Die NamBTS se bloed buddies

Zoë Karsten
Tydens die jaarlikse toekennings van die Namibiese Bloedoortappingsdiens (NamBTS) het skoliere, studente en besighede sertifikate ontvang vir skenkings en bewusmaking wat die afgelope jaar gedoen is.
In haar toespraak, het dr. Mary Brantuo, gesondheidstelseladviseur van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), gesê dat Wêreldbloedskenkersdag nie bloot 'n datum op die kalender nie. "Dit is 'n viering van onbaatsugtigheid, empatie en maatskaplike verantwoordelikheid.”
Brantuo het ook haar dank uitgespreek teenoor bloed-, plasma- en bloedplaatjieskenkers regoor Afrika en die res van wêreld. "Die 20ste herdenking is gepas om oor prestasies te vier, uitdagings aan te spreek en 'n toekoms voor te stel waar veilige bloedoortappings universeel toeganklik is."
NamBTS se bemarkings- en skenkingskoördineerder Titus Shivute het gesê die toekennings is daarop gemik om erkenning te gee aan individue vir hul waardevolle diens. Die toekennings dien ook as motivering.
Die volgende Windhoek skole het toekennings ontvang:
Goud – Delta Sekondêre Skool Windhoek
Silwer – Windhoek Tegniese Hoërskool (HTS)
Brons – Deutsche Höhere Privatschule (DHPS)
Skole van ander streke:
Goud – Etosha Sekondêre Skool
Silwer – Otjiwarongo Sekondêre Skool
Brons – PK De Villiers Sekondêre Skool
Die volgende tersiêre instansies:
Goud - Namibiese Instituut vir Mynboutegnologie (NIMT) Tsumeb-kampus
Silwer - Namibiese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (NUST)
Brons – Universiteit van Namibië (UNAM) hoof-kampus
Ter afsluiting het NamBTS se bestuurder, Christa Gouws, haar dank as volg betuig: “Wat 'n eer en 'n plesier om vanaand dankie te sê. Dankie vir elkeen se bydrae. Ons is so trots om toekennings te gee aan mense wat ons bystaan; van skole tot universiteite en selfs winkelsentrums."
Tydens ’n onderhoud met My Zone, het Liliana Babtista, ’n lid van die redaksiespan van Windhoek Tegniese Hoërskool (HTS), gesê: “Ons skool is trots om vanaand ’n toekenning te ontvang. Dit is wonderlik om te sien dat daar soveel ander skole is wat ook die belangrikheid van bloedskenking bevorder. Wees ’n bloed "buddy" en help red lewens!”
Joan de Klerk, ’n leerling van Dr. Lemmer Hoërskool, het aangesluit: “Dit is regtig ’n plesier om te kan bloed skenk, want deur bloed te skenk kan jy ’n verskil maak.”