Omoda – Chery se luukser ouboet

Dirk Gallowitz
Omoda is die luukse handelsmerk van Chery en deel gevolglik sy onderstel en sekere meganiese komponente met die Chery Tiggo 4Pro.
Die Omoda handelsmerk is ontwerp en gestilleer om effe luukser, maar ook meer sportief te wees as die Chery motors. Daarom is dit gemik op ’n jonger geslag koper. Die nuwe 1.6TGDI 290T GT is tans die topmodel in die C5 modelreeks van Omoda en is toegerus met ’n kragtiger 1.6 liter enjin.
Volgens Chery SA is daar net 77 eenhede van hierdie model in SA beskikbaar gemaak waarvan almal blykbaar reeds eienaars het.
Die futuristiese ontwerp van die C5 290T GT is ooreenstemmend met die gewone 1.5 turbo 230T, maar die 290T GT bied addisionele sportiewe afwerking soos ’n drukvlerk bo agter op die agterklap asook roosgoud kleurafwerking op die Omoda en 290T kentekens, uitlaatpype en in die sierrooster. Die oranjerooi remknypers dra verder by tot die sportiewe aanslag. Pragtige lighuls ontwerpe vir voor en agterligte toegerus met LED lampe, dra ook by tot die 290T GT se treffende en moderne voorkoms.
Kajuit en toerusting
Binnekant vertoon en voel die kajuit weelderig met goeie materiale en afwerking. Die roosgoud kleur stiksels in die swart leertipe bekleedsel is nogal treffend. Terwyl die kajuit nie veel anders as die ander C5 modelle is nie, is die ambiaans definitief luukser.
Die groot elektries verstelbare sportsitplekke voor val dadelik op en sit verbasend gerieflik. Weens die swiepende dak na agter mag kopspasie effe beperk wees vir die 6-voet plussers onder ons, terwyl beenspasie dalk effe knap kan wees vir groot volwassenes. Dit is egter ook maar die geval met hierdie grootte sportsnutse. Die elektriese sondak is ‘n plus. So ook die uitstekende 8-luidspreker Sony klankstelsel.
Bykomend tot die luukse afwerking is die Omoda 290T GT omvattend toegerus en gelaai met tegnologiese hulpmiddels en funksies om die maksimum gerief te verseker vir bestuurder en passasiers.
Klimaatbeheer, koordlose laaiblad vir slimfone, USB koppelpunte en bekerhouers en selfs ’n monteerpunt aan die truspieël om ’n “dashcam” te heg is onder die verskeie geriefies. Die stembeheer(“Hey Omoda”) ten einde verskeie funksies waaronder klank, kommunikasie, ens. te aktiveer en gebruik is noemenswaardig goed en gebruikersvriendelik.
Die groot hoë definisie infotainmentskerm bied toegang tot alle klank-, kommunikasie- en ritinligting asook die beelde van die 360 ° kamerastelsel wat die terugstoot kamera insluit. Die skerm werk maklik met die funksies intuïtief gerieflik om te gebruik.
Verder kom die 290T GT uiters goed toegerus is sy segment wat bestuurder hulpstelsels betref. Blindekol monitering, baanhouhulp en outomatiese noodremming asook aanpasbare spoedbeheer is deel van die standaard toerusting. Om maar net ‘n paar te noem. So ook banddruk monitering
Enjin en verrigting
Die 290T GT is toegerus met ’n 1.6 liter viersilinder turbopetrol enjin wat ook diens doen in die Chery Tiggo 7Pro Max en lewer piekkragte van 145 kW en 290 Nm.
Aandrywing is deur die voorwiele met behulp van ‘n 7-gang outomatiese dubbelkoppellaar ratkas.
’n 0-100 kpu lopie neem 7.8 sekondes, terwyl brandstofverbruik amptelik as 6,8l/100km aangetoon word.
Die ratkas bied drie ritmodusse naamlik Sport, Normaal en Eco en is glad en soomloos, behalwe in die Sport-modus wanneer die versneller reaksie vinnig is en oorskakelings effe kan ruk as die toere hoog loop. Die stuur voel normaalweg effe lig, maar die stelsel bied ’n funksie om stuurgevoel en terugvoer te verander.
Paddinamika, greep en balans by die Omoda 290T GT is heel goed op teerpaaie. Die 18” allooiwiele met ’n goeie profiel band het billike greep gebied deur draaie en tydens ’n noodstop toets. Op grondpad en in Sport-modus was die onderstel effe ongemaklik en die rit minder aangenaam. Ons vermoed dat laer banddruk dalk ‘n beter ervaring sal bied. Andersins het die 290T GT gerieflik hanteer en lekker gery.
Die Omoda 290T GT bied ’n pragtige voorkoms, heerlike binneruim en is bogemiddeld toegerus vir die prys. Toekomstige inruilwaarde sal uiteindelik bepaal of hierdie Chinese handelsmerk plaaslik sal presteer. Verdere ontwikkeling en opgradering by latere modelle mag ’n rooskleurige toekoms en groter gewildheid onder kopers in hierdie gewilde segment tot gevolg hê, want goeie waarde vir geld gaan ’n al groter aantrekkingskrag raak in ’n plaaslike ekonomie wat toenemend onder druk kom.