Mazda stel nuwe CX-30 bekend

Dirk Gallowitz
Mazda het oor die jare ’n reputasie gebou as ’n handelsnaam wat pragtig ontwerpte, betroubare “sonder-fieterjasie” voertuie met uitstekende bougehalte lewer. Die 2024 CX-30 is geen uitsondering nie. Dit nieteenstaande, is verkope van Mazda voertuie in Suider Afrika nie juis waffers nie.
Ons toetsvoertuig hierdie week is Mazda se kompakte SUV CX-30.
Die 2024 Mazda CX-30 se elegante lyne en sportief-aggressiewe ontwerp sorg vir ’n voorkoms wat die koppe laat draai. Die nuwe CX-30 is na ons mening klasleidend in voorkoms en ontwerp ongeag van watter hoek die motor betrag word.
Die lang, bultende enjinkap, fors sierrooster en pragtige LED-ligontwerp tref die oog, terwyl die sierlike lyne van die lugdinamiese kantprofiel elegansie aan die CX-30 verleen. Ten spyte van die breë swart plastiek wielboog beskermstroke en 215/55/R18 wiele, 4,395 m lengte, 1,795 m wydte en 1,540 m hoogte ingesluit ’n 175mm grondvryhoogte, vertoon die CX-30 steeds elegant sportief.
Ons toetsmodel was die topmodel Carbon Edition in ’n treffende diep-rooi bakkleur afgewerk.
Kajuit en toerusting
Mazda is bekend vir die gebruik van hoë gehalte materiale en uitstekende vakmanskap in die uitleg, ontwerp en afwerking van hul motors se kajuite en die nuwe CX-30 stel weer eens ’n navolgenswaardige standaard in hierdie segment.
Die modern toegeruste kajuit bied treffende ergonomie in ’n weelderige ambiaans spesiaal so ontwerp en toegerus ten einde ’n genotvolle rit te kan bied met genoeg kop-, skouer- en beenruimte vir vyf insittendes.
Agter die tweede ry sitplekke kan die bagasieruimte 295 liter akkommodeer sonder dat die agtersitplekke platgevou is.
Die hoë definisie volkleur inligtingskerm wat middel bo in die voorpaneel geposisioneer is, bied intuïtiewe gebruik ten einde toegang te verkry tot ritlinligting, navigasie, klank- en kommunikasie stelsels. Die leeroorgetrekte sportstuurwiel huisves ook skakelaars vir hierdie funksies asook tog/spoedbeheer.
Passasierveiligheid is ’n prioriteit by Mazda en die CX-30 kom dan ook standaard toegerus met ’n omvattende lys van die jongste tegnologie in aktiewe en passiewe veiligheid- en bestuurderhulpstelsels ten einde die insittendes so veilig as moontlik te hou sou ’n botsing onvermydelik wees.
Enjin en verrigting
Die 2024 Mazda CX-30, ten spyte van geen turbo-aandrywing, lewer steeds dinamiese verrigting en gemaklike kraglewering danksy Mazda se Skyactiv-G normaal ge-aspireerde 4-silinder 2,0 liter petrolenjin met piekkragte van 121kW (@6000rpm) en 213Nm (@4000rpm). Krag word na die voorwiele gestuur via ’n 6-gang outomatiese ratkas wat ook met ratspane agter die stuurwiel gewissel kan word .
Amptelik word die brandstofverbruik aangegee as 6,6 l/100km in ’n gemengde siklus van stadsverkeer en ooppadry, wat die CX-30 met ’n 51 liter petroltenk ’n moontlike reikafstand van 773 kilometer gee. Met ’n totale ongelaaide gewig van 1340 kg is die krag-tot-massa verhouding aan die kus gunstig en het die CX-30 geen problem met verbysteek op die ooppad of in ’n bergpas nie en kan selfs ’n sleepwaentjie en vrag van maksimum 600 kg sleep. Die draaisirkel van die CX-30 is 11,4meter.
Paddinamika en hantering
Die CX-30 het beïndruk op teer en grond met goeie greep, uitstekende padgedrag en heerlike rit en ry gerief. Balans deur draaie en tydens strawwe remming is uiters goed.
Die kajuit is ook verrassend stil met goeie isolasie teen pad-, wiel- en windgeraas.
In hierdie segment is die kompetisie uiters straf en daar is mededinging met uitstekende gemaklike hantering en rygerief. Die 2024 Mazda CX-30 is definitief een van die beter opsies as rygerief en ‘n heerlike kajuit hoog op jou prioriteitslys is.
Opsommend
Mazda se 2024 CX-30 is ’n baie goeie opsie in hierdie uiters gewilde en hoogs mededingende segment. Met ’n stylvolle ontwerp, hoë vlakke van standaardtoerusting, goeie gehalte afwerking en vakmanskap, betroubare enjin met ’n gunstige waarborg en diensplan, kry kopers baie goeie waarde vir geld.
Voeg daarby die rygerief, dinamiese verrigting en beter as die gemiddelde hantering en padgedrag op grondpaaie kan ons met reg sê dat die 2024 Mazda CX-30 ’n nuwe standaard in sy segment stel.