Veel meer as net ’n mooi stoftrapper
2023 Suzuki Grand Vitara
Suzuki se Grand Vitara het ’n trotse geskiedenis in Japan en in Suider-Afrika ’n bykans legendariese nalatenskap van betroubaarheid, taaiheid en ’n veldryvermoë wat ver bo sy segment meedingers kon presteer.Die 2.4 liter enjin was baie gewillig, maar effens te dors na my smaak. In Summit-gewaad was dit nietemin ’n begeerlike familiewa en is vandag nog uiters gewild met hoër as normale inruilpryse.
Suzuki Motors SA het onlangs ’n heel nuwe 2023 model Grand Vitara bekendgestel, beduidend groter en luukser as die uitgaande Vitara Brezza, en ons was daar.
Die nuweling word ook in Indië gebou, maar op ’n nuwe platform en toegerus met ’n nuwe enjin en ratkas.
Tydens die bekendstelling op die pragtige grond-en teerpaaie rondom George, was ons beïndruk met uitstekende bougehalte, goeie afwerking, besondere paddinamika en ’n heerlike handratkas.
Die nuweling is in ontwerp veel meer gerond, met sagter lyne en minder skerp hoeke as die uitgaande Brezza. ’n Pragtige neusontwerp, groter wiele en mooier allooivellings dra ook by tot ’n meer moderne voorkoms.
Verder is die 2023 Grand Vitara merkbaar groter en is 350mm langer as die uitgaande Vitara Brezza terwyl die wielbasis van 2600mm ook 100mm langer is. Die resultaat is meer beenruimte vir insittendes agter.
Wat egter vreemd opval is dat die laairuimte van 310 liter effe kleiner is as die uitgaande model se 328 liter, maar vergroot aansienlik tot 1 147 liter wanneer die agtersitplekke platgevou word.
Binne en onder die kap
Die kajuit bied goeie ergonomie, is goed afgewerk met materiale wat op die oog af duursaam vertoon. Dit kan egter nie as luuks beskryf word nie, maar in hierdie segment is dit heel gepas en is veel beter as wat vir hierdie prysklas verwag word.
Suzuki Motors SA het die 2023 Grand Vitara met vyf modelweergawes beskikbaar gestel wat in twee afwerkingsvlakke bestel kan word, naamlik die goedkoper GL en die luukser afgewerkte GLX. Al die voorwielaangedrewe modelle is toegerus met ’n 1,5 liter viersilinder petrol enjin wat 77kW/138Nm se piekkragte lewer.
Selfs die goedkoopste 1.5 GL model met ’n 5-spoed handrat is verbasend goed toegerus in standaard formaat. Die outomatiese weergawes, uitgesluit die AllGrip model, gebruik ’n 4-gang outokas.
Die vlagskip 1.5 Hybrid GLX Allgrip, wat krag na die pad deur al vier wiele met behulp van ’n 6-gang outomatiese ratkas stuur, is toegerus met dieselfde 1.5 liter viersilinder petrol enjin, maar is gepaar met ’n klein 12V hibriede stelsel wat ten doel het om brandstof te bespaar. Suzuki se amptelike brandstofverbruik vir die 1.5 Hibriede GLX AllGrip word aangegee as slegs 5.6L/100km.
Tydens die bekendstellingsrit het ons eers met die 1.5 GL gery wat met die 5-spoed handrat toegerus is. Ons het aanvanklik die Outeniquapas se pragtige teeroppervlak beproef en het gehou van die uitstekende greep en goeie ritgehalte van die Grand Vitara. Ook die kajuit was besonders stil met min enjin-, wind- en padgeraas.
Agterpasse
Daarna het ons die geleentheid aangegryp om die agterpas grondpaaie daarmee te beproef en was baie beïndruk met hoe goed die 5-spoed ratkas en enjin kombineer, terwyl ons die uitstekende hantering, greep en padhouvermoë van die Grand Vitara op die vinnige grondpaaie gate uit geniet het - veral wanneer ons die gewillige Japanees in tydren-styl deur die kort draaie en haarnaaldbogge gegly het.
Kortom, dit is ’n absoluut ongelooflike lekker karretjie op grondpad met uitstekende onderstel, veerstelsel en stuurgevoel.
Na middagete het die reën behoorlik neergegiet, maar ons het steeds die uitdagende en toe ook deurdrenkte antieke “Devils Pass” met die GLX AllGrip model aangevat.
Ek het ons konvooi gelei met twee fotograwe en ’n mediese ordonans in die motor en was, met my kennis en vorige ervaring van hierdie pas, uiters skepties of ons dit tot bo-op die kruin sal maak. Tot my verbasing en danksy die AllGrip se se traksiebeheer deur al vier wiele, ’n 210mm grondvryhoogte en ’n sentrale ewenaarslot, het ons die kruin verbasend maklik bereik.
’n Pluimpie vir die witjasse by Suzuki .
Gaan groen
Die volgende oggend het ons die 1.5 Hibried GLX AllGrip opgesaal en die 80km terug George lughawe toe aangepak op ’n klam, maar stil teerpad. Met ons tyd beperk het ons maar gas gegee met die 6-gang outokas wat gemaklik oorgeskakel het, selfs wanneer ek die ratspane agter die stuur gebruik het.
Greep op die nat en gladde teerpad het ook beïndruk, maar dit is asof die 4-wielaandrywing te veel van die enjinkrag gebruik het en die ekstra gewig van die viertrekstelsel ook die wringkrag onnodig aan bande gelê het – veral wanneer ’n stadiger voertuig vanuit laer enjintoere verbygesteek moes word.
In geheel het die vlagskipmodel nie naasteby so lewendig en wakker soos die 5-spoed GL voorwielaangedrewe model gevoel nie.
As ons moet kies, sal die Suzuki Grand Vitara 1.5 L GL met 5-spoed handrat ons keuse wees.