Lutombi gereed vir Stad Windhoek
Stad, minister bereik konsensus oor die keuse van uitvoerende hoof
Conrad Lutombi, die man wat as uitvoerende hoof gekies is van Stad Windhoek, sê hy bestudeer ’n aanbod wat hy Vrydag ontvang het na sy aanstelling al die nodige goedkeurings ontvang het. Daarmee saam het hy gesê hy is verheug dat die omstrede werwingsproses tot ’n einde gekom het.Toe hy Sondag met on susterspublikasie, Namibian Sun, gepraat het, wou hy nie betrek word by gesprekke oor die werwingsproses wat stadsraadslede laat koppe stamp het nie. “Ek het niks verkeerd gedoen nie. Ek het aansoek gedoen vir die pos, ek het vir die onderhoud gekom en die berigte in koerante gesien.
“Ek wil nie daarop kommentaar lewer nie. Ek het gedoen wat ek kon doen. Ek weet nie of daar probleme was nie, [maar] ek weet ek het niks verkeerd gedoen nie.”
Hy het bygevoeg dat hy die aanbod sal bestudeer voor hy enige formele uitsprake oor die vyfjaarkontrak maak. “Dit is ’n groot verantwoordelikheid. Ek kan dit nie net aanvaar sonder om die aanbod te lees nie. Ek word nie deur geld gedryf nie, maar deur dienslewering.”
Windhoek se burgemeester, Sade Gawanas, het verlede week die werwingsproses wat die munisipaliteit vir die HUB-posisie gebruik het, verdedig en gesê: “Bewerings van partydigheid met betrekking tot die kortlys- en keuringsproses is voldoende aangespreek met hersiening van die dokumentasie deur raadslede. Die departement van menslike hulpbronne en korporatiewe dienste het alle dokumentasie gebruik, insluitend bestuurskomiteenotules, lyste van alle aansoekers sowel as individuele CVs vir ondersoek en hersiening.”
Proses in twyfel getrek
Gawanas het haar standpunt duidelik gemaak nadat die proses deur die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Erastus Utoni, in twyfel getrek is. Hy het vroeër vandeesmaand aan Gawanas geskryf en gesê hy wil die kommer wat deur die Namibia Local Authority Workers Union (Nalawu) oor die werwingsproses geopper is, ondersoek en aanspreek.
In reaksie, het die burgemeester enige oortreding aan die kant van die werwingspaneel of die proses ontken wat daartoe gelei het dat Lutombi aangestel is twee jaar en een maand ná die vertrek van die voormalige uitvoerende hoof, Robert Kahimise.
Gawanas het ook die rol van George Mayumbelo, strategiese uitvoerende hoof vir menslike hulpbronne en korporatiewe dienste, se rol in die werwingsproses verdedig, met die Stad wat voorsiening gemaak het vir ’n personeellid van menslike hulpbronne om deel van die proses te wees.
“Die onderhoudspaneel het George Mayumbelo genomineer om as voorsitter van die onderhoudpaneel te dien, ’n rol wat beperk was tot die versekering van administratiewe nakoming aangesien alle onderhoudpaneellede onafhanklik gebly het en die paneel in hul onderskeie hoedanighede gedien het,” het sy gesê.
Mayumbelo se rol is bevraagteken nadat dit aan die lig gekom het dat hy Lutombi volle punte gegee het tydens die onderhoudsproses – ’n bewering wat Gawanas ten sterkste ontken het.
‘Kwosiëntgebaseer’
“Die bewering dat mnr. Mayumbelo vir mnr. Lutombi 100% gegee het, is verkeerd. Daar moet kennis geneem word dat die tellingstelsel kwosiëntgebaseer is, wat dus vereis dat ’n lid [aansoeker] as ’n ‘vyf’ op ’n tellingskaal van een tot vyf behaal. Die toekenning van ’n vyf word dus nie as ’n perfekte telling beskou nie, maar eerder ’n telling wat aandui dat dit gelyk is aan of bo die 80ste persentiel is,” het sy gesê.
Gawanas het haarself ook uitgespreek oor bewerings dat onderhoudsvrae aan kandidate gelek is.
“Die uitlek van onderhoudsvrae was nie moontlik nie aangesien die vrae op die dag van die onderhoud gesamentlik bepaal is. Daar moet verder kennis geneem word dat alle selfone gekonfiskeer is om lekkasies van inligting te vermy,” het sy gesê.
Lutombi het die hoogste punte van die kortlys-aansoekers behaal, gevolg deur Moses Matyayi, uitvoerende hoof van Otjiwarongo, en Eino Emvula, uitvoerende hoof van NamWater.