Kordate klein Koreaan gaan baie harte verower
Nuwe Hyundai Exter
Hyundai SA het onlangs sy klein Exter stoftrappertjie by ’n glansgeleentheid in die mooie Kaap bekendgestel en ons was daar.Die splinternuwe buksie word in Indië gebou en is Hyundai se mees bekostigbare kompakte nutsmotortjie nóg. Die Exter pas in onder die Hyundai Venue in die Koreaanse motorvervaardiger se al groterwordende plaaslike sportsnutsreeks.
Die Exter het ’n blokkerige, lego-agtige, maar tog oulik moderne voorkoms, soortgelyk aan die Suzuki Ignis waarteen dit ook in dieselfde marksegment meeding.
Die uitgeboude wielboë oor pragtige 15” allooivellings en LED ligontwerpe voor en agter asook die regaf agterkant, dakrelings, haaivin antenna, drukvlerk bo-op die agterklap en ’n prominente sierrooste ontwerp, dra alles by om die kordate, prettige voorkoms te beklemtoon.
Die nuweling word gebou op die onderstel van Hyundai se Grand i10 en gegewe sy buksie groote kompeteer dit in die klein/kompakte nutsvoertuig segment teen onder andere die Renault Kiger, Nissan Magnite en Suzuki Ignis. Die Exter is 3,815m lank, 1,710m wyd, 1,631m hoog met dakrelings en ’n wielbasis van 2,450m. Dit bied derhalwe gemaklik sitplek vir vier middelgroote volwassenes asook ’n laairuimte wat 290 liter se bagasie kan hanteer.
Hyundai SA het die Exter met vyf model weergawes bekendgestel wat in drie afwerkingsvlakke, naamlik die intree Premium, middelslag Executive en topmodel Elite beskikbaar is.
Kopers kan kies tussen ’n 5-gang ge-outomatiseerde handrat (AMT) of ’n 5-spoed handrat.
Toerusting
Die kajuit voel ruim vir ’n buksie in hierdie kompakte (klein) nuts segment. Ons het die middelslag afgewerkte Executive met ’n 5 spoed hantratkas tydens die bekendstelling gery en terwyl die ritgehalte beïndruk het, was die kajuit opmerklik goed afgewerk en toegerus.
Ons het gehou van die oulike hoogte verstelbare leer-oorgetrekte stuurwiel met satelliet skakelaars vir klank en spoedbeheer, ’n 4,2” digitale instrumente paneel asook die hoë definisie infotainment skerm van 8” waarop ondermeer die tru-kamera se beelde vertoon word. Die stelsel werk intuïtief gemaklik en bied koppeling met Apple CarPlay en Andriod Auto vir klank en kommunikasie.
Verder is daar ’n lang lys van standaard geriefs- en veiligheidsfunksies soos agterste parkeergonsers, outomatiese hoofligte, LED flikkerligte in die kantspieëls, 6-lugsakke, ’n bandrukmonitor, ESP, heuwel help beheer, ISOFIX hegpunte vir kinderstoeltjies agter en deure wat outomaties sluit wanneer ’n sekere spoed bereik word.
Soos in hierdie prysklas is daar uiteraard harde plastiek oppervlaktes, maar dit is goed verbloem en vertoon nie aanstootlik of goedkoop nie.
In geheel bied die Exter ’n bogemiddeld goed toegeruste en gerieflike kajuit gegewe die prys.
Enjin en kraglewering
Die nuwe Exter is toegerus met Hyundai se 1.2 liter 4-silinder petrol enjintjie (sonder turbo) wat 61 kW en 114 Nm se piekkragte lewer. Aandrywing is na die voorwiele. Die buksie het tydens die bekendstellingsrit verbaas met hoe gemaklik die enjintjie piekverrigting lewer sonder die geringste aanduiding dat dit swaarkry – selfs met verbysteek teen stywe hoogtes. Ons handrat Executive-model het aangenaam verras ook met brandstofverbruik van net meer as 6l/100km. Amptelik word die brandstofverbruik aangegee as gemiddeld 5,7l/100km danksy die klein buks se ligte gewig van 940 kg wat sorg vir ’n uitstekende krag-massa verhouding en gevolglike wakker verrigting.
Die 5-spoed handratkas het beïndruk met gladde koppelaaraksie vir byna soomlose oorgooie, terwyl die ratkas uitstekend met die enjin gepaar is vir gemaklike verrigting, selfs teen snelwegspoed. Dit was opmerklik dat teen snelwegspoed die toereteller by die 4000 rpm gedraai het sonder dat dit geklink het of die enjin swaarkry.
Met ’n grondvryhoogte van 185 mm kon die Exter spoedwalle gemaklik hanteer en ons vermoed die buksie sal ook heerlik hanteer op grondpaaie en dalk selfs lekker speel op tweespoor sandpaadjies.
Opsomming
Ingeheel het die nuwe Hyundai Exter ons beïndruk met aantreklike stillering, goeie bougehalte en ’n uitstekende toegeruste moderne kajuit vir hierdie marksegment.
Die Exter is uitstekend geprys teen sy teenstanders en bied wat ons betref eintlik beter waarde, veral in aggenome Hyundai se uitstekende rugsteun.
Moenie verbaas wees as die Exter meer gerekende handelsname soos Suzuki en Volkswagen in hierdie segment ’n goeie opstopper of twee gee nie.