Gimmies vang gees

Noa Bartholomae
Hierdie jaar net voor Privaatskolenaweek (PSW) het ons by Tsumeb Gimnasium besluit om ’n Geesweek te hou. Die idee wat vanjaar vir die eerste keer geïmplementeer is, is deur van die leerders self voorgestel. Dit het in die drie dae voor die PSW begin en elke dag met ’n ander tema om gees te bou.
Ons het drie oulike temas gehad.
Die eerste dag was “rym sonder rede”. Elke leerder kon besluit om met ’n vriend of ’n groep vriende te rym. Daar was ’n verskeidenheid interessante groepe. "English Teacher and Swamp Creature", "Toffee & Coffee", "Light & Knight" was maar net ’n paar van ons skoliere se unieke idees. Die hele dag was skreeusnaaks en dit was wonderlik om te sien hoe kreatief die leerders geraak het met hulle konsepte.
Die tweede dag was “ons bloed is maroen”. Die idee was om skooltrots te bou. Aangesien ons skoolkleur maroen is, wou ons hê dat elke leerder die geleentheid kry om enige maroen klere aan te trek. Die moontlihede was oneindig - solank dit maroen is, mag jy dit aantrek. Die kreatiewe kant van ons leerders het natuurlik weer geskitter - daar was dasse, rugbytruie, strikkies en byne elke leerder het hulle gees gewys deur maroen gesigverf te kry!
Die laaste dag was “alles behalwe skoolskoene”. Skoliere het die geleentheid gehad om enige skoene saam met hulle skooldrag te dra. Slippers, tekkies, Crocs en
meer is aangetrek.
Goeie gees is ’n belangrike komponent van die PSN. ’n Geesweek was die perfekte manier om almal opgewonde te maak en lekker gees onder die leerders te bou.