Nuwe Captur laat die koppe draai
Renault Motors SA het onlangs die nuwe Captur model tot hul plaaslike reeks gevoeg. Volgens Renault is die nuwe Captur heeltemal vernuwe vergeleke met die uitgaande model.Wêreldwyd het die gewildheid van die Captur in die meer as 90 lande waar dit verkoop word bygedra dat meer as 1,5 miljoen van die kompakte stoftrappertjie eienaars gevind het sedert die bekendstelling van die eerste model in 2013. Veral die tweede generasie was baie gewild.
Die nuwe Captur se algehele voorkoms van buite beskou is stylvol. Met ’n swiepende dakprofiel en sportiewe stilering van beide voor en agter beskou, is dit verstaanbaar dat die Captur goeie verkoopsyfers kan toon.
Kopers koop eers met die oog waarna praktiese en funksionele ontwerp oorweeg word. Die nuwe Captor is ontwerp om kopers beide te bied.
Buitekant is die neus onmiskenbaar Renault met die groot Renault kenteken wat die breër sierrooster domineer. Nuut ontwerpte LED-ligte voor en agter bring ’n vars en moderne voorkoms wat die oog tref. Verder maak die herontwerpte beskermplate voor en agter onder die motor, sowel as die plastiek beskermstroke wat oor die hele lengte aan die sykante strek asook om die wielboë, dit duidelik dat die nuwe Captur ’n beeld as SUV wil skep. Nuut ontwerpte 17” sierwiele dra by tot ’n skaflike grondvryhoogte van 174 mm.
Kajuit en toerusting
Die kajuit binne vertoon modern met goeie ergonomie. Danksy Renault se nuwe klasleidende “Smart Cockpit”-ontwerp waar die middelkonsole in die lug hang (of sweef), lei dit tot meer spasie voor en onder die voorpaneel, waar dit onder meer plek maak vir die koordlose laaiblad vir slimfone.
Die 9,3” infotainment raakskerm is middel in die voorpaneel geposisioneer en is gerieflik effe na die bestuurder gedraai. Die Renault Easy Link-multimedia stelsel bied toegang tot al die klank-, kommunikasie- en navigasiefunksies. Dit vertoon ook ritinligting en werk intuïtief gemaklik.
Verder bied die Multi-Sense stelsel rit modusse waar die bestuurder kan kies tussen Eko, Normaal of Sport. Spoedbeheer, ’n elektriese handrem, ’n sleutellose Aan/Af-knop sowel as Oop-/Toesluit is maar net ’n paar van die legio gerieffunksies wat as standaard op die “Intens” topmodel wat ons getoets het, beskikbaar is.
Die nuwe Captur is langer, breër en hoër as sy voorganger en bied gemaklik sitplek aan vyf insittendes in ’n ruim moderne kajuit wat goed afgewerk is met gehalte materiale.
Die baggasieruim bied nou klasleidende laaispasie van 404 liter. Dit vergroot tot 536 liter as die passasiersitplekke met 16”vorentoe geskuif word. Vou die agterste sitplekke plat en die laairuimte kan 1 275 liter se bagasie sluk.
Insittendes kan ook veilig voel binne die Captur wat spog met ’n 5-ster NCAP-gradering danksy ’n lang lys aktiewe en passiewe veiligheidstelsels. Dit sluit in ses lugsakke, parkering hulpstelsels voor en agter, ’n tru-kamera, banddrukmonitor, elektroniese remhulp (EBA) en remverspreiding (EBD) met ABS.
Verder help onder meer blindekolwaarskuwing, baanhouhulp en vele ander bestuurdershulpstelsels om elke rit so veilig as moontlik te maak.
Enjin en verrigting
Renault het die die nuwe Captur toegerus met ’n 1.3 turbo petrol enjin wat piekkragte van 113 kW en 270 Nm lewer. Die enjin is blykbaar deur die Franse motorvervaardiger se betrokkenheid by Formule 1 geïnspireer en lewer wakker verrigting met uitstekende brandstofverbruik. Terwyl die amptelike brandstofverbruik aangegee word as 6,6 l / 100 km was ons verbruik ’n fraksie hoër teen ’n uitstekende 6,8 l / 100 km na ons 1 480 km afgelê het in ’n gemengde siklus van ooppadry, stadsverkeerkruip en ’n grondpadtoer.
Krag word na die voorwiele gedryf met ’n 7-spoed ‘Efficient’ Dubbelkoppelaar (EDC) outomatiese ratkas wat ook met pedale agter die stuur gewissel kan word. Hierdie ratkas dra baie by tot die uitstekende brandstofverbruik van die nuwe Captur.
Renault se Multi-Sense Sport modus bied aan bestuurders ’n meer genotvolle ervaring van sportiwiteit wanneer die nuwe Captur se petrolpedaal dieper getrap word.
Oor die algemeen het die nuwe Captur gesorg vir seker die beste ritervaring van enige voertuig in sy segment wat ons kan onthou.
Hantering en paddinamika
Tydens ons toetstyd van sewe dae en met meer as 1 480 km afgelê, was ons baie beïndruk met die ritgehalte, gemaklike hantering en uitstekende onderstel van die nuwe Renault Captur. Nie net het die nuweling besonder goed hanteer op beide teer- en grondpaaie nie, maar die gemaklike sitplekke, heerlike onderstel en goeie stuurgevoel het ons oortuig dat die nuwe Captur die beste hantering en paddinamika in sy klas bied.
Die nuwe Renault Captur bestuur gemaklik en bied ’n pragtig ontwerpte funksionele kajuit wat gemaklik en praktiese sitplek vir vyf insittendes met genoeg laaispasie vir hul bagasie toelaat.
Verder is die enjin gewillig, die ratkas glad en die brandstofverbruik uiters doeltreffend.
Renault bied by die koopprys ingesluit, ’n 5 jaar / 150 000 km meganiese waarborg asook ’n 3 jaar / 45 000 km diensplan. ’n Bykomende 6 jaar anti-roes waarborg is ook ingesluit by die prys.
Wat meer kan enige eienaar vra?