’n Verrassing uit China

GAC se Emkoo
Dirk Gallowitz
GAC Motors Suid-Afrika is ’n nuweling op die toneel en het in die bestek van twee maande twee nuwe opwindende modelle bekendgestel.
Terwyl ons maar langtand kou aan Chinese motors grootliks weens ’n geskiedenis van swak gehalte en nog swakker na-verkoopdiens, het vervaardigers soos GWM en Chery al baie gedoen om daardie vrese plaaslik te besweer.
Terwyl die Emkoo in China gebou word deur GAC (’n afkorting vir Guangzhou Automobile Motor Company) wat blykbaar die vyfde grootste motorvervaardiger in China is wat ongeveer 2,5miljoen karre in 2023 verkoop het, word dit deur Salvador Caetano in Suid-Afrika versprei. Caetano is ’n Portugeuse gebasseerde maatskappy, wat in meer as 70 lande en op agt kontinente motors versprei.
Voorkoms en ontwerp
Die Emkoo tref die oog met ’n futuristiese ontwerp wat sterk lyne en skerp hoeke met pragtig gestilleerde ligontwerpe kombineer om ’n treffende voorkoms daar te stel wat die kompetisie in die middelgrootte SUV segment uitdaag.
Die voorkant word gedomineer met ’n groot sierrooster ontwerp wat 12 titanium en tungsten allooi stawe in ’n V-vormige ontwerp tentoonstel. Treffende lighuls-ontwerpe voor en agter dra by tot die futuristiese voorkoms. Die agterlig ontwerp vorm weerskante saam ’n “X” patroon en bevat 128 LED lampies terwyl die voorligte 32 LED lampies gebruik.
Bo-op die agterklap is ’n groot Mecha ontwerpte drukvin wat die aggressief sportiewe voorkoms benadruk. Die kantprofiel vertoon gebalanseerd met die pragtig ontwerpte 19” allooivellings wat die die Emkoo se goeie proposionaliteit onderskryf.
Kajuit en toerusting
Binne is die GAC Emkoo ’n kragtoer in funksionele en visuele uitleg en ontwerp waar gehalte materiale en uitstekende vakmanskap met moderne futuristiese ontwerp vermeng word om boonop ’n gerieflike en knus binneruim te skep.
Absoluut indrukwekkend!
Die Emkoo is plaaslik in twee afwerkingsvlakke met die Executive wat as intreevlak dien en ’n topmodel Executive Plus wat effe meer weelderig toegerus is. Beide is egter omvattend toegerus met die jongste in hoë-tegnologie toerusting vir maksimum passassiersgerief en bestuurder hulpstelsels. Afwerking is in swart en grys leer met blou en dofgepoleerde aluminium verstelknoppe wat duursaam voel en vertoon.
Middel bo in die voorpaneel is ’n 10.1” infotainment raaksterm wat toegang bied tot alle rit en motor inligting asook die klank- en kommunikasiestelsels huisves. Terwyl Apple CarPlay koppeling moontlik is, werk AndroidAuto ongelukkig nie in die Emkoo nie.
Daar is ook ’n 10” LCD instrumentasieskerm en ’n “Head-Up Display” (HUD) op die vooruit voor die bestuurder.
Die groot panoramiese glasdak, wat nie kan oopmaak nie, bring baie natuurlike lig in die kajuit.
Outomatiese lugversorging, aanpasbare spoedbeheer asook elektriese verstelling vir beide voorste sitplekke wat ook oor verhitting en verkoeling funksies beskik, maak die Emkoo ’n gerieflike SUV.
Daar is ook ’n 360-grade kamera stelsel en sleutellose toegang en aan/afskakel.
Ons het gehou van die koordlose laaiblad vir slimfone wat teen ’n gerieflike skuinste in die middelkonsole geposisioneer is.
Ritmodus
Die Emkoo bied drie verskillende ritmodusse (Eco, Comfort en Sport), wat nie net die ritdinamika verander nie, maar ook die uitleg en funksionaliteit op die digitale instrumentepaneel doelmatig aanpas.
Die GAC Emkoo bied uiteraard ook die nuutste in bestuurderhulp en veiligheidstelsels. Met ’n Vlak 2 outonomiteit kan die Chinese omtrent bestuurderloos ry en parkeer danksy ’n rits stelsels soos “lane-change assist”, “blind-spot detection” en ’n verskeidenheid ander soos ICA, RCTA, FCW, AEB ens.
Die EMKOO se wielbasis is 2750 mm lank en 1 901 mm wyd wat kajuitspasie en gerief veral vir agterste insittendes verbeter, maar ook bydra tot beter ritgerief en stabiliteit.
Die bagasieruim bied pakplek vir 638 liter wat verder kan vergroot as die agtersitplekke platgevou word.
Wat aktiewe en passiewe veiligheidstelsels betref het die Emkoo nie tekort geskiet nie. Insittendes kan veilig voel danksy GAC se gebruik van ’n kombinasie van hoë en ultrahoë sterkte staal in die bakkonstruksie asook 6 lugsakke.
Enjin en verrigting
Die nuwe GAC Emkoo is toegerus met ’n 1.5-liter TGDI 4-silinder MegaWave turbo-aangejaagde petrolenjin wat hoë druk brandstofinspuiting bied en 130 kW/270 Nm se piekkragte lewer. Aandrywing is na die voorwiele met behulp van ’n 7-gang dubbelkoppellaar outomatiese ratkas. Brandstofverbruik word amptelik aangegee as gemiddeld 6.4l/100 km in ’n tipiese gemengde siklus van stad- en ooppad ry.
Tydens die bekendstellingsrit in ’n koel Gauteng se dun lug was ons na ongeveer 400 km se ryery rondom Johannesburg op ’n mengsel van hoofweë, agterpaaie en selfs ’n stukkie grondpad beïndruk met die Emkoo se stil kajuit en gerieflike rit.
Danksy Mcpherson-stutte voor en ’n veelskakel onafhanklike veerstelsel agter in die Emkoo se MegaStar onderstel, was die nuweling padvas en gemaklik deur vinnige swiepe en kort draaie waar goeie greep, stabiliteit en balans nodig was sonder om inbreuk te maak op ‘n gerieflike rit.
Goeie ritgehalte en ’n verfynde veringreaksie was opmerklik waar die padoppervlakte ongelyk en swak was. Ons was ook beïndruk dat een onaangename vibrasies of stampe die kajuit binnegedring het nie.
In ’n neutedop
Die GAC Emkoo het ons in vele opsigte verras en beïndruk. Soos meeste van die nuutste SUV’s uit China word ons verwagtinge oortref wat betref bakontwerp, afwerking, bougehalte, standaard toerusting, binneruim en ritgehalte. Nie net raak dit mededingend met die meer gerekende kompetisie uit Duitsland nie, maar die rugsteun wat betref diensplanne en waarborge is gelykstaande en oortref selfs die aanbiedinge van die beste onder die mededingers.
Die GAC Emkoo gaan baie kopers aangenaam verras in hierdie segment waar dit meeding met die VW Tiguan, Honda HR-V, Toyota RAV, Mazda CX-5, Hyundai Tucson, Kia Sportage, Audi Q5, BMW X3, ens.