Modern luuks en stylvolle elektriese sportnuts

Mercedes-Benz se EQS SUV
Dirk Gallowitz
Mercedes SA is aktief aan die werk om hul hele passasier-modelreeks op plaaslike bodem ook as ten volle elektries aangedrewe motors aan kliënte beskikbaar te stel.
In die sedan reeks is daar die A, B, C, E en S-klas wat met verskeie petrol en diesel aandrywing te koop is. Sedert twee jaar gelede is die vol elektriese weergawes in Suid-Afrika bekendgestel as die die EQA, EQB, EQC, EQE en die topklas EQS.
Sedert einde verlede jaar het Mercedes SA ook sekere SUV modelle met slegs elektriese aandrywing plaaslik geloods.
Die EQS SUV word in Mercedes se aanleg in Tuscaloosa, VSA gebou en is beskikbaar in 5- of 7-sitplekke met verskillende kraglewerings .
Ons het onlangs die 5-sitplek EQS SUV 450 4Matic met AMG-Line afwerking vir ’n week getoets.
Ontwerp en voorkoms
Die EQS weergawe het ’n veel meer modern en geronde voorkoms as die standaard GLS, maar is steeds indrukwekkend in voorkoms, met veral die futuristiese vooraansig wat die koppe laat draai.
Met die AMG-Line buite afwerking is die groot 22” sierwiele en lae profiel breë tekkies opvallend sportief. Die EQS SUV is 5,125 meter lank, 1,959 meter breed met ’n totale hoogte van 1,718 meter. Die wielbasis van 3,210 meter is soortgelyk aan die EQS sedan en ons 5-sitplek model se laaispasie agter kan 645 liter baggasie neem.
Mercedes-Benz beskryf die EQS SUV in sy bemarkingsmateriaal as “redefined SUV luxury” en gegewe die gewone GLS se opulente weelde en luuksheid, kan die EQS SUV met eerlikheid beskryf word as ’n mengsel van oordadige weelde met indrukwekkende moderne tegnologie en toerusting.
Die binneruim van die EQS SUV 450 soos getoets is na ons mening die mees luukse kajuit met die hoogste vlakke van tegnologie en toerusting wat ons nog in enige Mercedes voertuig ervaar het.
Die lys van standaard toerusting is hopeloos te lank om hier te noem terwyl die kajuit se indrukwekkende uitleg, opulensie en voorkoms ten beste in ’n foto beskryf kan word.
Bestuurderhulpstelsels
Die EQS SUV se MBUX volkleur “hyper screen” is byvoorbeeld 141 cm lank van kant tot kant! Dit sluit in die 12.3” instrumente huls, ’n 17.7” infotainment skerm en ’n 12.3” vertoonskerm vir die voorste passasier!
Die EQS SUV is toegerus met van die nuutste en mees gevorderde bestuurderhulpstelsels en aktiewe en passiewe veiligheidstelsels waaronder goed soos “active distance assist”, “active blind-spot assist with exit warning functions”, “active lane-keep assist”, “active steering assist”, “evasive steering assist”, en “brake assist with cross-traffic monitoring” om maar net ’n paar te noem.
Sou enige van hierdie stelsels se sagteware buite orde raak of opgedateer moet word, kan eienaars dit enige tyd doen met die hulp van die EQS SUV se ingeboude data en kommunikasie verbindingstelsel. Die toerusting en hulpstelsels is legio en sluit is onder meer, “trailer manoeuvring assist”, “traffic sign assist”, “augmented reality navigation”, “energizing comfort and energizing coast”, “increased rear-axle steering angles”, “beginner’s driving mode”, “parking service mode”, ’n “dashcam”, die AMG Track Pack, en die “individualisation package”.
Aandrywing en kraglewering
Ons toetsmodel EQS 450 4Matic, wat krag na al vier die wiele stuur, word aangedryf deur ’n elektriese motor op elke as en bied maksimum kraglewering van 265 kW en 800 Nm wat krag kry van ’n batterypak wat ‘n bruikbare kapasiteit van 108.4 kWh beskikbaar maak. Wanneer volgelaai en in ideale omstandighede, sal dit ’n reikafstand van meer as 530 km toelaat as die elektriese gebruik tussen 18.6 en 23.0kWh/100km gehandhaaf kan word.
Tydens ons week van meestal langafstand ry teen ’n maksimum van 110kpu, kon ons nooit meer as 400 km haal nie. Mercedes sê dat wanneer ’n 200 kW vinnige herlaaier gebruik word, kan 250 km by die reikafstand gevoeg word vir elke 15 minute se herlaaityd.
Volgens Mercedes is die tegnologie wat in die batterye gebruik word so gevorderd dat die battery 10
jaar of 250 000 km gewaarborg kan word en dat dit daarna steeds 70% van die kapasitiet beskikbaar sal hê.
Kraglewering is onmiddellik en nogal indrukwekkend met die EQS 450 4Matic SUV se 0-100kpu lopie wat slegs 6 sekondes neem, terwyl die topspoed aangegee word as 210kpu.
Paddinamika en hantering
Mercedes se witjasse het die bestaande lugveerstelsel op die GLS aangepas vir die EQS SUV en laat nou toe dat die grondvryhoogte onveranderd bly ongeag die vrag of gewig wat in die EQS SUV gelaai word. Die stelsel kan ook die ryhoogte met 25mm hoër aanpas met die druk van ’n knoppie in die kajuit na gelang van pad- en rittoestande terwyl die spoed onder 60kpu is. Die hoogte sal outomaties na normaal terugkeer sou die spoed bo 70kpu styg.
Kies die bestuurder die “Comfort” of “ Sport” modusse sal die voertuig met 10 mm en 15 mm onderskeidelik daal wanneer die spoed bo 110 kpu gaan ten einde lugweerstand te minimaliseer.
Die EQS SUV se ratkas beskik oor ’n “Torque Shift” funksie wat tydens ’n rit die krag heeltyd stuur (shift) na die wiele waar dit die meeste benodig word. Die stelsel gebruik vyf verskillende modusse om ’n verskeidenheid bestuurstoestande vir onder meer veldry, sneeu/ys, “energy efficiency, energy recovery power” en traksie/versnelling ten beste te benut.
In ’n neutedop
Die EQS SUV bied ’n sublieme rit op grond en teer in ’n verstommend stil en gesofistikeerde kajuit. Na ons mening die beste rit in enige Mercedes tot datum. Greep, hantering en paddinamika wat balans deur draaie en onder remming insluit, is soos wat dit in ’n weelderige groot voertuig moet wees.