Toyota GR Corolla se wiele rol behoorlik

Bou voort op die nalatenskap van legendariese Toyota’s van weleer.
Dirk Gallowitz
Toyota aanhangers was in die tagtigs en negentigs bederf met ’n paar begeerlike verrigtingsmotors. In die vroeë 2000s het die RunX in die SA Tydrenreeks ook Toyota liefhebbers se harte warm laat klop.
Toe kom die GT86 in 2016 plaaslik, pragtig ontwerp, maar effe mank aan krag. Die vyfde generasie Supra in samewerking met BMW het egter die bloed laat borrel toe dit in 2020 plaaslik bekendgestel is, maar het nie juis waffers verkoop nie.
Intussen het Toyota Japan gewoel met hul Toyota Gazoo Racing (TGR) motorsportafdeling wat in 2007 gestig is. Met al hoe groter inpak en sukses in wêreldwye motorsport, het TGR ook verder hulp verleen in die ontwikkeling van tegnologie en impetus vir die Gazoo Racing (GR) subdivisie se sportiewe en verrigting padmotors.
Onder die die GR-vaandel het die hoë verrigting GRMN Toyota Yaris, ’n kloon van die WRC Toyota Yaris, sy verskyning gemaak. Toe volg die witwarm GR-Yaris, ’n 4-trek buksie met die wêreld se kragtigste 3-silinder 1600cc petrolenjin en na ’n week se heerlike speel, is die klein woelwater steeds my gunsteling kar.
Intussen het die GT86 se tweede generasie ontwikkel na die nuwe GR86, wat visueel en verrigtingsgewys aansienlik meer statuur bied. Die GR Supra het pas hier gebuig en ons sal later meer oor hierdie woema-motor gesels.
Wat nou belangrik is, is die nuwe vlamgat koning: Die GR Corolla uit Toyota se verrigtingstal. En wat ’n aangename verrassing is hierdie warm Corolla nie! Dit het my verwagtinge geheel oortref en na etlike rondtes platvoet rondom die Zwartkops renbaan buite Pretoria, is ek totaal oorweldig oor wat hierdie blitsbuks bied in terme van verrigting en hantering.
Die GR Four stelsel en 215/40 R18 rubber het ongelooflike greep gebied terwyl ek so vinnig as moontlik om die renbaan gesool het.
Deur renjaers vir renjaers
Volgens Toyota is die GR Corolla soos die GR Yaris ontwikkel in ’n motorsportomgewing deur renjaers vir renjaers.
Soos die GR Yaris word die GR Corolla aangedryf deur ’n 1.6 liter 3-silinder turbo-aangejaagde petrolenjin wat ’n verstommende 221kW en 360Nm se piek enjin kragte lewe. Danksy Toyota se tydren ghoeroes word al hierdie krag na al vier wiele gestuur met behulp van Toyota se GR-Four dryfstelsel.
Waar ek die GR Yaris as rou, rengerig en baie opwindend ervaar het, was die GR Corolla bykans besadigd, buitengewoon klinies met uitsonderlike hoë vlakke van greep en uitstekende remme. Met ’n breër spoor en ’n meer verfynde onderstel en veerstelsel as die GR Yaris, het die GR Corolla die 8 draaie en swiepe van Zwartkops verbasend gemaklik en beheersd hanteer selfs wanneer die kar op die grense van buite beheer gedans het danksy bystand van onder meer die McPherson stuttee voor en twee beperkte-glyewenaars.
Ons het slegs met die duurder rengerigte GR Corolla 1.6T GR-Four Circuit (R902 400) om Zwartkops gespeel. Die Circuit is toegerus met versterkte verkoelingstelsel, verskeie liggewig komponente en ’n sentraalgemonteerde funksionele demper vir die uitlaatstelsel wat met treffende drie pypontwerp agter enjin uitlaatgasse uitblaf.
Die Circuit kry ook spesiale swartgekleurde luginlate in die enjinkap om by die swart koolstofvesel dak te pas plus spesiale lugskorte en GR insignia wat die GR Corolla van sy maker stalmaats onderskei.
Rooirissie-warm
Wat my mateloos beïndruk het is die kort oorgooie van die spesiale sportiewe Toyota handratkas wat met spesiale stelling verbeter is ten einde die vinnige oorskakelings moontlik te maak.
Die kajuit is uiters sportief ontwerp met groot sportsitplekke, digitale instrumentasie en kleurgestikte bekleding. Kopers kan wit of rooi kies vir die stiksels. Uiteraard is daar heelwat “GR” kentekens in die kajuit om jou te herinner dat die buksie rooirissie-warm is!
Die goedkoper Core model wat nie rengerig is nie, kos R841 000 maar kom sonder die dubbel Torsen beperkte-glyewenaar asook die koolstofvesel dak en swart luginlate op die enjinkap. Dit kry ook nie die blinkswart kleur van die onderste voorinlaat nie.
Die Toyota GR Corolla 1.6T GR-Four Circuit is goed geprys as alternatief vir die Volkswagen Golf 8 R en is my keuse as ek moet besluit. Die GR bied mynsinsiens meer interaksie met die bestuurder as die Golf R sonder om verrigting in te boet. Die ervaring om die baan is na my mening ook meer rengerig as die van die Golf R.
Die 2023 Toyota GR Corolla bou definitief voort op die nalatenskap van legendariese Toyota’s van weleer.