Akademia se tweede honneursprogram in 2025 aangebied

Aldo Horn
Akademia se departement tale en kultuurwetenskappe het Maandag die nuus aangekondig dat dit vanaf 2025 die tersiëre onderriginstelling se tweede honneursprogram sal begin aanbied. Die? BAHons (Media en Kommunikasie) sal in Afrikaans via die voltydse kampusmodel by die Centurion-kampusse aangebied word.
Volgens departementshoof en programkoördineerder dr Alé Steyn, verteenwoordig die toevoeging van hierdie nagraadse program – 'n eerste vir die fakulteit én die departement – 'n spesiale hoogtepunt. Dit is die tweede program wat vanjaar in die departement bekendgestel word, nadat die voorgraadse BA (taalstudies)-program in April aangekondig is.
Steyn verduidelik dat die program studente sal toerus met teoretiese kennis en gevorderde praktiese en kritiese vaardighede om as waardige en aanpasbare media- en kommunikasiepraktisyns 'n kritiese rol in veranderende en uitdagende kontekste te speel. Studente sal voorts die geleentheid hê om te spesialiseer in Strategiese Kommunikasiebestuur of Joernalistiek.
Vaardighede wat in die program geleer word, sluit in digitale en datageletterdheid, die vermoë om doeltreffend te kommunikeer, multidissiplinêre samewerking, kritiese en sosio-emosionele vaardighede, asook die vermoë om komplekse inligting te verwerk, en 'n hoë kognitiewe werklading te bestuur.
Die tipiese beroepe wat gevolg kan word na die voltooiing van die program sluit in joernalistiek, mediabestuur, sosiale media, openbare skakeling, die advertensiewese, kommunikasiebestuur, die uitgewerswese, opvoedkunde, digitale media, navorsing en die openbare sektor.
“Gehalte opleiding vir media- en kommunikasiepraktisyns is nie 'n luukse nie, dit is 'n noodsaaklikheid,” meen Steyn.
Volgens prof. Danie Goosen, waarnemende dekaan van die fakulteit geesteswetenskappe, voldoen Akademia met die bekendstelling van hierdie nuwe honneursprogram aan 'n besondere behoefte onder studente. Hy voeg by dat die toevoeging ook 'n noodsaaklike stap verteenwoordig om uiteindelik die instelling se droom te verwesenlik om nagraadse kwalifikasies soos meesters- en doktorale grade in die fakulteit aan te bied.
Steyn sluit af deur te sê dat elke nuwe program wat bekendgestel word aan die instelling die geleentheid bied om 'n volgende generasie studente op hul loopbaanreis te begelei en hul groei en impak in die bedryf eerstehands te ervaar.
“Die departement het nog baie planne vir die toekoms en werk reeds volstoom aan nóg voorgraadse en nagraadse programme – onder meer 'n meestersgraad wat op die BAHons (Media en Kommunikasie) sal volg.”