Franse buksie slaan ’n bres vir bekostigbaarheid

2023 Citroën C3
Dirk Gallowitz
Citroën is deesdae onder die vaandel van die Stellantis konglomeraat, een van die wêreld se grootste motorvervaardigers met verskeie bekende motorhandelsname onder sy vaandel.
In die verlede het die Franse vervaardiger in Suid-Afrika altyd op die buiterand van motorvervaardigers gestaan en was verkope uiteraard ook nie aan die voorpunt nie. Dan weer was Citroën motors effe van ’n mengsel van Franse styl wat ’n goeie skeut moderne artistieke ontwerp met nuwerwetse motortegnologie gemeng het. Juis daarom het Citroën motors in die verlede tot ’n baie spesifieke koper gespreek.
Die vorige generasies van die C3 was klein, stadkruiper-luikrug modelle wat deftig afgewerk was, maar met hoë vlakke van standaard toerusting soortgelyk aan die modelle wat in Europa gewild was.
Met die nuweling het Stellantis besluit om ’n ander roete te volg. ’n Nuwe aanleg is in Indië opgerig waar modelle vir markte buite Europa goedkoper vervaardig kan word danksy laer insetkoste, soos onder meer arbeid.
Die nuweling is dus nie meer die stadskruiper-luikrug motortjie van ouds nie, maar meer van ’n kompakte nutsvoertuig wat ten doel het om in die al meer gewilde segment van stoftrapper nutsvoertuie mee te ding. Dink maar aan die uiters goeie verkope van ander soortgelyke modelle in Suider-Afrika soos die Renault Kwid, Suzuki se S-Presso en Ignis, asook die Nissan Magnite wat bekostigbare mobiliteit bied aan veral eerstekeerkopers, maar ook mense wat goedkoper, meer ekonomiese voertuie soek.
Citroën SA se nuwe C3 wat slegs as die intreemodel “Feel” met ’n 5-gang handratkas beskikbaar gestel is, word juis gemik op hierdie mark en verkoop teen die aantreklike prys van ongeveer N$230 000.
Vir hierdie prys kry kopers ’n stoftrappertjie met Franse styl en ’n goed toegeruste kajuit wat uiters mededingend gaan wees in hierdie segment.
Hunkering na SUV status
Buite beklemtoon swart plastiek wielboogomhulsels, ’n silwer skermplaat onder die neus en swart dakrakrelings die nuwe C3 se aspirasies om die grondpaaie te gaan verken. Die effe hoër grondvryhoogte onderstreep die buksie se hunkering na SUV status.
Binne is die kajuit verbasend ruim en vertoon vars en modern met veral die kleurgepaste voorpaneel om by die bakkleur te pas, wat aandag trek.
’n 10”-raakskerm vir al die klank-, kommunikasie- en ritinfo is netjies voor bo op die voorpaneel geplaas. Die skerm werk intuïtief en maklik. Dit bied ook Bluetooth aanpasbaarheid wat maklik slimfone koordloos deur die stelsel integreer vir kommunikasie, navigasie en ook musiek met behulp van Apple CarPlay en Android Auto.
Daar is ook drie USB laaisokke beskikbaar met een voor en twee vir die agterste passasiers. Die kantspieëls kan met die hand verstel word, maar daar is ongelukkig geen tru-kamera nie. Die nuwe C3 beskik egter oor parkeergonsers agter, twee lugsakke voor asook ABS-remme, maar geen elektroniese stabiliteitsbeheer nie.
Die 7”-instrumentasieskerm bied tot ses verskillende info-modusse waar ritinligting, brandstofverbruik en banddruk vertoon kan word.
Die netjiese stuurwiel is hoogte verstelbaar en daar is ’n paar vernuftige en handige stoorplekkies in die C3 soos byvoorbeeld dié van die voordeure wat 2L bottels kan hanteer, terwyl die agterdeure weer 1L bottels kan stoor. Die smukkassie in die voorpaneel asook die houer tussen die voorste sitplekke bied beide een liter stoorspasie. Verder is daar ook bekerhouers voor en agter asook ‘n lêplekkie voor vir die slimfoon.
Die kajuit bied gemaklik sitplek vir vier insittendes, maar bagasieruimte is beperk tot inkopiesakkies of twee klein oornagtassies.
Krag
Die 2023 Citroën C3 Feel word aangedryf deur Stellantis se 1.2L petrolenjin sonder turbokrag en lewer 61kW verrigtingskrag met 115Nm piek wringkrag. Krag word na die voorwiele gestuur met behulp van ’n 5-spoed handratkas.
Tydens die bekendstellingsrit in Gauteng se dun lug het die C3 nooit die indruk gewek dat die enjintjie mank gaan aan verrigting nie. Terwyl meeste van die C3 se mededingers in hierdie segment met 1.0L turbo-aangejaagte enjintjies toegerus is, het die C3 gemaklik op die snelweg verbygesteek as die regte rat gehak is en die toere hoog bly. Ons was nogal beïndruk met die gladde en gemaklike oorgooie van die handratkas.
’n Groot pluspunt vir die nuwe C3 is sy suinige brandstofverbruik wat amptelik aangegee word as 5,6L/100km.
Citroën SA se strategie met die nuwe C3 is om ’n bekostigbare, goed toegeruste en brandstofsuinige kompakte SUV bekend te stel wat ’n veel breër klientebasis teiken as wat die vorige model gedoen het.
Kopers kan ook hulle C3 Feel verfraai en mooimaak met pasgemaakte kleurkombinasie en aksentpakkette wat deur Citroën se handelaarsnetwerk beskikbaar gestel word.
Ons is van mening dat Citroen SA met die nuwe C3 Feel nou die standaard stel vir bekostigbaarheid en waarde vir geld in hierdie segment en met die handelaarsnetwerk wat steeds uitgebrei word, raak die Fransman uit Indië ’n al meer aantrekliker opsie.