Die ideale gesinsvoertuig
KIA se Sorento 2.2CRDI AWD SXL
Die jongste generasie KIA voertuie, selfs vanaf intreevlak, beïndruk met treffende ontwerp, goeie bougehalte, indrukwekkende brandstof ekonomie en hoë vlakke van gerief en toerusting.Die Sorento is geen uitsondering nie, maar terwyl ek uiters beïndruk is met die nuutste KIA Sportage diesel, sou ek, as ek een model in die KIA stal moet kies as my persoonlike gunsteling, die vierde generasie Sorento 2.2 CRDI AWD SXL neem soos wat ek bevoorreg was om vir sewe dae te kon toetsbestuur.
Die model is ook die topmodel in die reeks.
Die Sorento is deel van KIA se sportnuts reeks met die gewilde Sportage net kleiner en die Carnival as die grootboet, wat soos die Sorento ook sitplek vir sewe bied.
Beide die kleiner Sportage en die Sorento het modelle wat aandrywing deur al vier wiele bied.
Die funksie is eerder vir sanderige grondpaaie en nat paaie, grootliks weens ’n lae grondvryhoogte, as wat dit die boendoes kan invaar soos wat die meer avontuurgerigte SUV’s soos die Toyota Fortuner, Isuzu MUX of Mitsubishi Pajero Sport kan doen danksy hoër grondvryhoogtes en ‘n 4x4 stelsel met lae strek.
Omvattend toegerus
Die Sorento het beïndruk met ’n luukse, goed afgewerkte kajuit wat modern vertoon en uiters omvattend toegerus is. Beide die nuwe geslag Sportage en Sorento se kajuitontwerp en uitleg is klasleidend. Die groot digitale infotainment-raakskerm en instrumentepaneel is agter glas en die uitleg van die voorpaneel en middelkonsole sorg vir uitstekende ergonomie en verbruikersvriendelike interaksie.
Die lang lys van standaardtoerusting, passassiergerief, klank- en kommunikasiestelsels (Android Auto en Apple CarPlay) asook bestuurderhulp is net te veel om hier te lys, maar kan ten beste as omvattend beskryf word en is gelykstaande aan wat in van die luukste voertuie wat veel meer kos aangetref word.
Gaan besoek gerus KIA se webwerf of jou naaste handelaar as jy meer wil weet oor al die luukshede en funksies wat die Sorento in SXL gewaad jou bied.
Daar is ook hoë vlakke van passiewe en aktiewe veiligheidstelsels insluitend ses lugsakke ten einde die insittendes te beskerm. Met stelsels soos baanhouhulp, blindekolwaarskuwings en tru-kantkameras, asook traksiebeheer en aanpasbare spoedbeheer om maar net ’n paar te noem, word die bestuurder in staat gestel om veilig by sy bestemming aan te kom.
Die Sorento is 4,81 meter lank met ’n wielbasis van 2,815 meter – in beide gevalle langer as ’n Toyota Fortuner. Teen 1,9m is die Sorento ook effe breër as die Japanees. Laasgenoemde is egter swaarder as die Korean en bied ook teen 279mm heelwat hoër grondvryhoogte as die Sorento se 176mm.
Sitgemak
Waar die Korean ook die Japanees troef danksy die langer en breër kajuit, is met meer been, skouer en kopspasie.
Danksy die tweede ry sitplekke wat elektries na vore of agter kan skuif asook skuins na agter kan teruglê, kan die agterste passassiers baie gemaklik sit. Verder bied die elektriese skuif funksie ook praktiese in- en uitklim vanuit die 3de ry sitplekke.
Met die tweede en derde ry sitplekke wat afsonderlik kan platvou vir ’n gelyk oppervlakte, bied die Sorento uiters praktiese en ook meer laaispasie as die Toyota. Buiten vir ’n koordlose laaiblad vir jou slimfoon, is daar ook drie USB sokke beskikbaar vir die voorpaneel, vier punte vir die tweede ry en twee punte vir die derde ry passassiers.
Die vierde geslag Sorento CRDI AWD SXL is toegerus met die KIA/Hyundai groep se bekende 2.2 liter turbodiesel enjin (148kW en 400Nm) wat aan die groep se uitstekende 8-spoed dubbelkoppelaar outomatiese ratkas gekoppel is om krag na al vier die wiele te stuur.
Hierdie ratkas is na my mening die beste outokas in sy segment en is besonder goed met die enjin gekombineer vir soomlose oorskakelings en uiters lewendige verrigting vir so ’n groot voertuig.
Die ratkas bied vier ritmodusse, naamlik “Comfort, Eco, Smart of Sport” met die “Smart”-modus wat jou bestuurstyl “lees” en dan die modus kies wat beste daarby pas. Hierdie modusse asook die 4-trek modusse word met ’n draaiknop op die middelkonsole tussen die voorste sitplekke verstel.
Die 4-trek modusse bied keuses tussen sand, modder en sneeu waarby die 4-trek stelsel dan outomaties kies ten einde die beste by die gekose opsie te pas.
Tydens ons toetstyd ons snelweg, teerpaaie en grondpaaie gery en het die Sorento beïndruk met ’n stil kajuit, heerlike rit en goeie paddinamika.
Die Sorento is my eerste keuse as familiemotor. Die praktiese, ruim enluukse kajuit, hoë toerustingsvlakke, lewendige verrigting, sublieme rit en goeie brandstofverbruik maak die Sorento bloot weergaloos in sy klas. Die enigste nadeel is sy gebrek aan goeie grondvryhoogte om die agterpaaie beter te kan verken.