Kia stel indrukwekkende Sportage bekend

Dirk Gallowitz
Kia Motors Suid-Afrika se jongste Sportage model is een van die finaliste in vanjaar se gesaghebbende Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar-kompetisie wat op 1 Junie 2023 aangekondig word.
Die turbo-aangejaagde petrolmodelle wat einde verlede jaar plaaslik bekendgestel is, staan wat ons betref kop en skouers uit bo die meedingers in sy marksegment, veral ten opsigte van treffende bakstilering en ontwerp, maar ook grense verskuif in terme van ’n moderne kajuit en standaard toerusting.
Kortom, dit is ’n uitstekende motor in omtrent alle fasette en die topmodel GT-Line Plus is ons gunsteling motor wat die afgelope 12 maande plaaslik bekendgestel is.
Nou het Kia SA verder gegaan en drie 1.6 liter turbodiesel modelle by die plaaslike modelreeks bygevoeg.
Die drie diesel modelle, almal toegerus met dieselfde 1.6L CRDI-turbo enjin, het soortgelyke afwerkingsvlakke as die ooreenstemmende petrol weergawes, maar bied nou aan kopers die opsie van meer wringkrag en ligter brandstofverbruik.
Die 1.6L CRDI turbo diesel enjin lewer piek verrigting van 100kW met 320Nm se maksimum wringkrag. Krag word na die voorwiele by al die modelle gestuur via ’n 7-gang dubbel koppelaar outomatiese ratkas wat sekerlik een van die beste ratkaste in hierdie segment is.
Seepglad en soomloos
Uitstekend gekalibreer met die enjin is hierdie ratkas seepglad en soomloos met perfekte sinkronisasie tussen enjintoere en ratverhoudings.
Dis net ’n heerlike ervaring om hierdie Sportage diesel deur Franschhoek pas te kon looi met ongelooflike harmonie tussen greep, remming, bakstabilisaie en versnelling. Die 320Nm wringkrag het gesorg vir moeitelose versnelling vanuit knap draaie.
Dis nie ’n sportmotor in terme van rou verrigting nie, maar die somtotaal van verrigting, greep, veerstelsel en onderstel/bakbalans het gesorg vir een van die mees genotvolle ritervarings wat ek in ’n lang tyd beleef het.
Verder kon ons ’n beste brandstofverbruik van 5,9L/100km op die ooppad aanteken in ECO-modus en nadat ons na “Sport” oorgeskakel en deur die pragtige Franschhoekpas gevlieg het, ’n slegste van 8,3L/100km.
Indrukwekkend inderdaad!
Kia se amptelike brandstofverbruik in ’n gemengde siklus van stadsverkeer en ooppad ry word aangegee as 6,5L/100km.
Klasleidend
Die ritgehalte is klasleidend, met die pragtige binneruim (dit is wat ons betref een van die mooiste, indien nie die heel mooiste in sy segment!) van die vlagskip GT-Line Plus tans een van die beste standaard toegeruste kajuite in hierdie segment.
Die indrukwekkende lang geboë 12,3” glaspaneel waarin die digitale instrumentehuls agter die stuurwiel, asook die groot infotainment skerm geïntegreer is, stel die standaard in hierdie segment en is Apple CarPlay en Android Auto aanpasbaar.
Verder is daar ook ’n koordlose laaiblad vir slimfone, twee USB-C koppelpunte in die rugkant van die voorste sitplekke gemonteer, asook skakelaars in die agterdeure om die agtersitplekke se rugleunings te verhit. ’n Panoramiese glasdak is ingesluit by die topmodel.
Die2023 Kia Sportage kom standaard met ’n lang lys van gevorderde aktiewe en passiewe veiligheidstelsels soos ABS remme met elektroniese remkrag verspreiding, elektroniese stabiliteitsbeheer, heuwel-aanskakel beheer, heuwel-af rembeheer en sleepwastabiliteitshulp.
Na dese is my gunsteling medium grootte sportsnuts ongetwyfeld die nuwe Kia Sportage Diesel in GT-Line Plus afwerking.