Tarzan in ’n aandpak
Land Rover se Discovery 3.0D Dynamic HSE
Die Land Rover Discovery was in 1980 bekendgestel as ’n goedkoper alternatief vir die Range Rover wat in daardie stadium die toppunt van luuksheid in ’n veldrywa was. Die Range Rover, ook bekend as “The Queen’s 4x4” en ook peperduur, was buite die bereik van die meeste werkende mense.Die Disco het oor die jare in gewildheid gegroei met veral die destydse Camel-trofee uitdagings wat die voertuig se veldry vermoëns deur onmoontlik begaanbare terreine en selfs riviere aan die wêreld bekendgestel is en gevolglik die status besorg het as “The best 4x4xfar”. Die uwe was self die trotse eienaar van ’n 1998 Discovery 1 300 tdi wat my met meer as 460 000 probleemvrye (dit nou sonder die normale komponente wat weens slytasie vervang moet word) kilometer gedien het.
Ons het onlangs die voorreg gehad om ’n 2024 Land Rover Discovery met ’n 3.0 liter 6-silinder turbodiesel enjin vir ’n week te bestuur en dit het aangename herinneringe na vore gebring.
Weg is die boksie ontwerp van my 1998 model en al sukkel ek steeds om gewoond te raak aan die vreemde stilering van die agterkant van die model (wat nou reeds ’n aantal jare met ons is), het die voorkoms my geval wanneer ek die Disco skuins van voor betrag het. Die stilering bied nou ’n meer gladde ontwerp met die hoeke mooi gerond terwyl die bak se kurwes die wielboë laag oor die groot wiele laat hurk.
Moet sê, die 22” blinkswart vellings, lae profiel rubber en rookmetaal bakkleur met donker getinte vensters van ons toetsmodel, het bygedra tot die indrukwekkende sportiewe voorkoms.
Die gladde, gesofistikeerde voorkoms met LED skrefieligte maak dit duidelik dat die 2024 model die veld verruil het vir die stad se blink liggies. Dit het my onwillekeurig laat dink aan die oerwoud legende Tarzan wat sy boomkoninkryk en tiervel lendedoek met ivoorsteeljagmes verruil het vir die rykmans betonoerwoud in Londen, waar hy as Lord Greystoke in ’n aandpak moes paradeer met sy wilde hare skoon gewas in ’n netjiese kapsel.
Die Disco kan steeds gemaklik die boot en perdewa sleep en is sonder twyfel buitegewoon bekwaam in die veld, maar die nuwe weeldevoorkoms en lae-profiel bande is nou meer tuis op Sandton se sypaadjies en in dofverligte ondergrondse parkeer ruimtes.
Weelderig
Binnekant spreek die kajuit van leerbeklede weelde en is toegerus met ’n oorvloed van die nuutste moderne tegnologiese hulpmiddels om insittendes in luukse gemak te vervoer in ’n kajuit waar die lugvering, uitstekende isolering en dik glas enige vibrasie, wind- en padgeraas uitdoof.
Die gerieflike sitplekke bied genoeg kop-, been- en skouer spasie vir sewe insittendes in ’n weelderige, goed toegeruste en tog ook praktiese kajuit. Danksy Land Rover se “Remote Intelligent Seat Folding” kan elke sitplek met die druk van ’n knoppie in ’n ideale posisie verstel word.
’n Uitstekende klankstelsel en ’n intuïtiewe gebruikersvriendelike 11.4” Pivi Pro infotainment stelsel is maar enkele van die standaard items van die Discovery HSE wat ook hoë vlakke van die nuutste aktiewe en passiewe veiligheidstelsels insluit .
Aandrywing is danksy ’n supergladde 6-silinder 3.0 liter turbodiesel enjin wat 257kW en 700Nm se piekkragte na al vier wiele stuur met hulp van Land Rover se briljante Terrain Response 4-trek stelsel. Die stelsel maak dit maklik vir bestuurders om tussen sand, modder, rotse, ens. te navigeer deur bloot die relevante terrein te identifiseer en met die draaiknop te selekteer. Daar is ook die “All-Terrain Progress Control (ATPC)” –modus waar die ratkas outomaties lae strek aanwend deur verskeie ewenaarslotte te aktiveer terwyl die voertuig in ’n stadiger spoed 4x4 terreine kafdraf.
Kombineer dit met ’n 285 mm grondvryhoogte, 500 mm wiel artikulasie wanneer in “veldry”-modus asook ’n klasleidende water deurry hoogte van 900 mm en hierdie gesofistikeerde “Tarzan in ’n aandpak” gaan meeste befaamde en robuuste veldryers op hul neuse laat kyk.
Die kragtige enjin, gekoppel aan ’n uiters gladde 8-spoed ZF ratkas, lewer indrukwekkende verrigting vir so ’n groot en swaar voertuig. Die 0-100 kpu lopie neem slegs 6,3 sekondes terwyl topspoed aangegee word as 208 kpu.
Ons brandstofverbruik wat meer ooppadry ingesluit het, was ’n beter as verwagte 9,3l/100km.
Die 2024 Land Rover Discovery 3.0D Dynamic HSE het ons behoorlik verras. Terwyl ons veldry en moeilike terreine maklik oorwin het, danksy ’n kragtige enjin met een van die beste viertrek stelsels wat geld kan koop, was dit op die ooppad en veral grondpad waar die Disco ons beïndruk het met ’n gerieflike rit danksy die lugvering, goeie greep en ’n uiters stil kajuit. Op teer was die rit verfyn en soortgelyk aan dié van die peperduur en super weelderige Range Rover Vogue.
Die 2024 Land Rover Discovery 3.0D Dynamic HSE is meer Lord Greystoke as Tarzan in voorkoms en vermoëns. Teen meer as N$2 miljoen is dit selfs meer Range Rover as Discovery wat betref luuksheid en prys. Danksy ’n kragtige, seepgladde en ekonomiese turbodiesel enjin en ’n praktiese kajuit, bly dit getrou aan die tradisionele kriteria en veeldoelige waardes wat die legendariese Discovery model oor vyf generasies so begeerlik en bekwaam gemaak het op die pad en in die veld.