Mercedes-Benz se GLA 200d AMG Line: ’n Aangename verrassing

Dirk Gallowitz
Mercedes-Benz het verlede jaar sy tweede generasien GLA kompakte sportsnuts opgekikker. Ons het onlangs die voorreg gehad om die topmodel diesel aangedrewe 200d in AMG Line afwerking vir ’n week te toetsbestuur en was in vele opsigte aangenaam verras.
Waar pas die GLA 200d in?
Die GLA modelreeks is in leketaal Mercedes se SUV in ooreenstemming met sy A-Klas passasiermotor. Gevolglik is dit ’n luuks-kompakte kruising tussen ’n SUV en ’n passasiersmotor en ding plaaslik mee teen die BMW X1, Audi Q2/3, Volvo XC40 en dalk ook die Hyundai Tucson.
Wat is verbeter met die opgekikkerde model? Van buite is die voorkoms van die nuweling meer sportief, die enjinkap meer gedefinieer met aggressiewe lyne, terwyl die nuwe sierrooster ontwerp asook nuut ontwerpte voor -en agterligte met LED lampe bydra tot ’n veel meer moderne voorkoms as die uitgaande model.
Daar is ook vier nuwe sierwielontwerpe om van te kies na gelang van modelspesifikasie met 18” as standaard wielgrootte. Kopers kry egter ook die opsie van 19” of 20” vellings.
Die binneruim is ook vernuwe en verbeter in lyn met die meer moderne kajuite en toerusting van groter en duurder modelle in die Mercedes stal.
Modern, gesofistikeerd
Veral die indrukwekkende MBUX digitale instrumentepaneel en inligtingskerm bring ’n moderne, maar tog ook gesofistikeerde afwerking na die GLA se kajuit sonder om enigsins in te boet op die uitstekende grafika en intuïtiewe gebruikersvriendelike werking van die klasleidende stelsel wat ook AppleCarPlay en Android Auto aanpasbaarheid bied.
In stede van die tablet-tipe infotainmentstelsel in die middel van die voorpaneel, is daar nou ’n praktiese stoorplek.
Die sportiewe multifunksie stuurwiel is met leer oorgetrek, terwyl geriefsfunksies soos trukamera, verbeterde USB laai/koppelpunte wat nou verlig is in die donker, ’n koordlose laaiblad vir slimfone en ’n panoramiese glasdak, bydra tot passasiergerief.
Die tweede generasie opgekikkerde GLA bied die langste wielbase in sy klas, maar die been en kopspasie van agterste insittendes is effe knap, veral met my 6 voet plus lyf wat voor sit. Daar is ook geen USB-koppelpunte vir agterste passasiers in die luukse topmodel met AMG Line afwerking soos getoets nie. Dalk is dit iets waaraan Mercedes se witjasse aandag aan kan gee in die toekoms.
Enjin en verrigting
Die opgekikkerde GLA 200d word aangedryf deur ’n 2.0-liter turbodiesel enjin. Danksy die hulp van 48V hibriede tegnologie is die enjin meer ekonomies en bied tersefdertyd meer oemf as in die uitgaande model.
Piekkragte is nou 110kW en 320Nm, waar die hibriede tot 10kW se hulp bied wanneer vinnig weggetrek of verbygesteek word. Amptelike versnelling is 8,6 sekondes van 0-100kpu terwyl brandstofverbruik amptelik as 5,1L/100km aangegee word.
In ons toetstydperk is meer as 1 000km afgelê en ten spyte van my swaar voet kon ons steeds ’n gemiddeld van 5,5L/100km bereik. Dit sluit ’n mengsel van ooppad en grondpad in waar platvoet- en doekvoetry om die beurt diens gedoen het.
Die uitstekende 8-gang dubbelkoppelaar ratkas wat krag na die voorwiele stuur het definitief ’n positiewe bydrae gelewer tot die uitstekende verrigting en bogemiddelde goeie brandstofverbruik van die opgekikkerde GLA 200d.
Hantering en paddinamika
Mercedes-Benz GLA 200d AMG Line se goeie onderstel, effe stywe veerstelsel en goeie stuurdinamika sorg vir goeie hantering en verrassend goeie dinamika op beide teer en grond. Die 235/50R19 wiele en bandprofiel het die stywer vering goed verdiskonteer tot ’n aangename rit selfs op grond.
Die ratspane agter die stuur met uitstekende oorskakeling van die 8-gang ratkas en goeie stuurgevoel en terugvoer, het bygedra tot beter as verwagte hantering en paddinamika vir ’n aangename ervaring ook deur hoëspoed swiepe en draaie.
Opsomming
Die opgedateerde GLA 200d is definitief ’n verbetering teenoor die uitgaande model. Die moderner voorkoms, luukser asook beter toegeruste kajuit, sal sekerlik tot ’n jonger koper spreek. Die stywe prys (ongeveer N$1 miljoen) mag egter dalk ’n stok in die GLA 200d AMG Line se wiel steek, veral gegewe ons huidige ekonomiese klimaat.
In geheel was die stylvolle GLA 200d in AMG Line afwerking egter ’n fees om te bestuur en is dit na dese een van my gunsteling kompakte SUV’s in hierdie segment met veral die ritdinamika en brandstofverbruik wat beïndruk en aangenaam verras het.