Gobabis Gymnasium verelkom nuwe Gimmies

Githe Derks
Vanjaar het Gobabis Gymnasium nege nuwe personeellede verwelkom. Van hoërskool tot laerskool is ons opgewonde oor die nuwe personeellede wat by ons aansluit. Om hulle beter te leer ken en om duidelikheid te kry oor waarom hulle juis dié skool gekies het, het ons ‘n paar vrae aan hulle gestel.
Vraag: Juffrou Chané, wou juffrou nog altyd ‘n onderwyser word?
Antwoord: In my hart wou ek nog altyd skoolgegee het, maar ek het teen dit gestry totdat ek besef het jou ware passie en liefde moet seëvier.
Vraag: Juffrou Alushke, wat is juffrou se hoofdoel as onderwyser?
Antwoord: Ek wil graag kinders help ontwikkel – fisiek, emosioneel en geestelik. Ek wil ook graag ‘n verskil maak in kinders se lewens, hulle motiveer en aanmoedig om alles voluit te doen.
Vraag: Meneer Abri, waarom het meneer Gobabis Gymnasium gekies?
Antwoord: Oor die goeie reputasie van die skool, die oulike kinders en onderwysers hier, asook die lekker plattelandse leefstyl.
Vraag: Juffrou Carla, wat was juffrou se gunstelingvak op skool en hoekom?
Antwoord: Engels. Ons het ‘n vreeslike oulike juffrou gehad en sy het baie moeite gedoen om dit vir ons interessant te maak. Selfs spelreëls was lekker om te leer.

Alhoewel verskeie van hierdie nuwelinge nog altyd onderwysers wou word, was dit nie vir mnr. P. R. Ackermann (graad 11 en 12 fisika (AS) en chemie) en mnr. Abrie Brink (graad 8 en 9 tegniese studies; graad 10 metaalwerk and sweis; graad 10 en 11 besigheidstudies; graad 8 geografie) die geval nie, maar steeds het die skool se reputasie vir homself gepraat en die plattelandse atmosfeer het tog daarin geslaag om almal nader te lok. Verder is juf. Karlien Visser (graad 4 tot 7 wiskunde), juf. Anhia Swart (graad 1-klasonderwyseres) en juf. Chané Kotze (graad 8 en 9 Afrikaans) almal oudleerlinge van Gobabis Gymnasium en beskryf hulle terugkeer as ‘n “volsirkel-oomblik”. Gobabis Gymnasium het sekuriteit en standvastigheid vir verskeie kinders in hul vormingsjare gebied en dit is ‘n beweging waarvan hierdie jong onderwysers wil deel wees. Vanuit juf. Carla Smit (graad 2-klasonderwyseres) en juf. Surene van Tonder (graad 5 tot 7 ontwerp en tegnologie; graad 5 tot 7 sosiale studies; graad 6 wetenskap) se antwoorde is dit duidelik dat ‘n kind se gunstelingvak grootliks afhang van die onderwyser wat hierdie vak aanbied. Dit is dus hierdie onderwysers se vooruitsig om deel te wees van die kinders se lewens en by te dra tot hul groei en ontwikkeling. Ons hoop terdeë dat die skool en kinders aan die nuwelinge se verwagtinge sal voldoen.