Debatslypskool by Nictus-Napso Kuns- en Kultuurfees

Die hoë gehalte die slypskool voorspel dat Namibiese skole in 2025 'n hond uit 'n bos gaan praat, sê Nicolene Müller.
Aldo Horn
Wouter Niehaus, die uitvoerende bestuurder van die Namibiese Privaatskole Organisasie (Napso) het sy bedanking uit dié pos aangekondig tydens die Nictus-Napso Kultuurfees (NNKK) wat verlede week plaasgevind het.
Niehaus sal aan die einde van die jaar uit sy pos tree ná ses jaar se diens.
Oor sy tyd as uitvoerende bestuurder sê hy: “Dit was ses ongelooflike jare. As ’n mens kyk na waar [Napso] nou staan en hoe ek glo dit sal nog groter raak, was dit ’n eer en ’n voorreg om dit te kon doen.”
Verder vertel Niehaus van 11 byeenkomste wat jaarliks deur Napso aangebied moet word - elke keer in ’n ander dorp - en al die toerspanne in verskeie sportsoorte en kultuuritems wat elke jaar gekies word. “’n Mens kom op ’n punt waar jy besef nou raak dinge bietjie kwaai. ’n Mens se seisoen is verby en ek en haar [Charmaine Ras, die sekretaresse van Napso] se seisoen is verby.”
Niehaus en Ras se opvolgers is nog nie bekend gemaak nie.

Debatslypskool
AfriForum se Dink of Sink-span het verlede Donderdag ’n slypskool vir hoërskoolleerlinge by die Napso Nictus Kuns- en Kultuurfees by Laerskool Walvisbaai aangebied.
Die doel van die onvoorbereide debatompetisie is om debat in Afrikaans op hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder.
Altesaam 27 hoërskoolleerders en ses onderwysers van nege hoërskole het die slypskool bygewoon, naamlik Tsumeb Gimnasium, Gobabis Gimnasium, Moria Privaatskool, Elnatan Privaatskool, Windhoek Afrikaanse Privaatskool, Pro-Ed Akademie, Walvisbaai Privaatskool, Berg-op Akademie en Oranjemund Privaatskool.
“Die hoë gehalte van Donderdag se slypskool voorspel dat Namibiese skole in 2025 ’n hond uit ’n bos teen die Suid-Afrikaanse skole gaan praat,” het Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys, gesê.
Kultuurspan
Die oudisies vir die Napso-kultuurspan het ook op die drie dae-lange fees plaasgevind. Leerders van Napso-skole regoor die land het deelgeneem. Die name van die leerders sal mettertyd aangekondig word.