bestaande watergebruiksooreenkomste tussen die twee lande, waarvan die eerste reeds in 1926 onderteken is.
“Hierdie lang geskiedenis van oorgrenswatersamewerking het die weg gebaan vir die twee lande om saam die riviere van gemeenskaplike belang te ontwikkel en te gebruik. Die waterinfrastruktuur aan die Kunenerivier, soos die Caluequedam, is gesamentlik ontwikkel. Die derde watergebruiksooreenkoms bepaal hoeveel water Namibië uit die Kunenerivier op geregtig is vir huishoudelike, besproeiing en hidrokrag deur daardie infrastruktuur.”
Die minister het bygevoeg dat met betrekking tot die noord-sentrale gebied van die land, wat deur water uit die Kunenerivier voorsien word, die ministerie en NamWater na maniere soek om die sekuriteit van die watervoorsiening te verseker, veral as waterskaarste eskaleer.
Daar is planne om die Ohangwena-akwifer 2 te ontwikkel om dit saam met Kunenerivier-water te gebruik en dit te reserveer vir watervoorsiening in geval van uiterste droogte, het hy gesê.
“Ons gebruik reeds die Ohangwena-akwifer, en weens die hoë fluoriedinhoud daarvan is ’n defluoreringsaanleg om die water te behandel by Eenhana gevestig. Boonop is daar die moontlikheid om water van die Kavangorivier na die Cuvelai-kom oor te dra, wat as deel van die Okavango-skakel-uitvoerbaarheidstudie ondersoek word.”