Dis ’n Suzuki ding!
Die modelle waarmee Suzuki Motors kopers se harte gaan wen
Suzuki Motors SA het in die afgelope paar jaar soos ’n wafferse Aspoestertjie uit relatiewe niemansland in die kollig gespring met verstommende verkope van hul jongste reeks modelle.Op die rug van bekostigbaarheid, mooi ontwerp, bewese betroubaarheid en uitstekende waarde-vir-geld het hierdie Japannese vervaardiger ontpop as een van die gewildste motorvervaardigers met totale maandelikse verkope wat Suzuki die afgelope paar maande onder die top 3 laat boer op Naamsa se maandelikse lys van topverkopers.
Ons het drie van Suzuki se jongste modelle die afgelope tyd onder hande gehad en het eerstehands ervaar waarom mense so begeesterd is wanneer dit kom by die volgende Sukuki’s...
Suzuki Grand Vitara GL 1.5L handrat
Die nuwe generasie Suzuki Grand Vitara het die kleiner en goedkoper Vitara Brezza plaaslik vervang met die nuweling seker een van die mooier stoftrappers uit die Suzuki stal. Die nuwe Grand Vitara verras met ’n ruim kajuit vir sy klas, goeie afwerking en standaard toerusting vir sy prys en is beskikbaar met ’n modelreeks van vyf weergawes met ’n keuse van twee enjins.
Die reeks begin met die intreemodel 1.5 GL. Aangedryf deur ’n 1.5 liter 4-silinder petrolenjin met 77kW/138Nm se piekkragte en beskikbaar met ’n keuse van ’n 5-spoed handratkas of 4-gang outomatiese ratkas wat krag na die voorwiele stuur, behaal die GL ’n topspoed van 183kpu met ’n 0-100kpu lopie wat 11,3 sekondes neem.
Die topmodel is die Grand Vitara 1.5 GLX Hybrid AllGrip wat slegs in outomaties beskikbaar is en krag na al vier die wiele stuur. Aandrywing is met ’n ligte hibriede stelsel wat 75.8kW teen 6 000 rpm en 136.8Nm teen 4 400 rpm lewer. Die stelsel werk ononderbroke terwyl dit die enjin ondersteun vir soortgelyke verrigting van ’n normale binnebrand enjin maar met laer skadelike uitlaatgasse en brandstofverbruik.
Suzuki se amptelike syfer vir die AllGrip Hybrid word aangegee as 6l/100km maar kan selfs laer wees tot 5.6l/100km, dit ten spyte van die ekstra 125kg gewig van die AllGrip 4-trek stelsel.
Stilering van die nuweling vertoon modern met veral die ontwerp van die vooraansig waar die LED hoof en -dagryligte asook die prominente sierrooster treffend vertoon.
Binnekant laat die ruim kajuit genoeg spasie vir vyf insitendes met laairuimte van 328 liter. Hoë vlakke van standaard toerusting met goeie ergonomie asook moderne instrumentasie wat die groot kleur raakskerm vir infotainment insluit, het aangenaam verras.
Die goedkoper 1.5 liter GL handrat is ons gunsteling. Die ratkas is ’n juweel met ratverhoudinge en enjinkrag wat perfek gekombineer is vir uitstekende verrigting. Die Grand Vitara bied goeie paddinamika en ritgehalte, maar ons was veral beïndruk op grondpad.
Die GL 1.5 handrat is ons keuse in die nuwe Grand Vitara modelreeks.
Suzuki XL6 GLX Outomaties
Die Suzuki XL6 is geheel ’n nuwe 6-sitplek familievoertuig wat luukser afgewerk en beter toegerus is as die ou Ertiga model wat sewe sitplekke bied. Met ’n ontwerpfilosofie wat die bakstyl na ’n SUV laat neig, is die kajuituitleg van drie rye sitplekke wat in twee langs mekaar geplaas is ideaal vir ’n gesin wat ’n praktiese goed toegeruste en bekostigbare gesinswa benodig.
Die XL6 is tans beskikbaar in vier modelle wat met dieselfde beproefde Suzuki 1.5 liter 4-silinder petrolenjin aangedryf word. Aandrywing by al die modelle is na die voorwiele met die keuse van ’n 4-gang outokas of ’n 5-spoed handratkas. Dié enjin lewer 77kW teen 6 000 rpm en 138Nm wringkrag teen 4 400 rpm.
Suzuki se amptelike brandstofsyfers in ’n gekombineerde toetssiklus word aangegee as net 6l/100 km vir die handrat en die outomatiese model as 6.1l/100 km.
