Woelwater voorkoms met Franse flair

Opel se nuwe Corsa
Dirk Gallowitz
Noem die naam “Corsa” en dit roep onmiddellik herinneringe van ’n gewilde en uiters bekwame klein luikrug wat vele eienaars sedert die middel negentigs breed laat glimlag het.
Wêreldwyd was die Opel Corsa al met ses generasies oor 40 jaar aan gewillige kopers beskikbaar as ’n Duitse stadsmotor wat alledaagse rypret met groot motortegnologie kon meng. Só het hierdie klein luikrug ’n omwenteling in die kleinmotorsegment gemaak sedert dit in 1982 bekendgestel is.
Met Opel wat deesdae in die Stellantis stal gehuisves word, deel die nuwe Opel Corsa die Stellantis CMP platform en aandrywing met onder meer die Peugeot 208, wat nie noodwendig ’n slegte ding is nie.
Die voorkoms en binneruim is egter danksy Opel se witjasse in Rüsselsheim, Duitsland vir die nuwe Corsa pas gemaak. Die resultaat is ’n nuwe Corsa wat veel meer modern, meer digitaal en meer divers is as ooit en moet groot skoene kan vul, want sy voorganger is een van die gewildste klein motors in Duitsland en was die topverkoper-motor in die Verenigde Koninkryk waar die Corsa in Vauxhall gewaad vir die derde agtereenvolgende jaar die topverkoper in die B-segment was.
Ook in Suider Afrika het die vorige generasie diep spore getrap met veral die gewilde “LITE”-model.
Stellantis SA het onlangs vanjaar die varser, beter en veel mooier 2024 model bekendgestel en ons was bevoorreg om die kragtigste en luukste GS Line van die legendariese luikrug met die “Blitz”-kenteken, vir ’n week te kon bestuur.
Voorkoms en ontwerp
Met ’n pragtige ontwerp en moderne tegnologieë wat gemik is op die aspirerende jeug en diegene wat jonk van hart is, is die nuwe Corsa toegerus met Opel se kenmerkende Vizor-voorkant wat ’n enkele, gladde paneel tussen die LED-hoofligte posisioneer waar die bekende Opel kenteken in die middel vertoon word.
Verder dra die pragtige tweekleurige diamantgesnyde 16” allooiwiele, swart dak, swart kentekens en swart Corsa-letters op die GS Line soos getoets, gesamentlik by tot die parmantige sportiewe voorkoms van die nuweling.
LED-hoofligte en ook misligte is standaard. Die nuwe Corsa se lugdinamika is die beste in sy klas met ’n indrukwekkende sleurkoëffisiënt van net 0.29 ten einde beter werkverrigting en beter brandstofverbruik te lewer.
Binneruim en toerusting
Die nuwe Corsa se moderne en goed toegeruste kajuit bied onder meer ’n opgegradeerde infotainment-stelsel asook Opel se Pure Panel-stelsel. Die topmodel GS Line is toegerus met ’n nuwe 10” Intellilink Infotainment-raakskerm wat Apple CarPlay™ en Android Auto™ koppeling moontlik maak.
Die GS Line beskik oor ’n 7” digitale instrumentpaneel, ’n opgedateerde stuurwielontwerp en ’n elektriese parkeerrem. Die nuwe Corsa is ook omvattend toegerus vir passasierveiligheid en gemak. Elektriese vensters voor en agter, outomatiese klimaatbeheer en verhitte voorsitplekke asook Eco LED-koplampe is standaard. Verder bied veiligheidskenmerke soos Active Lane Keep Assist, ’n trukamera met parkeergonsers voor en agter, Side Blind Zone Alert sowel as verkeersteken-herkenning gemoedsrus aan bestuurders.
Enjin en verrigting
Die GS Line topmodel is toegerus met die Stellantis groep se bekende en beproefde 1.2 liter drie-silinder turbo-petrol kragbron wat 96kW en 230Nm se piekkragte lewer.
Hierdie enjin is van die beste in sy segment en bied klasleidende verrigting wat veral hoog in die wringkragkurwe steeds goeie oemf gee om vir verrassend goeie kraglewering te sorg.
Krag word na die voorwiele gestuur met behulp van ’n gladde 6-gang outokas waarvan die ratverhoudinge uitstekend geprogrammeer is om die krag soomloos in al die ratte te hou. Amptelik word die brandstofverbruik vir die GS Line aangegee as 6,3 liter/100km.
Hantering en paddinamika
Ons was aangenaam verras met die nuwe Corsa GS Line se wakker verrigting en goeie rygerief. Verder het die stuur se goeie terugvoer met uitstekende hantering en greep deur draaie, vertroue ingeboesem.
Terwyl die vering miskien effe ferm gevoel het oor ongelyke en hobbelpaaie, het die algehele goeie hantering en rygerief daarvoor opgemaak.
Die nuwe Corsa ding mee in ’n mededingende segment wat deur die VW Polo domineer word. Na ons mening is die nuwe Opel Corsa in GS Line afwerking die Polo egter voor wat betref gebougehalte, afwerking en standaard toerusting en is selfs goedkoper as die ooreenstemmende Polo 1.0TSi R Line.
Na dese is die Opel Corsa GS Line model ons voorkeur motor in hierdie segment.