DHPS vier 115 jaar met basaar

"... dit [was] 'n besonderse en suksesvolle basaar danksy al die betrokkenes se moeite en insette." - Tina Crüys
Zoe Karsten
“Dankie vir 115 jaar van DHPS.”
Dit was die tema van vanjaar se Duitse Hoër Privaatskool (DHPS) basaar, wat verlede week op die skoolterrein in die hoofstad plaasgevind het.
Volgens die skool se bemarkingsbeampte, Tina Crüys “was die tema alomteenwoordig. Dit kon gevoel, gesien en ervaar word.”
Hierdie jaarlikse geleentheid was soos altyd 'n gesamentlike poging deur die skoolgemeenskap, leerders, onderwysers en ouers. Daar was baie pret op die program, so ook allerlei speletjies wat by ‘n basaar verwag kan word. Daar was ook rondomtalie-swaaie, kussinggevegte, veerpyltjies en ‘n tombola-tafel. Die lekkernye was nie te versmaai nie en by die verskeidenheid heerlike eetgoed- en koektafels het besoekers van alle ouderdomme lank gekuier.
Die vlooimark en die boekkestalletjie wat gebars het van voorraad, was ewe gewild.
Crüys bedank almal vir hulle ruim skenkings en beaam “dat spanwerk werklik vrugte afwerp”.
Anotilda Gwasira, ‘n lid van die DHPresS-redaksiespan het by navraag bygevoeg dat “’n hoogtepunt vir my en iets wat in besonder uitgestaan het, die borrelsokker was. Mense het in groot getalle deelgeneem en dit was baie lekker om te kyk hoe mense in borrels sokker speel!”
‘n Verdere hoogtepunt was die basaarvertoning, waarin die musiek-, dans-, sport- en akrobatiese talente van die leerders die middelpunt van belangstelling was.
Vanjaar se geleentheid was weer gekenmerk deur 'n onmiskenbare ontspanne atmosfeer.
Crüys sê dat “ten spyte van die hoeveelheid werk wat in die voorbereiding en organisering van die basaar gegaan het, was daar 'n wonderlike gees wat tot laat in die nag geheers het”.
Nadat die stalletjies opgepak is, was die partytjie nog lank nie verby nie met Yola B en die ÖK Beans wat tot laatnag die stemming gestel het met hul polsende musiek.
"Alles in ag geneem was dit ‘n besonderse en suksesvolle basaar danksy al die betrokkenes se moeite en insette," het Crüys afgesluit.