’n Gepaste speelding vir Meneer Bond
Land Rover Defender 90 V8
Land Rover se Defender 90 met sy drie deure was altyd soort van ’n styl speelding. Die manne wat rêrig wil veldry en in die boendoes gaan verken, het altyd die groter Defender 110 gebruik. Jare gelede toe BMW Land Rover gekoop het, het hulle die bykans ondenkbare gedoen om ’n 2.8 liter ses-silinder BeeEm enjin met ’n BMW ratkas in ’n 90 series in te plak.Destyds het ’n vriend van my wie vir ’n korttermyn versekeringsreus gewerk het, my vertel dis die spesifieke model waarvoor hulle die meeste eise ontvang het weens ongelukke waar die voertuig gerol het.
Te veel krag en spoed vir ’n voertuig met ’n ontwerpfilosofie wat op veldry gemik is.
Ek verstaan dat spesifiek die Defender 90 2.8i vandag vreeslik gesog is in veral die VSA en dat plaaslike eienaars maklik U$100 000 betaal word vir ’n netjiese weergawe. Daar was tog na alles ’n bietjie geluk by die ongeluk.
Enjin en verrigting
Land Rover se witjasse het besluit om die nuwe generasie Defender reeks ook met ’n witwarm verrigtingsweergawe, slegs bekend as die “Defender V8” uit te brei, gemik op diegene wat eerder in die beton-oerwoud wil brul as om in die veld te gaan baljaar en volg sodoende in die voetspore van ’n ander ikoon, Mercedes se G-Klas AMG wat uiters gewild is onder die befaamdes en beroemdes met baie geld.
Vir díe doel het die ingeneurs in Solihull ’n Defender 90 geneem en ’n V8 petrolenjin van 5.0 liter in die enjinruimte gemonteer. Hulle het verder gegaan om seker te maak die Defender 90 V8 is ’n rasegte verrigtingsmodel deur ’n super-aanjaer aan die enjin vas te skroef. Die resultaat is 386kW en 625Nm se piekkragte! Volgens Land Rover is die Defender V8 in staat om die 0-100 kpu lopie in slegs 5.2 sekondes af snel en bereik ’n topspoed van 240 kpu as die versneller plat gehou word.
Dit is inderdaad indrukwekkend vir ’n hardebaard veldryer wat ongeveer 2.5 ton weeg!
Aandrywing is na al vier wiele met behulp van ’n 8-gang outomatiese ratkas.
Land Rover se amptelike brandstofverbruik word aangegee as 12.8 l/100 km, maar ons kon nie beter kry as 15.5 km / liter nie grootliks te wyte aan my swaar regtervoet en meestal stadsverkeer.
Blykbaar beplan Land Rover om ’n 110 model soortgelyk toe te rus en bekend te stel.
Ontwerp en voorkoms
Ons toetsmodel Defender 90 V8 was afgewerk in ’n treffende mat swart bakkleur wat in werklikheid geplak was eerder as geverf. Ook die sierrooster was swart met die LED ligte wat van agter effe verdonkerde lense loer. Die ontwerp van die nuwe generasie Defender bou op die vierkantige ontwerp van vorige generasie Defenders waar ontwerp en vorm aanpas om funksie te optimaliseer.
Van buite beskou het die groot swart 22” sierwiele met baie breë lae profile bande en die blou gekleurde remknypers dadelik die oog gevang. Die vier groot uitlaatpype agter het dit duidelik gemaak dat die Defender V8 nie jou gewone Landy is nie en dit word bevestig wanneer jy die aansitterknop indruk en die V8 se diep geroggel jou ore streel. Met die petrolpedaal ingetrap en die V8 teen hoë toere huil, sit al die honde in die buurt en die buurte langsaan, doodstil en kierts regop!
