’n Verrassingsbakkie uit China
Foton Tunland G7 TLX Dubbelkajuit 4x4 outomaties
Die Foton is nie onbekend nie ná die Tunland bakkies ’n paar jaar gelede plaaslik gedebuteer. Ongelukkig was dit nie juis suksesvol gewees om die gemiddelde plaaslike bakkie-koper te oortuig nie, en die Tunland het daarna in 2018 stil-stil van die toneel verdwyn.Afgesien van swak verkope, was ondergemiddelde bougehalte en swak naverkoopdiens grootliks die probleem.
Die Foton handelsnaam het egter plaaslik vasgebyt.
Met hierdie geskiedenis in die agterkop, kan plaaslike kopers se skeptisisme nie juis verkwalik word nie.
Foton SA het egter ’n Tunland G7 TLX 4x4 outomatiese dubbelkajuit weergawe ingeskryf in die 2024 SA Bakkie van die Jaar-kompetisie waar dit deelgeneem het in Kategorie A vir dubbelkajuit 4x4 outomatiese bakkies met ’n enjingrootte van tussen 100-125kW.
Die bakkies is aan meer as ’n 150 strawwe toetse onderwerp in drie toetskategorieë, naamlik Sleep (met ’n 1,5 ton MobiLodge boskaravaan), 4x4 oor sand, klip en verskeie uitdagende roetes asook dinamiese hantering op teer en grond deur meer as 20 ervare beoordelaars. Ten spyte van almal se aanvanklike vooroordele, het die Tunland soos getoets almal verras en boonop beïndruk deur vele duurder en meer gerekende deelnemers in sommige toetse die loef aft e steek.
Kompetisie
Die Foton Tunland G7 TLX Outomatiese 4x4 dubbelkajuit kompeteer in terme van enjin kapasiteit met onder meer die JAC T9, Mahindra Pik Up, Isuzu D-Max 1.9Tdi, Toyota Hilux 2.4Tdi, LDV T60, Ford Ranger 125kW en Peugeot Landtrek. Prysgewys is daar egter net ’n paar bakkies, meestal Chinese handelsname wat kan kompeteer in terme van gelykwaardige toerustingvlakke.
Ons toetsmodel word aangedryf met ’n 2.0-liter, 4-silinder turbodiesel AuCan-enjin wat deur Foton in samewerking met Cummins ontwikkel is - vandaar die rooi “C” in Aucan. Die enjin lewer maksimum 120 kW en 390 Nm se piekkragte.
Krag word na die wiele gestuur deur ’n ZF 8-spoed outomatiese ratkas wat met die enjin kommunikeer vir ’n uitstekende en soomlose kraglewering. Dit is juis hierdie ratkas se vermoë om die krag optimaal na die wiele te stuur, selfs tydens die uitdagende 4x4 en sleeptoetste wat bygedra het dat die Tunland G7 TLX as wenner gekroon was in sy enjin klas by die 2024 SA Bakkie van die Jaar-kompetisie teen veel meer gerekende handelsname in SA.
Die Tunland G7 TLX het ook tydens hierdie kompetisie die beste brandstofverbruik (11,7L/100km) gemeet tydens die sleeptoetse behaal met die 1500 kg Mobilodge gehak in stormagtige winterweer.
Uithouvermoë
Volgens Foton is die enjin ontwikkel en getoets om 500 000 km te hou as daar behoorlike onderhoud gedoen word, wat die gemiddelde bestuurder wat net 25 000 km per jaar aflê tot 20 jaar sal neem.
Die Tunland bakkies kan by 40+ handelaars in SA gediens word en parte word beskikbaar gemaak en versprei deur Mandarin Parts Distributors.
Wat ontwerp betref vertoon die voorkoms van buite vaagweg soos ’n Hilux van ’n jaar of wat gelede, maar met die Tunland se dimensies van 5 340 mm lank, 1 940 mm breed en 1 870 mm hoog is die Chinees 15 mm langer, 40 mm wyer, en 55 mm hoër as die Toyota Hilux Legend.
Die Tunland se grondvryhoogte word aangegee as 210 mm (danksy die 18” allooiwiele op ons toetsmodel) en die Chinees kan 3000 kg sleep. Die Tunland het egter uniek ontwerte baklyne, kurwes en hoeke wat die voorkoms treffend maak.
Die nuwe Foton Tunland is ’n groot verbetering op die vorige model en dit sluit ALLE aspekte in soos enjin, ratkas, onderstel en vering asook ’n goed toegeruste en moderne kajuit waarvan die afwerking sekere veel duurder en meer gerekende luukse dubbelkajuitbakkie die loef afsteek.
Veral die ontwerp en tegnologie binne die kajuit is indrukwekkend om die minste te sê.
Die leerbeklede kajuit van ons TLX model soos getoets tref binne met goeie uitleg en moderne gehalte afwerking. Die groot 12.3” infotainment skerm wat in een paneel met die digitale instrumente huls gehuisves word, is rêrig treffend en is ’n eerste in die dubbelkajuit bakkie segment.
Daar is te veel standaard gerief- en veiligheidsfunksies in die TLX om hier te lys, maar dit is werd om te noem dat ingesluit die elektriese sondak, is die Tunland G7 TLX met uitsondering van die GWM P500 HEV (algehele 2024 SABOTY wenner), die bes toegeruste luukse dubbelkajuit bakkie tot op hede in Suid-Afrika getoets.
Opsomming
Die Foton Tunland G7 TLX is nie perfek of sonder foutjies nie. ’n Sagter veersytelsel sal vir beter ritgehalte op ongelyke grond- en teerpaaie sorg. Die enjin is grof en rukkerig op koue oggende wanneer jy aanskakel en wil wegtrek. Na 5min se geluier is die probleem weg.
Hier en daar is van die plastiekafwerking in die kajuit net effe te blink, maar daar is meer sagter oppervlaktes as by meeste luukse dubbelkajuitbakkies tans beskikbaar.
Algeheel bied die Foton Tunland G7 TLX dubbelkajuit 4x4 outomaties egter verrassende bougehalte, toerustingvlakke en verrigting met uitsonderlike waarde vir geld teen minder as N$600 000 soos getoets. Ingesluit by die koopprys is ’n 5-jaar/onbeperkte kilometer waarborg en ’n 3-jaar/50 000 km diensplan.
Gaan ry hom gerus as jy my nie wil glo nie!