Haal jou hoed af!

2024 Mercedes-Benz GLC koepee 300d 4Matic
Dirk Gallowitz
Mercedes-Benz het einde verlede jaar die nuwe generasie van hul gewilde GLC SUV plaaslik bekendgestel en dit in die tweede kwartaal van 2024 met die koepee weergawe opgevolg.
Die GLC koepee vertoon sagter op die oog met meer geronde hoeke en ’n daklyn wat skuins na agter swiep om die meer sportiewe eienskappe van die koepee ontwerp te laat uitstaan.
Vir die 2024 model bekend as C254, het die witjasse in Stuttgart met 31mm langer gemaak en 5 mm hoër van die grond gelig.
Die vooraansig is identies aan die gewone GLC SUV en selfs die grootte en ontwerp van die wiele is dieselfde. Agter is die nuwe agterlig ontwerp en swiepende agterklap treffend.
Die langer asafstand het gehelp om die bagasieruim met 45 liter groter te maak om nou 545 liter te kan hanteer.
Kajuit en toerusting
Die kajuit is binne ’n spieëlbeeld van die gewone GLC SUV. Die uitleg, ontwerp, materiale en afwerking is presies dieselfde en is opmerklik geleen by die nuwe generasie C-klas waar die reuse skuinsgeplaaste digitale raakskerm in die middelkonsole en die groot digitale instrumentepaneel die voorpaneel domineer.
Pragtige leerbekleedsel en sagte afwerking met ’n mengsel van dowwe kroom en kleurgepaste stiksels skep ’n binneruim wat weelderig vertoon .
Ten spyte van die koepee dak, is daar verrassend genoeg been-, skouer- en kopruimte vir ook die agterste insittendes. Die venster in die agterklap inhibeer egter sig na buite.
Die GLC koepee is toegerus met ’n lang lys van veiligheidstelsels, nuwe generasie klank-, kommunikasie toerusting, bestuurdershulpmiddele en passassier geriefies.
Enjin en verrigting
Ons toetsmodel was die koepee weergawe van die 2024 GLC 300d 4matic wat die enjinkrag na al vier die wiele stuur danksy ’n supergladde 9-gang outomatiese ratkas. Die ratkas bied ook verskillende ritmodusse waaronder “Eco”, “Comfort” en “Sport”.
Danksy die hulp van ’n 48 volt ligte hibriede stelsel wat die enjin se piekkragte met 17 kW en 200 Nm verhoog, lewer die 2 liter viersilinder turbodiesel enjin in totaal 215 kW en 550 Nm se piekkragte vir lewendige verrigting. Dit sorg dat die 300d, wat 1 863 kg weeg, die 0-100 kpu in slegs 6,4 sekondes kan afblits.
Hou jy jou voet egter plat op die versnellerpedaal, raak die nuweling eers by 250 kpu uitasem weens ’n elektroniese beperker.
Die GLC 300d koepee is verrassend ekonomies as jy gematig ry en ons kon ’n gemiddelde brandstofverbruik van slegs 6,7l/100 km behaal na ’n totale afstand van meer as 1 270 km wat in ’n gemengde siklus afgelê is.
Hantering en paddinamika
Vir Suid-Afrika het Mercedes die jongste GLC koepee modelle met ’n sportiewe veerstelsel toegerus en ons 300d toetsmodel was toegerus met die opsionele lugvering asook agterwielstuur.
Die resultaat is beter hantering, meer dinamiese padgedrag asook veel beter ritgehalte selfs op grondpaaie. Met ‘n grondvryhoogte van 210mm kan die GLC300 Koepee self heel gemaklik in die veld wees.
As die GLC koepee jou aandag trek is die 220d die meer ekonomiese keuse, maar die 300d se kragtiger enjin bied vinniger en meer sportiewe rygenot.