Sag op die oog

Mercedes-Benz se GLC koepee
Dirk Gallowitz
Europese sportsnutse soos BMW, Volvo, Mercedes en Audi raak net al hoe duurder, terwyl die teenstanders uit die Ooste weer toenemend beter raak en al meer waarde bied. Die gevolg is dat kopers wat lojaal aan die produkte uit Europa wil bly, waarde vir geld soek deur kleiner te koop.
Vir jare was BMW se X5, die Volvo XC90, Mercedes se GLE en Audi se Q7 die sportsnutse wat die pas aangegee het. Deesdae is die kleiner Volvo XC40, BMW X4, Mercedes GLC en Audi Q5 meer gewild, grootliks weens ekonomiese oorwegings.
Mercedes het einde verlede jaar die nuwe generasie van hul gewilde GLC SUV bekendgestel en dit in die tweede kwartaal van 2024 met die koepee weergawe opgevolg.
Die GLC koepee val sagter op die oog met meer geronde hoeke en ’n daklyn wat skuins na agter swiep om die sportiewe eienskappe van die motor te beklemtoon.
Vir hierdie nuwe generasie GLC koepee bekend as C254, het die witjasse uit Stuttgart die nuwelinge met 31 mm gerek en 5 mm hoër van die grond gelig.
Die vooraansig is identies aan die gewone GLC SUV en selfs die grootte en ontwerp van die wiele is ooreenstemmend beskikbaar. Die agterlig ontwerp en swiepende agterklap dra by tot die koepee se treffende agteraansig.
Die bagasieruim is egter met 45 liter groter gemaak om nou 545 liter te bied.
Kajuit en toerusting
Die kajuit is ’n spieëlbeeld van die gewone GLC SUV. Die uitleg, ontwerp, materiale en afwerking is ook presies dieselfde en is opmerklik geleen by die nuwe generasie C-Klas waar die reuse skuinsgeplaaste digitale raakskerm in die middelkonsole en die groot digitale instrumentepaneel, die voorpaneel domineer. Dit dra by tot die klasleidende kajuitontwerpe van die nuwe generasie Mercedes motors wat modern, stylvol en luuks vertoon.
Pragtige leerbekleedsel en heelwat sagte afwerking met ’n mengsel van dowwe kroom en kleurgepaste stiksels skep ’n visueel weelderige binneruim.
Ten spyte van die koepee dak, is daar verrassend genoeg been-, skouer- en kopruimte vir ook die agterste insittendes.
Wat wel opgeval het, is dat die venster in die agterklap sig na buite beperk.
Die GLC koepee is toegerus met talle veiligheidstelsels en nuwe generasie klank- en kommunikasie toerusting asook ’n lang lys van bestuurdershulpmiddele en passassiergeriefies.
Enjin en verrigting
Mercedes-Benz SA het die GLC koepee bekendgestel met slegs twee turbodiesel enjin weergawes naamlik ’n 220d (162 kW/440 Nm) en 300d (215 kW/550 Nm).
Beide kom toegerus met Mercedes se 48V elektriese aansitterstelsel wat tot 17 kW/200 Nm se ekstra krag teen piekverrigting lewer. Die stelsel help ook met remming en wegtrek om brandstof te bespaar.
Ons toetsmotor was die 220d model en was toegerus met Mercedes se 4-matic stelsel wat krag na al vier die wiele stuur met behulp van ’n 9-gang outomatiese ratkas.
Die ratkas bied ook verskillende ritmodusse waaronder “Eco”, “Comfort” en Sport.
Die 220d het uitstekende brandstofverbruik gelewer tydens ons toetsweek van sewe dae en byna 1 400 kilometer in ’n gemengde siklus. Terwyl die amptelike verbruik aangegee word as 5,1 l /100 km kon ons 5,5 l / 100 km behaal!
Vir Suider-Afrika het Mercedes die jongste GLC koepee met ’n Sport-veerstelsel toegerus en bied ook ’n opsie aan kopers om lugvering in te sluit.
Hantering, ritgehalte en paddinamika is uitstekend. Ons was veral beïndruk met die ritgehalte en paddinamika op grondpad, veral omdat ons toetsmodel nie oor die lugvering beskik het nie.
Opsommend
Vir my persoonlik is die gewone GLC SUV die meer praktiese en wyse opsie, maar die GLC Coupe is weer die mooier, stylvolle wa wat meer sportief vertoon en aandag trek.
Die 220d kragbron is ook die meer sinvolle keuse met indrukwekkende brandstofverbruik vir so ’n luukse en sportiewe sportsnuts met 4-wiel aandrywing.