Kat en Lens verhelder lewens met verfkwas in die hand

Kat Stahl en Wynand Lens het onlangs 'n bushalte op Dr. Kwame Nkrumah straat nuwe lewe gegee.
Iréne-Mari van der Walt,Henriette Lamprecht
Ongeveer twee jaar na Kat Stahl en Wynand Lens eers die substasie in Dr. Kwame Nkrumah-straat in die hoofstad geverf het, het dié duo weer gewys dat hul verfkwasse vir niks verkeerd staan nie. Stahl en Lens het onlangs 'n bushalte in dieselfde straat opgekikker en vertel dat hulle hoop om die hoofstad nog in die toekoms te verhelder. "Ons het soveel keer verby die lelike substasie gery en het moeg geraak vir die heeltyd sê dat iemand iets daaraan moet doen.
Een naweek het ons besluit hoekom sal hierdie iemand nie ons wees nie. Partykeer is dit tog net beter om op te hou kla en net selfs iets te doen. Ons het oor 'n paar naweke die substasie geverf, en die bushalte het al hoe leliker begin lyk invergelyking met die volkeurige substasie," verduidelik Stahl. Volgens haar was hulle eers senuweeagtig om hierdie projek aan te pak, maar die bemoediging van vreemdelinge het hulle die dryfkrag gegee om hierdie projek te voltooi.
"Ons was nogal bekommerd ons word weggejaag, maar elke motor wat gestop het, het bevestig dat ons 'n mooi ding doen en mense hou daarvan. Ons het soveel mense gekry wat ons gemotiveer het, en ons is baie dankbaar vir almal wat ons so aangemoedig het. Ons het vir alles self betaal, en ons was baie dankbaar vir die wat verf, 'n noot of selfs 'n koue bier in ons hand gesit het vir bydrae. Mense is regtig wonderlik!"
Stahl verduidelik dat hulle reeds droom van 'n paar toekomstige projekte. "Dit was vir ons soveel pret en ons het dit soveel geniet. As tyd en geld hou sal ons graag wil aangaan. Daar is so paar stasies wat ons in die visier het," sê sy. Wanneer hulle nie substasies en bushaltes nuwe lewe gee nie, pendel Stahl en Lens tussen Duitsland en Namibië.
"Ons bly die helfde van die jaar in Berlyn en die ander helfde van die jaar in Namibië. Ek is van Duitsland en werk as 'n Duitsonderwyseres. Wynand is 'n rekenaar speletjie-ontwerper. Beide van ons is geseënd om aanlyn te kan werk, en dus van enige plek kan werk. In ons vrye tyd hou ons van kuns maak en die wêreld 'n bietjie mooier, en hopelik 'n bietjie beter, te maak," deel Stahl. Stahl sê hierdie inisiatief is hul manier om liefde in die samelewing in te saai.
"Die wêreld is rêrig 'n wonderlike plek, maar dit is nog steeds maklik om oor dinge te kla. Ons weet ons kan nie alleen al die slegte dinge in die wêreld reg maak nie, maar as jy 'n bietjie liefde wys vir mense, diere en die natuur, kan ons almal saam die wêreld verbeter. En jy mag maar klein begin."