Kajuit en toerusting
Die Defender V8 as vlagskip van die 90 reeks is derhalwe uiters goed en luuks toegerus en bied slegs enkele opsionele ekstras aan kopers. Die kajuit is omvattend beklee met luukse sagte swart leer in die model soos getoets. Die voorste sitplekke kan in 14 verskillende maniere gestel word ten einde die insittende se voorkeure te pas en bied ook verhitting en verkoeling na smaak.
Standaard toerusting sluit onder meer in ’n digitale instrumentepaneel met hoë-definisie beelde, ’n pragtige sportstuurwiel wat oorgetrek is met ’n mengsel van leer en alcantara en ook oor ’n verhittingsfunksie beskik. Verder is daar ’n klein koelkassie vir drinkgoed onder die middelkonsole se armrus, ’n stelsel wat ritinligting op die voorruit voor die bestuurder projekteer, ’n 3-sone klimaatbeheer asook ’n 10” kleur raakskerm vir al die funksies wat die nuutste Pivi Pro infotainment stelsel bied. Die stelsel werk intuïtief en is gebruikersvriendelik.
Die Meridian klankstelsel bied uitstekende gehalte klank en integreer goed met Android Auto en Apple CarPlay se koordlose verbinding, terwyl daar ook 6 USB koppelpunte in die kajuit beskikbaar is.
In terme van aktiewe en passiewe veiligheid bied die Defender V8 van die nuutste tegnologie ten einde insittendes te beskerm. Die tru-spieël wys ook beelde van die tru-kamera, terwyl die Defender V8 ook oor ’n 360° kamerastelsel beskik wat beelde rondom en van bo aan die bestuurder vertoon.
Weens die 3-deur ontwerp, is in- en uitklim altyd effe problematies, maar sodra jy eers in is bied die agterste sitplekke genoeg kop-, skouer en beenspasie vir twee volwassenes. Die gevolg is egter baie beperkte spasie in die laairuimte wat volgens Land Rover net 297 liter kan akkommodeer. Word die agterste sitplekke egter platgevou vergroot laaispasie na 1 263 liter.
Rit en hantering
Land Rover se witjasse in Solihull het die lugvering en onderstel ingestel om die verrigtingspotensiaal van die Defender V8 te optimaliseer en moes ook die ekstra gewig van die lywige V8 in ag neem. Hulle het dan ook ’n elektroniese beheerde agterste ewenaar ingespan vir beter hantering en bakbeheer wanneer uitdagende paddinamika dit vereis.
Die Defender is per uitstek ontwerp vir veldry en 4x4 uitdagings, maar die eise wat spoed, hantering en paddinamika van die Defender V8 se verrigting eis, tesame met die 22” wiele en lae profiel bande, word goeie ritgehalte en enige veldry vermoë beperk ten spyte van Land Rover se uitstekende Terrain Response 2 stelsel. ’n Sleepstang is ingesluit as deel van die standaard toerusting.
Op die pad het die Defender V8 beïndruk met uitstekende verrigting, hantering en greep asook besonder goeie stuurgevoel en terugvoer. Daar was ook opmerklik min bakrol wanneer die haastige Landie deur die swiepe en uitdagende draaie gesool is.
In ’n neutedop
Die Land Rover Defender V8 is ’n heerlike peperduur speelding wat sin maak wanneer dit vergeleyk word met sy mededingers in die top nismark waarin dit meeding.
Die 5.0 liter V8 met die super-aanjaer klink ongelooflik mooi wanneer jy die petrolpedaal roer, maar jy betaal die prys by die petrolpomp. Verder is dit seker die laaste van sy soort in ’n wereld waar lae verbruik en lae skadelike uitlaatgasse die evangelie raak vir toekomstige mobiliteit. Tog bly dit begeerlik ten spyte van die ooglopende Tekortkominge.
Maar dan weer is dit nie ook maar dieselfde argument met ’n bloedrooi Ferrari, ’n plat Porsche of ’n argaïse G63AMG nie?