Die XL6 bied na ons mening uitstekende waarde vir geld as gekyk word na die pryse by bekendstelling.
Stilerings ewys buite het ons toetsmodel se Opulent-rooi bakleur met baie swart aksente, ’n swart dak met mooi sierwiele en ’n forse vooraansig, nogal aandag getrek. Die LED hoofligte, misligte en dagryliggies het die moderne aanslag onderstreep.
Die 180mm grondvryhoogte, 185/65/15" bande en silwer skermplate voor en agter ondersteun ook die “SUV”- ontwerpfilosofie.
Suzuki se nuwer generasie voertuie is uitstekend toegerus en die XL6 is geen uitsondering.
Die Suzuki XL6 bied ’n omvattende reeks aktiewe en passiewe veiligheidstelsels as standaard toerusting by elke model wat ook dubbele lSOFIX-kindersitplekmonterings, twee lugsakke, kinderslotte vir die agterdeure, ABS met elektroniese remkragverspreiding (EBD), elektroniese stabiliteitsprogram (ESP) en versterkte impakbalke in die deure insluit.
Suzuki Fronx 1.5 liter GLX
Suzuki Motors Suid-Afrika het onlangs ’n nuwe koepee gestileerde kompakte SUV bekendgestel en ons het die topmodel GLX weergawe kort daarna getoets.
Die Fronx neem sy plek in die Suzuki reeks van stoftrappers in net onder die nuwe Grand Vitara en neem eintlik die plek oor van die uitgaande Suzuki Vitara Brezza. Die nuwe Fronx word egter gebasseer op die gewilde Baleno luikrug, maar loop hoër op sy 195/16/R16 sierwiele om ’n respektabele grondvryhoogte van 170mm te kan bied.
Suzuki se witjasse het dit goed gedink om die Fronx te ontwerp ten einde te ry op die golf van die huidige gewildheid van enigiets wat avontuur in die ontwerpfilosofie uitbeeld. Dis waarvoor motorkopers, wie die grond- en agterpaaie buite die beton-oerwoude wil opsoek om sodoende hul dors na die buitelewe te kan bevredig, ’n bekostigbare voertuig soek.
Die beeld as stoftrapper word verder beklemtoon met skermplate voor en agter sowel as model spesifieke onderstel en stuurspesifikasies. Van buite vertoon die Fronx baie goed met ’n prominente sierrooster, laaggemonteerde LED hoofligte en LED dagryliggies asook ’n dak wat koepee-agtig na agter swiep met ’n dakgemonteerde drukvin. Die agterkant beïndruk ook met LED ligte en ’n diep agterbuffer. Ses bakkleure is beskikbaar met die opsie om ‘n swart dakafwerking te kry by sekere modelle.
Al die modelle word aangedryf met dieselfde 1,5 liter 4-silinder petrolenjin wat 77kW/138Nm se piekkragte lewer en die krag na die voorwiele stuur. Topspoed word aangegee as 188kpu. Tydens ons toetsperiode wat ooppad en dorpsry gekombineer het, het ons ’n gemiddelde brandstofverbruik gekry van 6,4l/100km nadat ons meer as 1 200km afgelê het.
Binnekant bied die Fronx ’n netjiese moderne kajuit wat uitsonderlik goed toegrus is gegewe die prys en segment waarmee die Fronx meeding.
Die topmodel GLX weergawe bied uiters hoë vlakke van standaard toerusting in vergeleke met ander modelle in hierdie mededingende segment. Daar was onder andere outomatiese LED hoofligte en ’n 9”-raakskerm vir die klank-, kommunikasie- en inligtingstelsels (7” vir die GL modelle). Die stelsel is geïntegreer met Bluetooth, AppleCarPlay en Android Auto. Daar is ’n 360 grade kamerastelsel wat n tru-kamera insluit, outomatiese klimaatbeheer, spoedbeheer, drie USB koppelpunte waarvan een Tipe C is asook n koordlose slimfoon laaiblad.
Die Fronx kom ook met omvattende aktiewe en passiewe veiligheidstelsels waaronder ses lugsakke soos met ons toetsmodel.
Die nuwe Suzuki Fronx het ons teen alle verwagting verras en oorrompel met padgedrag, hantering, standaard toerusting. Algeheel is die Suzuki Fronx ons verrassing vir 2023! Dit is ongetwyfeld seker die beste kopie tans beskikbaar en bied ongeloooflike waarde vir geld aan sy kopers. Dit is my gunsteling motor tans om as 2024 se Motor van die Jaar te wen en is in alle opsigte ’n wenner!