Die krag van die jeug: Hoe leerlinge gemeenskapsdiens vorm en inspireer

Casey Jacobs
Die matrieks van die Privaatskool Keetmanshoop is elke jaar verantwoordelik om tien ure se gemeenskapsdiens te doen.
Leerders kon self besluit of hulle dit op hulle eie of as ’n klas wil aanpak.
Die gemeenskapsdiens toets kinders se sosiale vaardighede en versterk selfs hul akademiese vermoëns, en die grootste pluspunt is dat hulle in hul gemeenskap kan terugploeg.
KPS se matrieks van 2024 het vanjaar ’n muntlegging gehou wat ’n noodsaaklike finansiële bydrae gemaak het tot ’n seun met beenkanker. Hulle het strikkies verkoop en ander skole aangemoedig om dieselfde te doen.
Leerders wat braaf genoeg was, het gaan bloed skenk by die mobiele kliniek, terwyl ander hul vriende vir ondersteuning bygestaan het.
Die matrieks wou ook bydra tot die omgewing en dus het hulle ’n kompetisie gehou waar die graad 10 tot 12 leerders uitgedaag is om te sien wie die meeste rommel kon optel. Die klas wat die meeste sakke bymekaar gemaak het, het ’n prys gewen. Hulle het dus ’n gemeenskapdiens in ’n lekker geleentheid omskep.
Die graad 10 tot 12 leerders het ook die Mnr. en Mej. KPS as ’n geleentheid gebruik om ure op te maak.
Sommige leerlinge het by die DBV honde gebad en hokke gewas, met die diere gaan stap en hulle met hondekoekies bederf. Party honde was gelukkig genoeg om aangeneem te word deur van die KPS leerders en het só hul “forever home” gekry.
Die kinders het ook hul kombuisvaardighede gebruik om sop vir minderbevooregtes te maak. Hulle het lang ure in die koshuis se kombuis spandeer en ’n paar trane is gestort met die skil van uie. Die sop is afgelewer en die kinders het dit baie geniet.
Gemeenskapsdiens is ’n waardevolle ervaring vir leerlinge, nie net omdat dit hulle in staat stel om praktiese lewensvaardighede te ontwikkel nie, maar ook omdat dit ’n sin van verantwoordelikheid en empatie bevorder. Deur aktief betrokke te wees in hul gemeenskappe, leer skoliere die waarde van samewerking en diens aan ander, wat hulle om die beurt help om meer goedhartige en bewuste landsburgers te word.
Hierdie bydraes is van onskatbare waarde en word hoog aangeslaan deur die gemeenskap, wat dikwels die positiewe impak van die jongmense se pogings erken en waardeer. Die ervaring van gemeenskapsdiens vorm dus nie net die leerlinge se karakter nie, maar versterk ook die gemeenskap as geheel.