Katutura-inwoners keelvol vir CoW

Munisipaliteit versoek om dienslewering te prioritiseer
Inwoners beweer die munisipaliteit ontkoppel onwettig huishoudings met vooruitbetaalde elektrisiteitsmeters wat geld op hul waterrekeninge skuld.
Jemima Beukes
Windhoekse inwoners is in rep en roer oor die munisipaliteit (CoW) se beweerde twyfelagtige bestuur van die hoofstad se water- en elektrisiteitsake asook twyfelagtige skuldinvorderingsmetodes, wat volgens hulle lei tot die opveil van wanbetalers se huise.
Hierdie frustrasies spruit uit 'n besluit om vooruitbetaalde elektrisiteit- en watermeters vir elke huishouding in die hoofstad te installeer, beweerde onwettige elektrisiteitsonderbrekings en die munisipaliteit se beweerde versuim om infrastruktuur te bestuur.
In 'n verklaring uitgereik deur die voorsitter van Katutura Inwonerskomitee, Benestus Kandundu, het die groep aanbeveel dat die instelling van vooruitbetaalde watermeters in gekategoriseerde lae-inkomstegebiede soos Katutura geprioritiseer word om billike toegang tot waterdienste te verseker, asook verantwoordelike watergebruik binne die gemeenskap.
Die komitee wil egter hê die gebruik van die meters moet opsioneel wees om ruimte te bied vir inwoners om die betaalmetode te kies wat by hul finansiële stand pas.
Die inwoners het ook beswaar gemaak teen die N$5 000 fooi vir die installering van vooruitbetaalde watermeters, met verwysing na dat baie dit nie kan bekostig nie.
Die komitee se eise kom op 'n tydstip wat die Stad in skuld gedompel is, met inwoners wat die munisipaliteit gesamentlik meer as N$1,2 miljard se onbetaalde water- en elektrisiteitsrekeninge skuld.
Die CoW word nou gedwing om te worstel met die balansering van die behoeftes van inwoners en sy eie oorlewing.
Strydig
Kandundu, 'n voormalige stadsraadslid, het ook teen die munisipaliteit se neiging gepraat om elektrisiteitsdienste aan huishoudings wat waterskuld het, te ontkoppel.
“Ons is van mening Stad Windhoek is besig met gedrag wat teenstrydig is met die bepalings van die wet om huishoudings met vooruitbetaalde elektrisiteitsmeters [met skuld] op hul waterrekeninge, te ontkoppel en ons soek duidelikheid oor die riglyne wat gebruik word wat sulke voorskrifte voorskryf.
“Die optrede van die Stad oortree die wet en is nadelig vir die regte van sy inwoners en is verder nadelig vir die Stad, aangesien die onwettige afsluitings die Stad van inkomste ontneem uit die verkoop van elektrisiteit,” lui die verklaring.
Die groep het aanbeveel dat die installering van die meters in paaiemente betaalbaar is, “aangesien die huidige installasiebedrag van N$5 000 heeltemal te hoog is”.
Die politikus wat 'n aktivis geword het, het gesê die komitee is oorval met kommer van inwoners wat moontlike uitsettings in die gesig staar weens buitensporige skuld.
Die komitee het aangevoer dat vooruitbetaalde meters groter deursigtigheid en aanspreeklikheid in die bestuur van huishoudelike uitgawes kan bied, maar inwoners moet die vryheid hê om te onttrek as hulle tradisionele faktuurmetodes verkies.
“In Katutura ervaar die inwoners gereeld pypbarste. Dit is omdat die ondergrondse pype baie oud is, en hulle kan net enige tyd bars. Selfs wanneer dit aangemeld word, kan herstelwerk dae, weke of maande neem voordat dit opgepas word," het Kandundu gesê.
“Die gebruik is dat die waterrekening vir mors verdeel word onder die inwoners van daardie area of straat waar die pyp gebars het. Hierdie koste word geraam en dit word aan huishoudings versprei, wat by ons skuld bydra.
“Dit word gedoen ongeag of die gebarste pyp die hooflyn is wat die blok bedien of die private huishouding se verbindingspyp. Die CoW is tog self verantwoordelik vir die herstel van skade en waterverliese aan die hooflyn, sy eie lyn wat die blok bedien,” het die gegriefde inwoners gesê.
Geduld
Die komitee het verlede maand met Windhoekse burgemeester Joseph Uapingene vergader en 'n memorandum van eise oorhandig.
Hy moet nog op die eise reageer, asook 'n opvolgbrief wat verlede week gestuur is, maar het gister om geduld gepleit.
“Hulle moet geduldig wees. Ek het self verlede week die tweede brief ontvang toe hulle my gevra het vir nuus, maar ek het hulle gevra om vir eers net geduldig te wees.
“Ons is nog besig om van die kwessies te finaliseer. Jy moet onthou, ons het nie net met inwoners van Katutura te doen nie en ons werk aan ’n formule wat hulle tot vrede sal bring,” het hy gister gesê. - [email protected]