Ontevrede inwoners van Brakwater vra vir optrede

Ogone Tlhage
Die Windhoek-munisipaliteit is daarvan beskuldig dat hulle inwoners van die Brakwater-omgewing in die steek gelaat het en hulle basiese dienslewering geweier het, terwyl inwoners verplig is om vir tariewe en belasting soos enige ander inwoners te betaal, ten spyte daarvan dat dienste nie gelewer word nie.
Die inwoners van Brakwater het hul kommer tydens ’n gemeenskapsvergadering verlede week aan die burgemeester van Windhoek, Joseph Uapingene, en die munisipaliteit se nuut aangestelde uitvoerende hoof, Moses Matyayi, uitgelig.
Munispale amptenare is ook daarvan beskuldig dat hulle nog nie raadsbesluite van 1994 geïmplementeer het nie. Dit het glo tot gevolg gehad dat resolusies wat nie uitgevoer is nie die omgewing se ontwikkeling belemmer het.
“Verteenwoordigers van Brakwater het ’n studie van alle beskikbare Brakwater-verwante raadsbesluite onderneem en kon vasstel dat die meerderheid nie geïmplementeer is nie,” het die voorsitter van die Brakwater Belastingbetalersorganisasie, Bettina von Wielligh, gesê.
“Die verteenwoordigers het wanvoorstellings en misleidende inligting ontdek waarvolgens die raad óf mislei óf onvoldoende ingelig is. Hierdie jarelange misleiding het daartoe bygedra dat die Brakwater-gemeenskap as afvalliges (renegades) gebrandmerk word,” het sy bygevoeg.
'Pligte word versuim'
Amptenare is ook daarvan beskuldig dat hulle hul plig versuim het om rommel in die Brakwater-omgewing te verwyder, het Von Wielligh gesê.
“Die munisipaliteit sorg net vir rommelverwydering langs die A1-pad en die geteerde gedeelte van die D1941-pad. Die gemeenskap maak die strate en padskouers van alle ander munisipale arteriële en ander paaie skoon,” het sy gesê.
Nog ’n knelpunt vir dié groep is die Windhoekse stadspolisie se versuim om misdaad binne die gebied onder bedwang te bring, ondanks ’n aanbod van die inwoners om ’n mobiele polisiekantoor in dié gebied op te rig, sonder dat die munisipaliteit die koste hoef te dra.
“Dit is uiters betreurenswaardig dat die stadspolisie nie bereid is om die Brakwater-belastingbetalers se aanbod te aanvaar om te help om fasiliteite vir ’n satellietpolisiekantoor in die Brakwater-omgewing beskikbaar te stel nie,” het Von Wielligh gesê.
Volgens haar is inwoners onlangs aan rooftogte en persoonlike aanvalle blootgestel, waar misdadigers glo in Katutura se Mix Settlement gevestig is.
Die munisipaliteit het ook misluk om die padinfrastruktuur binne die gebied in stand te hou, anders as in ander dele van die stad wat die munisipaliteit diens.
“’n Program vir die hervul van die meerderheid van die arteriële grondpaaie in munisipale besit is in Januarie 2021 begin en is nooit voltooi nie. Byna al hierdie paaie is tot so ְֹ’n mate geskraap dat die rots blootgelê is en geen materiaal beskikbaar is om die paaie behoorlik te skraap nie. Hierdie paaie is op verskeie plekke tot 'n diepte van meer as 1 000 millimeter geskraap,” het Von Wielligh gesê.
Uapingene het ’n beroep op inwoners gedoen om geduldig te wees en gesê die munispaliteit werk daaraan om die inwoners se klagtes te takel.
“Kan julle ons ’n kans gee om terug te gaan en hierdie saak te ondersoek en dit stadig te takel, want daar is baie dinge, en ons kan dit nie binne ’n jaar of twee maande oplos nie, indien moontlik,” het Uapingene gesê.